Die tyd het aangebreek vir nog ’n staatsrede, die eerste sedert die ontstaan van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE). Maar ná 30 jaar van ANC-bewind is die vraag nie meer wat in die SONA gesê is nie – maar watter werklike verandering daar in Suid-Afrika se bestuur en ekonomie plaasvind.
Ons hoor al vir die afgelope 30 jaar elke jaar tydens die SONA beloftes oor ekonomiese groei, dienslewering en hervormings. Intussen verval die infrastruktuur, instellings soos Eskom, die poskantoor en munisipaliteite bly disfunksioneel, en kaderontplooiing ondermyn steeds doeltreffende bestuur. Wat is dan die werklike waarde van die SONA as dit nie gepaard gaan met daadwerklike implementering nie?
President Cyril Ramaphosa se uitsprake klink soos ‘n refrein wat al duisende kere herhaal is – maar sonder werklike aksie. Hy sê Suid-Afrika is ‘oop vir besigheid’, terwyl sy eie regering se beleid beleggings afskrik. Hy belowe ‘n deursigtige mynbouregstelsel, maar dit beteken bloot dat nog meer vrugbare landbougrond onherroeplik vernietig gaan word.
Hy praat oor ‘n land waar niemand honger gaan ly nie, maar hoe is dit moontlik as beleid soos onteiening sonder vergoeding, mynbou op landbougrond en infrastruktuurfoute die voedselproduksie direk bedreig? Hy belowe beter logistiek en uitvoerkanale vir boere, maar Transnet is ‘n gemors en plaasprodukte vrot in hawens.
Hoekom sal Suid-Afrikaners hom hierdie keer glo?
Die werklikheid is eenvoudig: 60% van die begroting gaan reeds aan toelaes – ‘n onvolhoubare model. Suid-Afrika het werklike ekonomiese groei nodig, nie nóg sosialisme wat werkskepping vernietig nie. Maar Ramaphosa klou steeds aan die ANC se mislukte ideologie en speel politieke speletjies terwyl die land brand.
As Ramaphosa ernstig was oor groei, sou hy daadwerklik privaat eienaarskap beskerm en beleid stabiliseer om beleggings aan te moedig. Maar elke aksie van sy regering bewys die teenoorgestelde.
Dit is van dieselfde retoriek wat ons al die afgelope paar jaar hoor, terwyl Suid-Afrika jaar na jaar agteruit gegaan het. Misdaad is buite beheer, infrastruktuur versleg jaarliks, en daar is voortdurende beleidsonsekerheid wat die belegging van die private sektor afskrik. Wette soos onteiening sonder vergoeding skep net verdere onsekerheid en ontmoedig entrepreneurskap.
“Die probleem is nie net die simptome nie, maar die oorsaak van hierdie situasie lê in die transformasiebeleid wat deur die huidige regering geïmplementeer word,” sê Bennie van Zyl, TLU SA hoofbestuurder. “Kaderontplooing, korrupsie, en rasgedrewe diskriminasie is die wortels van die probleem, wat die land en sy mense benadeel. In plaas van om bloot die simptome aan te spreek, moet die regering eers fokus op die herstel van kundigheid, die beëindiging van korrupsie, en die ophou van beleid wat onregverdig en destruktief is. Slegs dan sal Suid-Afrika werklik ‘n positiewe draai kan maak.”
Wat Suid-Afrika nodig het, is nie nóg woorde nie, maar ’n werklikheid waar mense aangemoedig en bemagtig word om self verantwoordelikheid te neem vir hul toekoms. Die regering moet ’n sakevriendelike regulatoriese omgewing skep en ophou met beleide wat Suid-Afrika internasionaal benadeel. Ons het 30 jaar terug ooreengekom dat die verlede die verlede is, maar dit is nou tyd om af te stap van daardie retoriek. Ons wil nie meer beloftes hoor nie – ons wil saam bou aan ’n werklike, positiewe toekoms. Dit is die enigste manier waarop werklike ekonomiese groei en vooruitgang bewerkstellig kan word.
Hoewel dit nog net gesprekke is, is die gebruik van tegnologie vir misdaadbestryding en moedertaalonderrig twee aspekte waarop daar hoop is dat positiewe vordering gemaak kan word.
TLU SA sal aanhou om druk toe te pas vir beleidsrigtings wat werklike ekonomiese groei en volhoubare landbou ondersteun. Dit is nie genoeg om jaarliks beloftes te hoor nie – daar moet sigbare en meetbare verandering wees. Die werklike toets lê nie in wat gesê is nie, maar in die optrede wat volg. Suid-Afrika het daadwerklike leierskap nodig, nie nóg ‘n lys van leë beloftes nie.



