TLU SA se Omgewingsake-komitee sluit ook watersake in, dit is nie net watersake, waterbesoedeling, skoon water vir dop en dam nie, die komitee nooi u uit om deel te neem aan debatte en kwessies in die verband. Eerstens om gemeenskaplike probleme op te los maar ook om die kwessie van bewaringslandbou ’n stap verder te neem en begin om bewaringslandbou wetenskaplik toe te pas.
Geen bewerking voor nuwe aanplanting van sekere gewasse nie, kom dadelik by ons op. Ons is soms verkeerdelik onder die indruk dat hierdie boerdery praktyk waterbesparing tot gevolg mag hê. Soos u weet is die onmiddellike herstel van lekkende pype, pompe en damme die grootste waterbesparing tegniek wat u kan toepas. Geen plaasvoertuig mag op die plaas, tussen landerye, van veepos tot veepos beweeg as daar nie die basiese waterlek herstel toerusting op die voertuig is nie, u ken die dril, ou binneband, binddraad is al om dringende noodherstel te doen waar die dorstige varke en deurloop Afrikane jou pype gat gesteek het vir water.
Het u ’n vogmeter? Jou eie Snoeks, nie jou buurvrou sin wat jy geleen het nie. Is die voginhoud in die grond voldoende wat die gewas vereis, of loop my spilpunt maar tot die water in die vore staan, verkoop jou spilpunt en vloedbesproei, jy doen dit in elk geval deur jou spilpunt.
Dr Gawie du Toit se “ boer vir maksimum wins…nie vir maksimum opbrengs nie” teorie is nie meer net ’n teorie nie, dit is getoets, die beginsels is dieselfde vir enige boerdery vertakking, van kwartel-eiers tot Ankole-horings.
Bietjie buite omgewingsbewaring, Eskom se verbloeming van beurtkrag onder die naam “kragvermindering” of dan Load Reduction begin ernstige soos regtig ernstige afmetings oorskry. Ons het hier te doen met kollektiewe straf, gehoorsame, verantwoordelike kragverbruikers wat elke maand hul buitensporige kragrekeninge betaal, word nou gestraf omdat een of twee of in die meeste gevalle ’n hele gemeenskap nie betaal nie en onwettige aansluitings die orde is. Ons vertrou dat ons topbestuur eersdaags met Eskom sal vergader hieroor.



