James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Welvaartskepping begin by keuses, nie by verskonings nie

Die mens het sekere onverhandelbare vereistes vir oorlewing: suurstof, water, voedsel en energie. Daarsonder kan geen samelewing funksioneer nie. Daarna volg behoeftes wat wissel van noodsaaklik tot gerieflik, en die mate waarin hierdie behoeftes bevredig kan word, word grootliks bepaal deur die vlak van welvaart wat in ’n gemeenskap geskep word. Welvaart is egter nie iets wat vanself ontstaan of uitgedeel word nie, dit is die uitkoms van menslike keuses, verantwoordelikheid en optrede.

Elkeen van ons is verskillend geskape en met uiteenlopende talente toegerus. Die Bybelse gelykenis van die talente leer ons ’n belangrike beginsel: Dit gaan nie oor hoeveel talente iemand ontvang het nie, maar oor wat daarmee gedoen word. Talente wat begrawe word, lewer geen opbrengs nie. Inteendeel, dit word uiteindelik weggeneem en gegee aan dié wat bereid is om dit te benut en te laat groei. Hierdie beginsel geld nie net geestelik nie, maar ook ekonomies en prakties.

Nie almal is toegerus of bereid om entrepreneurs te wees nie. Sommige mense neem graag die risiko’s en verantwoordelikhede van selfstandige ondernemings op hul skouers, terwyl ander verkies om hul brood in diens van iemand anders te verdien. Beide uitgangspunte is geldig en noodsaaklik vir ’n funksionerende ekonomie. Wat egter universeel geld, is dat sekere eienskappe duidelik onderskei tussen mense wat volhoubare sukses behaal en dié wat konstant swakker resultate ervaar.

Die eerste van hierdie eienskappe is verantwoordelikheidsaanvaarding. Waar mense voortdurend die skuld plaas op ander, die geskiedenis, die regering, die ekonomie of “die stelsel”, maar nooit hul Welvaartskepping begin by keuses, nie by verskonings nie eie keuses en optrede bevraagteken nie, ontstaan ’n gevaarlike ingesteldheid. Sulke persone is onbetroubaar, want in hul eie oë kan hulle niks verkeerd doen nie. Suksesvolle mense aanvaar verantwoordelikheid vir hul besluite, hul foute en hul uitkomste. Sonderhierdie ingesteldheid is groei onmoontlik.

Tweedens is ’n sin vir dringendheid van kardinale belang, veral in die landbou. Besluitneming, en veral die uitvoering daarvan, bepaal uiteindelik die uitkoms. Die huidige bek-en-klouseerkrisis is ’n skreiende voorbeeld van hoe traagheid in staatsdepartemente boere duur te staan kom. In ’n uiterste krisis is antwoorde soos “We’ll look into the matter next week” of “The matter is receiving attention” onaanvaarbaar, veral wanneer probleme binne 24 uur hanteer kon word. Elke dag, selfs ure se versuim, het tasbare ekonomiese gevolge.

’n Derde onderskeidende faktor is toekomsgerigte denke. Sonder beplanning vir môre en sonder die uitvoering van daardie beplanning sal die toekoms niks anders wees as ’n herhaling van vandag nie. In landbou, maar ook in ander sektore, kom nuwe tegnologie, beter metodes en vars kundigheid daagliks na vore. Dit vereis ’n doelbewuste keuse om vooruit te kyk en vir ’n beter môre te werk.

Vierdens is daar ’n honger na kennis. In die digitale era is kennis meer toeganklik as ooit. Niemand kan werklik deur iemand anders “bemagtig” word nie, bemagtiging is ’n persoonlike proses. Wat wel moontlik is, is om omstandighede en geleenthede te skep waarbinne mense hulself kan bemagtig. Indien iemand hierdie geleenthede ignoreer, marginaliseer hulle hulself. Dan moet die oorsaak van hul stagnasie eerlik by hul eie keuses gesoek word.

Die uitdaging vir Suid-Afrika is nie ’n tekort aan potensiaal nie, maar ’n tekort aan ingesteldheid. Werklike vooruitgang vereis ’n positiewe, verantwoordelike en leergierige houding. Dit is hierdie eienskappe en nog vele meer wat onderskei tussen mense wat welvaart skep, ’n toekoms bou en werksgeleenthede laat ontstaan en dié wat voortdurend by ander die skuld soek vir hoekom hulle “agtergelaat” is.

Vir die mens is daar wel iets wat nie gekies word nie, naamlik of ons die kultuuropdrag uitleef. Elkeen is daagliks besig om dit te doen, maar die wyse hoe ons inhoud gee aan die uitleef daarvan, is wel ’n keuse. Dit word alles gedoen in genade alleen, want ons het die talente en die vermoë om te kan kies van God ontvang. Om dan in die sweet van jou aangesig jou brood te verdien, is inderdaad ’n voorreg. Dis ’n voorreg om te kan werk en skeppend ’n verskil te maak.

Die keuse bly uiteindelik persoonlik: om slagoffer te wees van omstandighede, of ’n bouer van ’n beter môre.

Hierdie meningstuk het op 20 Februarie 2026 in Pretoria FM se e-koerant, Nuusweek, verskyn.

Kategorie:

Deel dit:

Welvaartskepping begin by keuses, nie by verskonings nie