Weeklikse nuusoorsig 31 Oktober 2019 Donderdag | 31 Oktober | 2019

1. Landbou trek weer eens aan korste end gedurende mini-Begroting – TLU SA
Hoewel die droogte landbouers regoor die land in ‘n wurggreep het, het die minister van finansies, Tito Mboweni, tydens sy mini-begroting geen reddingsboei vir die boere wat voedsel op die land se tafels sit, gegee nie.
“Soos verwag is landbouers steeds op hulleself aangewese,” sê mnr. Louis Meintjies, die president van TLU  SA. “Maar Eskom, ‘n staatsentiteit, wat reeds soveel hulp ontvang het en steeds besig is om te sink, kry alweer ‘n hupstoot. Eskom is inderdaad ‘n knelpunt, maar die probleem is dat die fondse in ‘n nimmereindigende put van korrupsie en wanbesteding gestort word.”
Mnr Mboweni koester mooi gedagtes maar dinge soos swart ekonomiese bemagtiging, ‘n beleidsomgewing wat dit baie moeilik maak om besigheid te bevorder en ‘n gebrek aan vertroue in die ekonomie is byna onoorkombare struikelblokke.
Besparing in die staatsdiens was een van die grootste oplossings wat deur Mboweni aangekondig is. Maar die geskiedenis het ons reeds gewys dat die ANC se alliansievennoot Cosatu sulke voorstelle nie goedsmoeds steun nie.
“Suid-Afrika benodig ‘n gesonde beleidsomgewing wat klinkklaar uitstippel waarheen ons op pad is en wat vertroue sal inboesem,” sê mnr. Meintjies. “Nie ‘n vae onseker omgewing waar daar aan die eenkant aspekte soos SEB en onteiening sonder vergoeding gekoester word, terwyl daar aan die anderkant uitkomste verwag en ‘gewens’ word wat afhanklik is van ‘n gesonde beleidsomgewing nie.”

Lees gerus ook https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/mini-begroting-geen-hulp-vir-boere/

2. Wrede werklikheid van werkloosheid aangespreek

Die wrede werklikheid van werkloosheid is oral om ons. Nou het ons egter ’n kans om ’n verskil te maak in ons land.

Die Hervormde Kerk is, saam met ’n aantal ander kerke en geloofsgebaseerde organisasies, nou al ’n paar jaar lank betrokke by die werk van die Motsepe-stigting. Op 24 Oktober 2019 het die Motsepe-stigting saam met 33 kerke en geloofsgebaseerde organisasies ’n nuwe fonds bekendgestel om werkloosheid te takel: die Motsepe Foundation and religious and faith-based organisations R100m job creation, skills and training fund.

Ja, dis ’n lang naam. Maar dit is almal wat daarby betrokke is se droom om by wyse van hierdie fonds hoop te ontsluit vir duisende arm, werklose Suid-Afrikaners wat van die ekonomie en gemeenskap uitgesluit voel.

Die Motsepe-stigting verstaan dat daar geleenthede in die ekonomie is om werk te skep, maar dat baie daarvan aanvangskapitaal nodig het. Daarom skenk die Motsepe-stigting R100 miljoen, terwyl hulle ’n beroep doen op ander maatskappye, donateurs en individue om verder tot die fonds by te dra.

Die kerke se primêre taak is om die Woord van God te verkondig en voorbidding te doen vir ons land, maar gelowiges verstaan ook dat hulle God se liefde vir mense prakties gestalte moet laat kry deur daadwerklik ’n verskil aan mense se lewensomstandighede te maak.

En mense in nood weet dat hulle wel nóú heel eerste kos op die tafel wil hê, maar dat hulle nie vir ewig van aalmoese afhanklik wil wees nie. Hulle soek na werkgeleenthede wat ’n volhoubare inkomste kan verseker, en werktrots en waardigheid daarmee saam. Lees verder hier.

3. Die moderne mens en die antieke geskiedenis van Botswana

Die ontdekking deur wetenskaplikes dat die oorspronklike moderne mens se oorspronklike tuisland in Botswana was, is nou internasionaal groot nuus. Die gebied, waar die Makgadikgadi-soutpanne vandag is, was egter al ongeveer 2 miljoen gelede ’n hoogs interessante gebied met ’n reuse meer, gevoed deur riviere wat vandag in verskillende rigtings in oseane uitmond.

Herman Toerien het na hierdie pre-historiese geskiedenis gaan ondersoek instel.  

Die verhaal wat nou oor die plek van herkoms van die moderne mens (Homo sapiens) ontvou, maak maar ’n fraksie uit van die pre-histopriese geskiedenis van die gebied, nou bekend as die Makgadikgadi in die noorde van Botswana. Dit bestaan nou meestal uit soutpanne, maar tussen sowat 2 miljoen jaar gelede en 10 000 jaar gelede was daar ’n reuse meer van tussen 80 000 en 275 000 vierkante kilometer groot. Sommige bronne verwys na dié prehistoriese watermassa as ’n oer-binnelandse see.

Hoewel die reënval by tye veel hoër was as nou, het die oorspronklike water van die Kunenerivier gekom, wie se loop later so verander het dat die water nou na die Atlantiese Oseaan vloei, die Okavango, die boloop van die Zambezi en die Cuando-riviere.  Hulle het almal in dié meer uitgeloop. Die Okavango loop steeds in die Okavango-moeras in die vorm van ’n delta uit, wat eens die buiterand van die Makgadikgadi uitgemaak het.* Die meer self was sowat 30 meter diep.

Die moderne mens was slegs sowat die laaste 200 000 jaar ’n inwoner van die gebied.

Sedert die meer ongeveer 20 000 jaar gelede begin oorloop het en na die Zambezi begin dreineer het, het die meer ook geleidelik begin opdroog. Die meer is egter ook geleidelik deur slik van die Okavango en waaisand gevul.

Die mense van die gebied het egter reeds sowat 130 000 jaar gelede begin migreer, en die groot migrasie het tot ongeveer 110 000 jaar gelede geduur.

  • Die verskynsel van riviere wat hul loop so drasties verander het is nie uniek aan Botswana nie. Ook die Oranjerivier se loop het oor die jare verander. Hy het aanvanklik veel verder suid uitgemond, wat verklaar hoe daar spoeldiamante suid van die huidige monding by Oranjemund gevind kan word. Die Benguelastroom vloei van suid na noord. Die Sishen-Saldanhaspoor is in die oerloop van die Oranje gebou, wat die nodigheid van werk met dwarsliggende berge en ander hindernisse grootliks uitgeskakel het.
  • Die Kongorivier het voor kontinentale drywing by die Amasone-rivier aangesluit, en dié reuse rivier het in die teenswoordige Peru in die see gevloei. Weens kontinentale drywing is die Andesgebergte gevorm, en die oerrivier se vloei weswaarts gestop. Met die ontstaan van die Atlantiese Oseaan is die verbinding tussen die Congo en die Amasone verbreek, en die Amasone het sy vloeirigting heeltemal omgekeer.
  • Sowat 20 000 jaar gelede het die Makgadikgadimeer sy kapasiteit bereik, en die water het die laagste roete vir ’n uitlaat gevolg. Dit was in die noord-ooste en so het die boloop en die onderste loop van die Zambezi by mekaar aangesluit en het die meer se water ook in die Indiese Oseaan gedreineer. Voor die meer gevorm het, het hierdie binnelandse riviere in die Limpopo gedreineer.

Lees meer in Wikipedia hier wat reeds die nuutste inligting bevat.

AFP  https://www.google.co.za/search?q=map+ancient+Makgadikgadi&tbm=isch&source=hp&sa=X&ved=2ahUKEwjXnonoqsPlAhXcSxUIHQc3CxcQ7Al6BAgGECQ&biw=1148&bih=642#imgrc=aKQXgGtes36mBM:

Planet Boabab   hier

Bydraes RSG se program, Hoe verklaar jy dit?

https://newatlas.com/science/dna-study-human-homeland-southern-african-wetland/

4. President ontwyk vrae oor daadwerklike hulp soos tariefbeskerming aan boere

Wouter Wessels, VF Plus-LPW en hoofwoordvoerder: Finansies

Vrae van die VF Plus aan pres. Cyril Ramaphosa oor daadwerklike en onmiddellike hulp aan boere soos tariefbeskerming, het ‘n vae en ontwykende antwoord ontlok wat geen vertroue inboesem oor die regering se begrip vir die erns van die krisis waarin landbouers verkeer nie.

Die VF Plus het die vraag oor hulp aan boere gevra aan die hand van die ekonomiese groeiplan van mnr. Tito Mboweni, minister van finansies, waarin die landbousektor geïdentifiseer word as ‘n prioriteit vir arbeidintensiewe ekonomiese groei.

Die vraag aan die president was of hy te midde van die heersende droogte, hoë insetkoste en die toenemende werklikheid van bankrotskap onder kommersiële boere, tariefbeskerming sal oorweeg as daadwerklike hulp om landbou te ondersteun. Die tyd het aangebreek vir ʼn mate van tariefbeskerming op sekere ingevoerde landbouprodukte.

Lees verder https://www.vfplus.org.za/nuutste-nuus/president-ontwyk-vrae-oor-daadwerklike-hulp-soos-tariefbeskerming-aan-boere

 5. Nog kankeraansprake lyk belowend

Verskeie soorte kanker, waaronder ’n paar soorte leukemie, is reeds ten volle geneesbaar. Van die nuwe middels, soos vir sommige soorte melanoom, is die teenmiddel nog besonder duur, en is mediese fondse se bereidwilligheid om te betaal vir middels wat ongeveer R1 miljoen per dosis kos en waarskynlik drie dosisse nodig gaan wees, ‘n groter probleem as die kanker self.

Vindingrykheid is dikwels die kenmerk van nuwe, belowende middels wat ondersoek word, en reeds belowende resultate oplewer.

In hierdie artikel vertel die navorser, Andy Tay van ’n belowende middel. Tay het nanno-partikels ontwikkel wat 10 000 keer kleiner as ’n ryskorrel is, en wat  in staat is om DNS, bekend as die T-selle, in wit bloedselle “af te lewer.” Die T-selle is die soldate teen kankerdraende selle, maar die T-selle herken nie altyd die kankerselle as iets wat die persoon se gesondheid bedreig nie.

Met die DNS in die nannopartikels word die T-selle in super-T-selle omskep, en is die kankerselle veel meer blootgestel om herken, en aangeval te word.

Ten spyte van baie jare se navorsing sterf nog baie mense aan kanker, en in 2018 was dit na raming ongeveer 10 miljoen mense wat aan dié siekte gesterf het. Die koste hieraan verbonde was na raming sowat $1,2 biljoen (Amerikaanse triljoen).

Tay bestudeer ook ‘n ander wyse waarop kanker beveg kan word, naamlik om ‘n ander DNS in T-selle “af te laai” wat die selle bemagtig om vinnig die stryd teen die kankerselle aan te pak – vinniger as wat die kankerselle kan muteer.

Lees gerus die volledige artikel by https://theconversation.com/super-soldier-t-cells-fight-cancer-better-after-a-transformational-dna-delivery-125345?utm_medium=email&utm_campaign=Latest%20from%20The%20Conversation%20for%20October%2030%202019%20-%201448513720&utm_content=Latest%20from%20The%20Conversation%20for%20October%2030%202019%20-%201448513720+Version+B+CID_87ea6123c65c0a824d0154445a93db0b&utm_source=campaign_monitor_us&utm_term=A%20new%20twist%20on%20cancer%20research

Ruimtenuus

6. Ruimtebotsing en skielike ystyd 12 800 jaar gelede

Is die skielike ystyd 12 800 jaar gelede, toe die klimaat in dele van die noordelike halfrond binne enkele jare plek-plek met tot 14 grade F gedaal het, te wyte aan ‘n botsings tussen die aarde en ’n reuse voorwerp uit die buitenste ruimte?

Uit yslae in Groenland kan afgelei word dat dié kouer tyd tot 1 400 jaar lank kon geduur het. Dit staan as die Jonger Dryas bekend.

Bewyse dat die afkoeling gevolg het op ’n brok van ‘n hemelliggaam wat op die aarde geval het, is besig om toe te neem. Daar word veral in mere en die see aanduidings gevind van lae wat dui op brandende materiaal, en die aanduidings is dat tien persent van die aarde se woude en grasvelde destyds deur brande vernietig is. Die rook sou die sonlig afgeskerm het, en die temperatuur laat daal het.

Dié ramp sou verskeie spesies laat uitsterf het, veral mega-fauna soos die mammoete en mastodons. Altesaam 35 genera dierelewe in Noord-Amerika is uitgewis. Dit lyk ook of baie mense die lewe gelaat het, met veral die Clovis-kultuur wat grootliks uitgewis is. Clovis is veral bekend omdat Amerikaanse argeoloë lank gemeen het hulle was die eerste mense in die Amerika’s, en het sowat 13 000 jaar gelede uit Siberië in Noord-Amerika aangekom. Die meeste argeoloë glo nou die eerste mense het sowat 20 000 jaar gelede die Nuwe Wêreld bereik.

Dié ramp kan nie vergelyk word met die impak van ’n reuse voorwerp wat sowat 65 miljoen jaar gelede op die aarde geval het, en wat tot die uitwissing van die dinosourusse gelei het nie. In die afloop van hierdie ramp is driekwart van die lewe op aarde uitgewis. Die proses het jare geneem om voltrek te word.

Nuwe navorsing dui daarop dat die see na die botsing te suur geword het vir baie van die seelewe om te oorleef.

http://www.astronomy.com/news/2019/10/colliding-space-rocks-may-have-recently-changed-earths-climate

https://theconversation.com/new-evidence-that-an-extraterrestrial-collision-12-800-years-ago-triggered-an-abrupt-climate-change-for-earth-118244?utm_medium=email&utm_campaign=Latest%20from%20The%20Conversation%20for%20October%2025%202019%20-%201445013686&utm_content=Latest%20from%20The%20Conversation%20for%20October%2025%202019%20-%201445013686+Version+A+CID_3b573e6daa222cf53b28204c274d3bec&utm_source=campaign_monitor_us&utm_term=New%20evidence%20that%20an%20extraterrestrial%20collision%2012800%20years%20ago%20triggered%20an%20abrupt%20climate%20change%20for%20Earth

https://newatlas.com/science/dinosaur-killing-asteroid-ocean-acidification/

7. Maankarretjie gaan in 2022 yswater op die maan soek

As deel van die omvangryke projek Artemis vir nuwe bemande maansendings word omvattende toetse nou op ’n maankarretjie gedoen om teen die einde van 2022 na veryste water op die maan se suidpool te gaan soek. Die karretjie, bekend as Viper, is so groot soos ’n gholfkarretjie. ’n Behoorlike bron van water is noodsaaklik wanneer die mens hom permanent op die maan gaan vestig – nie net vir drinkwater nie, maar ook om vuurpylbrandstof mee te maak. Hierdie brandstof sal ook aangewend word vir sendings na Mars, aangesien die maan en ’n ruimtestasie wat om die maan gaan wentel, as ’n soort wegspringplek vir sendings na Mars sal dien.

Viper sal in die bestek van 100 dae verskeie kilometers op die maan aflê.

http://www.astronomy.com/news/2019/10/nasas-sending-a-rover-to-the-moon-to-find-water-for-astronauts

8. Oom Herrie se kerrie

Gerookte Poeroekwaai op gesmoorde kolleborels

Wat op aarde sal gerookte Poeroekwaai op gesmoorde kolleborels wees? Oom Herrie roep ‘n tyd amper dertig jaar gelede uit sy geheue op toe dit nog vir sy oudste, toe nog ‘n klein knapie, belangrik was om te weet wat noem ‘n mens die kos wat pa maak, maar wat eerlikwaar nie naam het nie.

———————————————————————

Jare gelede het ‘n kopkrimper my getoets en vasgestel daar is ’n groot gaping tussen my kort- en langtermyngeheue. Uitsonderlik groot, om die waarheid te sê. Nou,met ’n chemokop, wat oa my geheue nog meer aantas, is die gaping nog groter.

Dit is nog te meer bewys toe ek gevra is om iets vir ‘n tydskrif vir Afrikaanssprekendes te skryf. En toe skryf ek twee artikels oor die jaar, amper sestig jaar  gelede, wat pa-Jan met ’n beurs ‘n jaar lank in die VSA kon gaan navorsing doen, en die hele gesin saam was.

En toe is daar sommer ’n derde storie ook, die een van die Boeretrappers in verlede week se nuusoorsig. (Lees hier).

Pa-Jan het ons jonk ontval – ek self was skaars mondig, net amper klaar met my honneurs, maar Pa-Jan het in sy leeftyd van net meer as ‘n halwe eeu vreeslik baie bereik, waaronder twee doktorsgrade. (Lees hier)

Maar Pa-Jan kon ook baie lekker kos maak, so uit die kop uit.

Ek self maak ook gereeld kos so uit die kop uit, en die gesin sê gereeld dis lekker kos. Maar ‘n resepteboek? Om die een of ander rede is dit net te veel moeite om nog resepte te volg ook.

Ja, in my oujongkêrel dae was skottelgoed was ook nog ’n pyn in die fondament, en was die ideaal dat as ’n mens klaar geëet het mens net een bak nodig het om gewas te word. Die bestanddele is in die bak bymekaar gemaak, dit is daarin gaargemaak, en dis daaruit geëet ook. In 1981 het ek my eerste, en laaste mikrogolfoond gekoop, en na amper 40 jaar werk daai oond steeds. Ja, sy “draaitafel” werk al lankal nie meer nie, en sy lig is ook al lankal kapot, maar hy werk. In ons dertig jaar van getroude lewe moes vroulief Joan haar mikrogolfoond al ‘n paar keer met ’n nuwe vervang, soos nog ’n paar maande gelede.

Uit die aard van die saak het die geregte wat ek maak nie name nie. Maar toe kom oudste, en toe hy kon begin praat, het hy dadelik begin vra wat noem ’n mens daai kos.  Hy was van kleins af gesteld daarop dat elke gereg ’n naam moet hê. Het hy nie ‘n naam uit sy moedelose pa gekry nie, het hy by sy ma gaan navraag doen, en die antwoord was heel verstaanbaar, “Gaan vra jou pa.”

Die uiteinde, ek het agtergekom ‘n mens kan maar enige “naam” uit jou duim suig, dit was piekfyn. Van toe af het hy onder meer iets soos gerookte poeroekwaai op gesmoorde kolleborels gekry. Net wat in ‘n mens se kop opkom.

En ja, dit moes net lekker wees. Met die laaste probeerslag het dit weer gewerk. Die koue slaaigereg, bestaande uit koue ertjies en gekerfde kool (nie slaai nie) met mayonaise, is als opgeëet. Die gaar groetegereg met aartappel., bevrore gemengde groente, ‘n gekerfde ui, ‘n klompie gekerfde soetrissie, saam papgedruk (mêsj”) met sout, blatjang en suurlemoenpeper is als opgeëet. En dit was baie. En daar was nog die kos wat Joan gemaak het – oa hoender, en die nagereg. Toe ek naderhand verklaar ek is nie soos ‘n ordentlike mens sê ek is versadig, of goed gevul nie, ek is dik geëet het sy glimlaggend verstaan.

Maar dit was toe ek met daai kosse maak besig was wat ek wonder wat ek dit sou noem as ouboet nog in die huis was en op ‘n naam daarvoor sou aandring. Dalk iets soos Pa se groente-dikgevreetgereg.

Ja, van ek kanker gekry het, was my eetlus nog nie weer dieselfde nie. Trouens, daar was dae in die hospitaal wat hulle die lekkerste bord kos sou bring, en ek kan dit nie aankyk nie. Ek kan wel een keer onthou dat ek vir die een suster genoem het ek sien vreeslik uit na die volgende oggend se ontbyt, want daar is spek op die spyskaart. En hulle maak die lekkerste spek. Die suster gaan praat met die kombuis en die volgende oggend kry ek ‘n bord propvol spek, maar ook nog gebakte eier en ‘n stukkie tamatie, geroosterde brood en so aan. Ek het my ketiks aan daai spek geëet.

Ai, en nou sit ek en verlang na oudste, en natuurlik sy baie oulike vroutjie met die nagtegaalstem. Hopenlik is ons Kersfees by hulle daar buite die Paarl.

Ouboet was van kleins af behendig met die mond, en propvol humor. Nog net ‘n baksteen en ‘n half is hy saam met my buite toe om te gaan vleis braai, Maar help hout optel wil hy nie mee help nie. Hy is te moeg, vertel hy. Ek loop maar die wêreld vol en tel alles op wat kan brand, en eindelik is ek reg om die vuurhoutjie te trek. Ouboet is by, hy wil die aansteekwerk doen. Maar heel ernstig deel ek hom mee hy kan nie, want hy is te moeg. Maar kyk, toe is die mannetjie moeg én ongelukkig en seker kwaad ook. Maar iemand moet darem ook leer oorsaak het gevolge. As ek toe geweet het hoe hard daai kind sy volwasse lewe sou werk, het ek hom laat begaan. Ja, en ons honde was kruisigings. ‘n Geleentheid vir humor laat hy nie sommer verbygaan nie.  

9. Dank die Here

DEUTERONOMIUM 7:13
Hy sal jou liefhê, Hy sal jou voorspoedig maak en jou ‘n groot volk maak. Hy sal jou nageslag voorspoedig maak en Hy sal jou grond ‘n ryk oes laat lewer: volop koring, wyn en olie. Hy sal jou grootvee en jou kleinvee vinnig laat aanteel. Dit alles sal Hy doen in die land wat Hy met ‘n eed aan jou voorvaders beloof het om vir jou te gee.