James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Suid-Afrika, die G20 en die toekoms van landbou en die ekonomie

Vanjaar is Suid-Afrika die gasheer vir die G20-beraad.  Soos met enige groot internasionale geleentheid, sal daar sekerlik pogings wees om sekere roetes vir die besoekers te kies, dié wat nog ‘n positiewe beeld kan uitdra. Tog kan die ineenstorting van ons infrastruktuur nie weggesteek word nie; dit is ‘n seer oog wat moeilik met trots vertoon kan word.  Die beraad bied egter ‘n belangrike geleentheid, die beleidsraamwerke wat hier bespreek en gevorm word, het ‘n direkte impak op die volhoubaarheid van landbou wêreldwyd, en veral in Suid-Afrika.

Vir ons land se boere en ander ekonomies aktiewe rolspelers is die vraag eenvoudig: Kan Suid-Afrika ‘n stelsel handhaaf waar privaat eiendomsreg en ‘n vryemark-ekonomie beskerm word, sodat dié wat die ekonomiese  verantwoordelikheid aanvaar, ook werklik welvaart kan skep? Teenoor hierdie beginsel staan egter die werklikheid van ‘n ANC-geleide regering wat in sy optrede en uitsprake dikwels voortgaan asof welvaart eenvoudig bestaan en net herverdeel kan word, eerder as iets wat deur harde werk en belegging geskep word.

Die belastinglas en die formele ekonomie

Volgens beskikbare syfers is daar sowat 27 miljoen individue in Suid-Afrika wat by die Ontvanger van Inkomste geregistreer is. Van hulle dien net om en by 8 miljoen mense ‘n belastingopgawe in. Persoonlike belasting dra tussen 35% en 40% van die staatsinkomste by, terwyl BTW ongeveer 25% tot 30% lewer en maatskappybelasting sowat 20% tot 25%. Dit beteken dat die relatief klein groep wat produktief is in die formele ekonomie, nie net persoonlike belasting betaal nie, maar ook die maatskappye aan die gang hou wat ook daar belasting betaal.

Hierdie selfde groep finansier boonop al die sosiale toelaes wat aan sowat 28 miljoen ontvangers uitbetaal word.  Dit is die harde werklikheid:  ‘n Klein gedeelte van die land se inwoners dra die grootste deel van die finansiële las om die staat aan die gang te hou.

Die formele ekonomie word verder belas met die instandhouding van ‘n oorbetaalde en oorgelaaide staatsdiens. Teoreties moet hierdie belasting die nodige dienste van die staat finansier, soos byvoorbeeld infrastruktuur, veiligheid, gesondheid en onderwys. In die praktyk is die dienslewering egter so onvoldoende dat die privaatsektor ná belastingbetaling wéér moet opdok, vir privaat sekuriteit, gesondheidsorg, skole en selfs basiese infrastruktuur. Die ANC se beleid het eenvoudig ‘n te duur prys geword vir gewone burgers.

Die informele ekonomie, aan die ander kant, is grotendeels ‘n onbekende faktor. Buiten die heffing van BTW en sekere aksynsbelastings op aankope in die formele sektor, dra dit byna niks wesenliks tot die staatskas by nie. Wanneer die land se werklike bevolking, wat saam met onwettige immigrante ver bo die amptelike 64 miljoen styg, in ag geneem word, is dit duidelik dat die huidige model nie volhoubaar is nie.

Hulpbronne en grondgebruik

Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne is reeds onder groot druk. Vir jare waarsku kenners dat ons waterbronne nie voldoende is om aan die groeiende vraag te voldoen nie. Daarby is die instandhouding van die waterinfrastruktuur vir drie dekades verwaarloos. Besoedeling in ons damme, riviere en selfs grondwater is in baie gevalle buite beheer. Die land se waterstelsel stuur op ‘n krisis af.

Grondgebruik is eweneens ‘n uitdaging. Suid-Afrika word internasionaal as marginaal vir voedselproduksie beskou – indien die geheel van die land oorweeg word, al is daar streke met uitstaande opbrengste. Tog is die politieke druk op grondbesit een van die grootste bedreigings vir volhoubare landbou.  Privaat eiendomsreg, die hoeksteen van welvaartskepping, word toenemend bevraagteken.  Die regering se eie grondoordragprosesse het hul al erken dat tot 95% van die oorgedraagde grond uit produksie gegaan het. Dit beteken dat die beleid wat sogenaamd geregtigheid moet bevorder, in werklikheid produksie, voedselvoorsiening en werkskepping kelder. Die gevolge van dié beleid ontneem inderdaad die land se inwoners hul van ‘n toekoms.

Beleidsomgewing en ekonomiese groei

Die huidige beleidsomgewing is eenvoudig onvriendelik vir ekonomiese groei.  Die syfers oor groei, werkloosheid en belegging spreek vanself: Of dit nou in landbou of in ander sektore is, die ruimte vir uitbreiding en ontwikkeling word deur beleid en wanbestuur gestuit. Sonder vertroue in beleid en die beskerming van eiendomsreg sal beleggers hul kapitaal elders aanwend en Suid-Afrika verloor daarmee die geleentheid om sy ekonomie te versterk.

Landbou se stem by die G20

Teen hierdie agtergrond het die G20-lande se boere op 17 September in Stellenbosch byeengekom om gesamentlike standpunte te formuleer. Die doel is om by die beraad in November aan staatshoofde duidelike en praktiese insette vanuit die landbougemeenskap te bied.

Die kernboodskap is eenvoudig maar dringend: Die wêreld kan nie dobbel met voedselsekerheid nie. Elke beleidsomgewing moet uiteindelik daarop ingestel wees om volhoubare en winsgewende voedselproduksie moontlik te maak.  Nêrens in die wêreld is daar ‘n groter bate as die vermoë om mense te voed nie.

Die G20-beraad plaas ‘n soeklig op Suid-Afrika, op sy infrastruktuur, sy ekonomiese beleid, sy hulpbronne en sy vermoë om sy mense en die wêreld se besoekers met trots te ontvang.  Vir landbou is dit egter veel meer as ‘n simboliese geleentheid. Dit gaan oor die bestaansreg van ‘n sektor wat kernbelangrik is vir nasionale stabiliteit en wêreldwye sekuriteit.

Indien Suid-Afrika en die G20-lande nie die belangrikheid van volhoubare voedselproduksie en die beskerming van die ekonomiese beginsels wat dit moontlik maak, erken nie, word die toekoms van welvaart en vrede in gedrang gebring.  Die pad vorentoe kan slegs gebou word op verantwoordelike beleid, die beskerming van eiendomsreg, en die aanvaarding dat welvaart geskep moet word en nie bloot iets is wat bestaan wat maar net verdeel kan word nie.

Hierdie artikel het op 3 Oktober in Pretoria FM se e-koerant, Nuusweek, verskyn. 

 

Kategorie:

Deel dit:

Suid-Afrika, die G20 en die toekoms van landbou en die ekonomie

Windscreen Masters

Enige lid/vriend wat deur Windscreen Master hul ruit laat vervang, kan dit op die plek van sy keuse laat doen. Windscreen Master hanteer ook die skakeling met die lid/vriend se makelaar/versekeraar asook die registrasie van die eis indien van toepassing.

Verco Energy

Verco Energy lewer goedkoper diesel aan TLU SA affiliasies/lede/vriende in sekere afleweringsgebiede.

Timac Agro

Spesiale aanbiedinge om kunsmis teen beter pryse aan te koop, slegs vir TLU SA-lede.

Relevante artikels

NBM

TLU SA se ooreenkoms met NBM bepbaal dat TLU SA affilliasies/lede/vriende afslag ontvang op verskeie versekeringsprodukte

Hendrik de Swardt

082 852 8039

Philippie de Beer

083 230 4583

Relevante artikels

LWO

Die LWO ondersteun boere as werkgewers in alle aspekte rakende arbeidsregwetgewing.

MarketVest

MarketVest maak gebruik van gevestigde, gekontrateerde groenkaart tegniese kontrakteurs regoor die land wat vinnig hulp kan verleen met aanbevelings en installasies. Vir elke suksesvolle afgehandelde installasie wat deur TLU SA na MarketVest verwys word, ontvang TLU SA ʼn verwysingfooi.

Firearms Guardian

Firearms Guardian is ’n unieke korttermynversekeringspakket vir vuurwapeneienaars. Dit bied dekking teen regskostes en aanspreeklikheidseise, wat spruit uit selfverdediging, skiet-ongelukke, strafregterlike vervolging, jagtogte wat skeefloop, sportskiet-ongelukke, en vele meer.

Finco Finance

Finco Finance ondersteun TLU SA-lede met finansiering by handelsbanke.

Pitkos

Die Pitkos is TLU SA se nuusbrief slegs vir lede. Hierin gee ons vir lede inligting oor die aksies waarby ons betrokke is, standpunte wat ons inneem, spesiale aanbiedinge wat vir lede beding is, opkomende geleenthede en waardevolle inligting soos aankondigings in die Staatskoerant wat op landbou betrekking het.