Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier
Wannie wil dien Donderdag | 04 November | 2021

Het Wannie Scribante en CJ Langenhoven iets in gemeen? Wie is Wannie as hy by die huis is? En weet Wannie iets van konyne grootmaak? Eunice Visagie het meer gaan uitvind oor TLU SA se onbetwiste Adjunk-President en beantwoord al dié tergende vrae!

Wannie Scribante is sedert 1992 lid van TLU SA by De Wildt Boerevereniging. In 1995 is hy tot adjunk-voorsitter en in 1996 tot voorsitter van De Wildt Boerevereniging verkies. In 2009 is hy verkies tot streekvoorsitter van die Sentraalstreek van TLU SA en het in die posisie gedien tot 2020 toe hy as TLU SA se adjunk-president verkies is.

Om te dien

Volgens Scribante gaan dit vir hom oor om te dien. “Ek is grootgemaak met die idee om te dien en ander eerste te stel. Groei is ook belangrik. Mens moet groei in ’n organisasie om ’n idee van die hartklop en visie te hê.”

Sedert kindsbeen ken Scribante CJ Langenhoven se leuse wat lui: “As iets die moeite werd is om te doen, is dit die moeite werd om dit goed te doen.” Volgens Scribante slaag hy nou wel nie altyd in dié doelwit nie, maar bly dit waarna hy strewe.

Landbou, boerdery, die mense van Suid-Afrika

Dit alles lê Scribante naby die hart.

“Landou is ’n baie unieke sektor van die land se ekonomie. Eerstens is primêre landbou slegs prysnemers wat min invloed op die prys van produkte kan uitoefen. Aan die ander kant het ons weer amper geen invloed op ons insetpryse nie. Tweedens is die landbou geweldig divers en is die kennis nodig vir suksesvolle produksie baie wyd. Nog ’n faktor in die uniekheid van landbou is dat eiendom ’n noodsaaklike produksiemiddel is, maar ons word daarop belas.

“Ons as Suid Afrikaners, maar by uitstek landbouers is vasbyters wat tot nog toe deur die genade altyd bo uitgekom het. Deur innovasie en kreatiewe denke, maar ook ons geloof, word ons as die beste boere ter wêreld geag. Ook op vele ander terreine word ons as Suid Afrikaners gereken as van die beste in die wêreld. Vir hulle wil ek sê: Doen so voort!”

Dit bring my by nog ’n Scribante-passie.

Die ekonomie

“Ons grootste uitdaging is nie armoede nie, maar eerder hoe om dit aan te spreek. Dit kan slegs gebeur deur ekonomiese groei. Dit help nie om die koek in kleiner stukkies te sny nie, die koek moet groter. Dan sal elkeen genoeg kan kry. ’n Ekonomie word gemeet aan sy BBP (Bruto Binnelandse Produk). Die ekonomie kan dus net groei deur die BBP te vergroot.”

Scribante beywer hom vir geleenthede vir Suid-Afrikaners om uit te styg bo die ekonomiese gesukkel. “Staan op vir dit wat reg is en bou.”

Dit is ’n geval van spreek tot die mens en nie die uitdaging nie. Scribante glo vas dat verandering sal kom van ’n beter selfbeeld en ’n gevoel van ek het wel iets verander of verbeter. “Gee mense iets om voor te leef.”

Volgens Scribante weeg TLU SA elke beleid of aksie daaraan of dit ekonomies sin maak.

“Ons word oorweldig met berade, werkswinkels en dies meer waaraan ons moet deelneem en insette gee. Ons meet alle besluite en voorstelle aan die ekonomiese implikasies, en word daarom dikwels gesien as diegene wat gekant is teen verandering. Dit is egter nie wat ons wil doen nie! Dit is belangrik om met ’n positiewe alternatief vorendag te kom. Ons sal nooit net negatief wees en afkraak nie. Die kuns is om die nadelige- en onbedoelde gevolge van beleide of voorstelle te identifiseer en dit positief te swaai. Deesdae begin al hoe meer mense ons standpunte insien en hulself daarmee vereenselwig. Ek glo dit is hoe ons in moeilike en vyandige omstandighede wel ’n groot verskil maak.”

Wie is Wannie as hy by die huis saam met sy familie is?

“Ek is ’n doodgewone ou wat lief is vir die natuur en buitelewe. Ek hou nie van voorgee nie en is altyd reg vir ’n grappie of twee. Ek is redelik familievas en probeer ons erfgoed en geskiedenis bewaar. Ek is skeppend en jy sal my gereeld in my werkswinkel kry waar ek iets bou, verbeter of restoureer. Ek en my vrou is 4×4-entoesiaste. Ons het voorheen gereeld aan kompetisies deelgeneem, maar deesdae gebruik ek my 4×4 voertuie om te werk en veral te toer na ongerepte dele van ons land.”

As hy oor sy liefde vir landbou praat, dink Scribante aan die woorde van een van sy ingenieurswese dosente toe hy dié dosent eendag in ’n koöperasie raakloop.

“Toe ek vra wat hy daar doen, was sy antwoord dat daar net twee soorte Afrikaners is: Die wat boer en die wat wíl boer!

“Ek het op ’n plaas groot geword. Van ek kan onthou het ek diere aangehou en was dit my verantwoordelikheid om hulle te versorg. Dit het begin by ’n hondjie, konyne en duiwe en toe later met ’n eie perd en beeste. Ek het ook ’n groentetuintjie langs my pa-hulle s’n gehad waar ek gewerskaf het. Ofskoon ek my as metallurgiese ingenieur bekwaam het, was ek nog altyd maar ’n boer en onlosmaaklik verknog aan die grond en die leefwyse.”