Prediker 2:25 stel ’n eenvoudige, maar groot waarheid: “Want wie kan eet en wie kan geniet sonder Hom?” Hierdie vraag sny deur tyd, ekonomieë en politieke stelsels. Dit herinner ons daaraan dat geen mens, geen bedryf en geen samelewing werklik kan floreer sonder die bron van alles nie. Vir landbouers is hierdie waarheid nie ’n abstrakte teologiese konsep nie, maar ’n daaglikse werklikheid wat in elke produksiesiklus beleef word.
Elke boer weet: groei kan nie afgedwing word nie. Dit kan nie deur menslike beplanning alleen geskep word nie en dit kan nie deur beleid, kapitaal of tegnologie gewaarborg word nie. Die mens kan voorberei, plant, bewerk en versorg, maar uiteindelik bly groei ’n genadedaad – die mens kan plant, maar dit is God wat laat groei. Sonder reën op die regte tyd, sonder sonlig, sonder die wonder van ’n lewende bodem (alles deur God daargestel), is al ons moeite tevergeefs.
Landbou is daarom een van die mees tasbare getuienisse van God se voorsienigheid in sy skepping. In hierdie natuuromgewing word daar altyd na balans gestrewe. Die mens is in beheer gestel om te heers oor die Skepping en juis dit bring ’n groot verantwoordelikheid vir ons elkeen mee.
God het in sy wysheid die skepping só ingerig dat die mens die aarde kan benut, maar nooit mag misbruik nie. Die samewerking tussen grond, water en energie – veral die son – is ’n stille, maar kragtige proses wat voedsel voortbring. Hierdie voedsel is nie bloot ’n verbruiksproduk nie; dit is die bron van menslike krag, arbeid, denke en uiteindelik ekonomiese aktiwiteit. Sonder voedsel is daar geen werkers, geen entrepreneurs, geen onderwysers en geen gemeenskappe nie.
Hier lê die kernwaarheid wat dikwels in moderne ekonomiese gesprekke misgekyk word: Die produsent is die vertrekpunt van ’n funksionerende ekonomie en ’n gesonde gemeenskapslewe. Voor daar verwerkingsaanlegte, markte, uitvoere en verbruikers is, moet daar eers iemand wees wat saad in die grond plaas en bereid is om risiko te dra. Landbouers produseer nie net kos nie; hulle lê die fondament waarop die res van die samelewing bou.
Tog leef ons in ’n tyd waar groei dikwels eng verstaan word. Groei word gemeet in bruto binnelandse produk, aandeelpryse of korttermynwins. Hierdie tipe groei is belangrik, maar dit is onvolledig. Ware groei moet omvattend wees: ekonomies, sosiaal, moreel en geestelik. Wanneer groei losgemaak word van waardes en geloof, raak dit broos en selfvernietigend.
Landbou leer ons juis hierdie les. Grond wat net ontgin word sonder om opgebou te word, raak uitgeput. ’n Produksiesisteem wat net neem en nie herstel nie, stort uiteindelik in duie. Dieselfde geld vir ’n samelewing. Sonder geestelike groei, sonder nederigheid, dankbaarheid en afhanklikheid van God raak ons strukture leeg en ons vooruitgang hol.
Daarom is groei in geloof die belangrikste vorm van groei. Geloof herinner ons daaraan dat ons nie die middelpunt van alles is nie. Dit leer ons om te saai met hoop, te werk met verantwoordelikheid en te leef met dankbaarheid. In tye van droogte, siekte of ekonomiese druk is dit geloof wat volharding moontlik maak. Dit is geloof wat die landbouer weer laat opstaan, weer laat plant en weer laat glo dat môre beter kan wees.
Prediker se woorde daag ons uit om eerlik te vra: Wie gee ons werklik die vermoë om te eet en te geniet? As ons erken dat dit uiteindelik van God kom, verander dit ons perspektief op werk, op ekonomie en op gemeenskap. Dan besef ons dat vooruitgang nie net iets is wat ons bewerkstellig nie, maar iets wat ons ontvang en verantwoordelik moet bestuur.
In ’n land wat worstel met onsekerheid, strukturele probleme en ekonomiese druk, is hierdie besef van kardinale belang. Die pad vorentoe lê nie net in beter beleid of groter beleggings nie, maar in ’n hernude waardering vir die basiese waarhede van die lewe: dat groei ’n gawe is, dat voedsel lewe moontlik maak, en dat geloof rigting gee.
Soos in die landbou, so ook in die lewe: Alles begin by die Ewige Koning. Sonder Hom kan niemand werklik eet of geniet nie. Wanneer ons dus praat oor “Boer tot bord” moet die kernboodskap daarin altyd raakgesien word, naamlik ons absolute afhanklikheid van God Drie-enig.
Hierdie meningstuk het op 6 Februarie 2026 in Pretoria FM se e-koerant, Nuusweek, verskyn.



