Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier
Wie is die sondebok? Vrydag | 06 Maart | 2020

Deur: Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA

Suid-Afrikaners het deesdae baie om oor ontevrede te wees. Maar die wyse waarop die ontevredenheid gewys word, is uiteenlopend.

Party groepe breek af en brand as daar nie aan hulle verwagtinge of wense voldoen word nie. Alles wat verkeerd loop of nie in hulle smaak is nie, is iemand anders se skuld. Die blaamspel word deurentyd gespeel en verantwoordelikheid is buite hulself gesetel.

Daarteenoor aanvaar ander groepe self verantwoordelikheid vir hulle omstandighede en probeer om iets daaromtrent te doen.

Die eerste groep leef vir nou en die tweede groepe is toekomsgerig. Die eerste groep openbaar ‘n gebruikers-kultuurbeskouing terwyl die laaste groep ‘n skeppende-kultuurbeskouing openbaar.

Elke mens het bepaalde talente waarmee hulle óf kan woeker óf wat hulle kan wegsteek onder ‘n maatemmer. ‘n Persoon se lewens- en wêreldbeskouing het ‘n groot invloed op hoe keuses in die lewe gemaak word, ook ten opsigte van hoe ‘n persoon talente ontwikkel en benut.

‘n Christen se rigsnoer is die Woord van God. Daaruit word waardes gevorm. Dit is ook die fondament vir die vorming van ‘n lewens- en wêreldbeskouing. Vanuit die Woord het die Christen sy kultuuropdrag gekry. Dit bring ‘n bepaalde toekomsgerigte verantwoordelikheid mee.

Na bewering is 68% van Suid-Afrikaners Christene. Tog wonder mens hoe so min keuses in lyn met Christelike waardes is, as hierdie groep dan so groot is. Die mens is wel geneig tot sonde, maar as Christen weet jy dat die aanvaarding van verantwoordelikheid en rekenskap net deur jouself gedoen word.

Elkeen maak hulle eie geloofskeuses en besluit hoe hulle dié keuse wil uitleef. Die enigste weg vir Christene is dié van Jesus Christus.

In die Suid-Afrikaanse praktyk ervaar ons daagliks hoe mense staak, infrastruktuur beskadig en altyd iemand anders blameer omdat hulle kies om nie verantwoordelikheid vir hulle keuses te neem nie.

Die einste stakers het ‘n regering gekies wat dit jaar na jaar regkry om werkloosheid en armoede te laat styg as gevolg van die onsekere beleidsomgewing wat hulle nastreef. ‘n Regering wat as gevolg van kaderontplooiing en swart ekonomiese bemagtiging toesien dat die poel van kundigheid wat stelsels op alle vlakke kon laat werk, die land teen ‘n ongekende tempo verlaat. Steeds ondersteun kiesers hierdie regering of wend hulle na die EFF, wat ‘n nog groter katastrofe teweeg sal bring.

Ons besef opnuut hoe verskillend die land se inwoners die toekomspad beskou. Aan die een kant is die gebruikers van begrippe soos kolonialisme, apartheid en wit voorregte. Hulle kla daagliks oor ‘n tekort aan huise en werk. Aan die ander kant is dié wat besef niemand behalwe jyself kan jou bemagtig nie. Elkeen wat self uitspring en werk, maak die besluit self.

Dit het die Afrikanervolk niks gebaat om na Engeland se ‘verskroeide-aarde-beleid’ tydens die Tweede Vryheidsoorlog waartydens 30 000 vroue en kinders in konsentrasiekampe vermoor is, te sit en blaam uitdeel nie. Daar is uitgespring en weer opgebou en geskep vir die toekoms.

Die Afrikaners het nie op die oorwinnaars van die oorlog gesit en wag om geleenthede vir hulle te skep nie. Die volk het self verskeie inisiatiewe soos die Reddingsdaadbond begin. Op ekonomiese, kultuur- en onderwysterrein is strukture op die been gebring om waardes wat aan die hoogste norme voldoen te vestig.

Die Christelik-nasionale driehoek tussen skool, kerk en gesin was die sement wat die volk gebind en gebou het. Waardes om tot die eer van God te leef is deur Christus as die middelpunt gebind. Rekenskap en die aanvaarding van verantwoordelikheid was die norm en diegene wat buite die samelewingsorde gedwaal het, is weer deur die stelsel belyn.

Wat is die sement wat Suid-Afrikaners vandag bind? Het die mens homself as die middelpunt begin beskou? Alles moet aangepas word om die mens gelukkig te maak. Humanisme is vir sommige mense die sement terwyl geld vir ander die rigsnoer is.

Verskeie leuens is deur die gebruik van propoganda die wêreld ingestuur. Oor tyd is dit so baie herhaal dat dit as die waarheid aanvaar word, soos die geskiedenis van grondbesit. Die werklikheid is dat swartmense inderdaad net soos witmense, eintlik tweede-generasie inwoners in Suid-Afrika is.

Daarmee saam is die woord apartheid se bedoeling – wat in wese afsonderlike ontwikkeling om elke bevolkingsgroep die geleentheid te gee om in eie kultuurverband te ontwikkel, was – verhef tot ‘n woord van haat. In plaas van apartheid te vertaal na ‘separate development’ is dit eerder verstaan as ‘apart hate.

Oor die wêreld heen is afsonderlike ontwikkeling aan die orde – dink net aan die grense tussen lande, grense tussen provinsies, munisipaliteite en selfs tussen huise. In praktyk is daar deurlopend afsonderlike leefwyse waar mense se eie besitreg erken en hopelik gerespekteer word. In die proses word die een kant van die munt wat net negatief ingekleur word, baie goed voorgehou, terwyl die ander kant van miljarde rande wat spandeer is om binne volksverband geleenthede te skep vir die onderskeie volkere in hul eie woongebiede, tans doodgeswyg.

Die ANC poog al jare lank om hulle eie siening op Suid-Afrika af te dwing deur die kulturele grense af te breek of af te maak. ‘n Sogenaamde reënboognasie word aan die wêreld voorgehou as ‘n Utopia met die sogenaamde beste grondwet in die wêreld. Die onderskeie wêrelde wat saamgevoeg is in Suid-Afrika, is ligjare van mekaar verwyder ten opsigte van waardes en lewens- en wêreldbeskouing, en kan nie in een stroom saamgevoeg word sonder assimilasie (wat die ANC natuurlik graag wil hê) of daar sal deurlopend spanning wees.

Waar laat dit die Christen-Afrikaner? Verskeie opsies is tans aan die uitspeel.

  • Die wat kan, verlaat die land op soek na (hopelik) groener weivelde. Almal voer dit nie suksesvol deur nie, want selfs onder Westerse lande is daar ook bepaalde kultuurverskille en is dit nie maklik vir elkeen wat oorgaan om aan te pas nie;
  • Party het bewustelik of dalk onbewustelik begin assimileer met dit wat die ANC op die tafel plaas. Dit is inderwaarheid ook wat in die kurrikulum by skole heel subtiel verpak is om die jeug te kondisioneer in hul denkrigting. Dr Blade Nzimande het immers ‘n geruime tyd gelede tydens ‘n Sadou-byeenkoms gemeld dat hierdie kurrikulum uitgewerk is om vir die jeug sosialisme te leer;
  • Daar is dan ook diegene wat apaties begin staan het teenoor die realiteite van die land – die wat sê dat hulle nie gepla is nie, want hulle maak geld en dit is wat nou belangrik is; en
  • Die laaste groep probeer binne die Afrikaner-oortuiging om op verskeie maniere vir die Afrikaner ‘n beter toekoms te skep as wat dit onder die ANC-regering sal gebeur.

Dit is hartseer dat hierdie groeperinge beskuldigings oor en weer slinger wat vertroue afbreek. Ons moet eerstens besef dat daar met ‘n werklikheid daar buite gewerk word wat ‘n demografiese realiteit insluit. Daarteenoor is daar so min van ons dat interne konflik net gaan veroorsaak dat die werklike vyand onverpoosd voortstu om hulle gesentraliseerde sosialistiese stelsel te implementeer.

‘n Goeie begin sou dalk wees om weer ons sement te definieer, maar ook om die waardestelsel waarheen ons streef te verwoord.

Na my oordeel sou die regte begin wees om openlik te verklaar dat ons, ons absolute afhanklikheid van God Drie-enig soos geopenbaar in Sy Woord bely. Met dit as fondament moet daar gebid word vir wysheid en ook die onderskeidingsvermoë om die regte keuses te kan maak.

Hoe gouer ons besef  dat ons mekaar nodig het en moet saamwerk met die mense van wie ons nou verskil, hoe beter is die kans om ons as Afrikaners te kan posisioneer vir ‘n beter toekoms.

Ons moet besef dat ons die morele hoë grond moet verkry en behou. Dit beteken optrede en uitsprake wat hoog geag word – ons moet waak dat ons optrede nie grens aan die soort gedrag waaroor ons juis ontevrede is nie.  Ons het nie nou heethoofde nodig wat met hulle voorstelle mense in die tronk gaan inpraat of dinge laat doen wat hulle in die tronk sal laat beland nie. Die saak van ons  volk is edel – kom ons handel daarvolgens.