TLU SA staan vas teen die nuwe, ideologies-gedrewe transformasiewette wat besighede en burgers dwing om mense volgens ras te klassifiseer en te behandel. Die jongste Regulasies oor Gelyke Indiensneming, insluitend die sektorregulasies, en die rasgebonde registrasie van eiendom by die Aktekantoor, wys duidelik: die regering gebruik transformasie as ’n meganisme van beheer, nie van regverdigheid nie, maar van onderdrukking.
Hierdie regulasies vereis dat werkgewers hul werknemers, direkteure én aandeelhouers volgens ras moet benoem. Eiendom moet ook rasgebonde geregistreer word. Indien jy nie aan die voorgeskrewe rasprofiele voldoen nie, kan jy nie ’n lisensie kry nie, en staan jy bloot aan boetes of selfs sluiting.
“Dis niks anders as ekonomiese afpersing nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “’n Mens se kundigheid, toewyding en werksetiek beteken niks meer nie, net jou velkleur tel. Dis nie transformasie nie, dis tirannie. Dis die dood van meriete, en van enige regverdige toekoms.”
Met die veldtog “Ek wil op my meriete beoordeel word, nie op my ras nie” roep TLU SA duisende Suid-Afrikaners op om saam ’n sterk en simboliese teenstand te bied teen hierdie beleid.
Ons roep alle Suid-Afrikaners op: Staan saam met ons. Laat jou stem hoor. Verklaar dat jy op jou meriete geëvalueer wil word, nie op jou ras nie.
Klik hier, voltooi die vorm, ontvang jou sertifikaat van vryheid, en deel dit wyd. Jou stem maak saak.



