Om veilig in en om jou huis te wees, is nie veronderstel om ’n arm en ’n been te kos nie, maar ons almal weet hoe duur is tegnologie wat help met veiligheid. Ons wil graag ’n groot poging aanwend om die man op die straat te help as dit by veiligheid kom. Dit is nie reg dat jy sukkel met veiligheid net omdat jy nie al die moderne tegnologie kan bekostig nie.
Die tegnologie wat beskikbaar is, kos ’n klomp geld. Daar is tegnologie wat jou vroeë waarskuwing kan gee, goeie slotte en alarms, maar dit is alles duur.
Met dit ingedagte bied TLU SA se veiligheidskomitee ’n boere-patent-kompetisie ten opsigte van veiligheid tydens vanjaar se KragDag aan. Ek is nogal opgewonde!
Ons soek patente/planne van boere vir vroeë waarskuwing soos die ou tradisionele toutjie met blikkies aan en klippies in die blikkies … as jy die tou aftrap, is daar ’n lekker geraas. Dis sommer net vinnige voorbeeld. Daar is dalk ook opsies vir peutervrye-slotte.
Dit mag nie ’n gekoopte ding wees nie, maar kan natuurlik gebou word met gekoopte parte. Dit moet ’n praktiese boere patent wees wat jou kan help met veiligheid in en om jou huis. Die belangrikste is dat dit nie arm en been moet kos nie. Dit moet ook ontwerp en gebou word deur ’n individu.
Met KragDag sal daar uitstalling wees en ’n paneel beoordelaars wat die beste drie patente sal aanwys. Daar is lekker pryse op die spel.



