James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Wat is sukses?

Dit is eintlik ’n baie interessante vraag, want die antwoord verskil na gelang van die konteks waarin dit gevra word. Gewoonlik word sukses gemeet aan ’n prestasie wat bereik is – in besigheid, akademie, sport of op enige ander terrein waar mense hulle talente en vermoëns aanwend.

Ons behoort trots te wees op prestasieswat deur harde werk en toewyding bereik word. Elke mens is met bepaalde talentetoegerus en wanneer daarmee gewoeker word, kan dit konstruktiewe uitkomste lewer. Vir ons as gelowiges bly dit egter ’n genadegawe van God. Daarom moet die uiteindelike dank en erkenning vir dit wat ons bereik, aan God Drie-enig behoort.

Vir ons in die landbou is die antwoord op die vraag na sukses egter baie eenvoudiger: Was ons winsgewend? Indien nie, is daar uiteindelik geen volhoubaarheid nie. ’n Boer kan nie vir altyd verliese ly en steeds voedsel produseer nie.

Die groot uitdaging is dat landboubedryf word in ’n omgewing wat deurveranderlikes oorheers word waaroor die boer geen beheer het nie. Klimaat, insetpryse, internasionale markte, wisselkoerse en logistiek speel almal ’n rol. Wat egter al hoe meer onaanvaarbaar geword het, is dat politieke beleid en staatsingryping onsekerheid skep wat die landbou-ondernemer se vermoë om suksesvol te boer, direk beïnvloed.

Die Suid-Afrika wat sedert 1994 onder ’n nuwe ideologiese aanslag ontwikkel het, het oor tyd ingrypend verander. Kaderontplooiing, SEB, tenderbedrog, staatskaping en die gevolge van ’n transformasiebeleid wat dikwels op ras eerder as op vermoë, prestasie en ekonomiese sinvolheid geskoei is, het ’n geweldige koste vir die land meegebring.

Die vraag moet daarom eerlik gevra word: Wat sien mense nie raak nie?

Hoe is dit moontlik dat iemand steeds probeer om ’n beleidsbenadering te regverdig terwyl die gevolge daarvan sigbaar is in swak dienslewering, vervalle infrastruktuur, gebrekkige veiligheid, staatsinstellings wat nie behoorlik funksioneer nie en ’n ekonomie wat sukkel om genoeg produktiewe werk en welvaart te skep?

Die mees kommerwekkende ontwikkeling is dalk dat Suid-Afrikaners begin het om die gevolge van regeringsmislukkings as die nuwe normaal te aanvaar. Ons het geleer om dit te bestuur in plaas daarvan om dit te verander.

Ons behoort nie ’n kultuur van middelmatigheid, afhanklikheid en voortdurende krisisbestuur te aanvaar nie. Ons behoort steeds na uitnemendheid, selfstandigheid, verantwoordelikheid en sukses te streef.

Landbou is ’n ekonomiese proses. Die mense wat daarby betrokke is, moet onder meer oor ’n sin vir dringendheid, toekomsgerigtheid, ’n honger na kennis en ’n bereidheid tot verantwoordelikheidsaanvaarding beskik. ’n Plaas is immers nie bloot ’n stuk grond nie – dit is ’n besigheid wat onder moeilike omstandighede volhoubaar bestuur moet word.

Daarom is dit onverstaanbaar dat ideologiese oorwegings toenemend gebruik word om ekonomiese besluite te beïnvloed. Nog meer kommerwekkend is dit wanneer mense wat die gevolge behoort te verstaan, hierdie benadering verdedig.

Die wêreldgeskiedenis leer ons tog dat ekonomieë nie deur ideologie opgebou word nie. Welvaart word geskep wanneer mense die vryheid het om te werk, te produseer, te belê, te innoveer en die vrugte van hul arbeid te behou.

Daar is vandag ’n sterk oproep dat landbou as sektor eenheid moet vind en uit een mond moet praat. Die beginsel van eenheid is goed, maar rondom wat?

Indien eenheid beteken dat ons die ideologiese uitgangspunte moet aanvaar wat bygedra het tot die verval van veiligheid, infrastruktuur en staatsinstellings, sal ons bloot die huidige werklikheid verleng.

Ons het eenheid nodig rondom die regte ekonomiese beginsels.

Die vertrekpunt moet die beskerming en uitbouing van private eiendomsreg, ’n funksionerende regstaat, verantwoordelike regering en die ruimte vir ’n vrye markekonomie wees. Wanneer mense die geleentheid kry om hulle talente binne so ’n omgewing te benut, word die ruimte geskep waarbinne welvaart kan ontstaan.

Wanneer ons praat van “boer tot bord”, moet ons verder dink as net die produksie van voedsel.

Daar moet suksesvolle voedselproduksie wees. Maar daar moet ook verbruikers wees wat die voedsel kan bekostig. Daar moet vervoer, elektrisiteit, water, infrastruktuur, finansiering en markte wees. En daar moet ’n beleidsomgewing wees wat genoeg vertroue skep sodat die privaat sektor bereid is om kapitaal te belê en besigheid te doen.

Dit is immers winsgewende ondernemings wat ekonomiese groei skep.

Die staat skep nie op sy eie die belastingbasis waaruit hy funksioneer nie. Die staat kan slegs belasting hef omdat mense en ondernemings ekonomiese waarde skep. Daarom is die wyse waarop belastingbetalers se geld bestuur word, van kardinale belang. Korrupsie, vermorsing, wanbestuur en die wanbesteding van openbare fondse is nie bloot administratiewe probleme nie – dit vernietig ekonomiese waarde wat deur iemand anders geskep is.

Daar word dikwels gepraat van Suid-Afrika se “twee ekonomieë”. Daar is inderdaad diep ekonomiese verskille, maar ons moet kyk na die verskillende ingesteldhede waarmee mense aan die ekonomie deelneem.

Aan die een kant is daar die skeppende, produktiewe benadering: Ek aanvaar verantwoordelikheid, ek werk, ek leer, ek skep en ek bou vir die toekoms.

Aan die ander kant ontwikkel ’n opeiskultuur wanneer mense begin glo dat “iemand” uiteindelik vir hulle sal sorg en dat die staat altyd die verantwoordelikheid moet dra.

Met slegs ’n beperkte deel van die bevolking wat persoonlike inkomstebelasting betaal, is die boodskap duidelik: Suid-Afrika kry dit nie reg om ’n voldoende breë basis van produktiewe, winsgewende en belastingbetalende ekonomiese deelnemers te skep nie.

En uiteindelik betaal elke inwoner van hierdie land die prys.

Die prys word betaal in duurder voedsel, minder werksgeleenthede, swakker infrastruktuur, hoër belastings, minder investering en ’n toenemende verlies aan vertroue in die toekoms.

Sukses is daarom nie bloot ’n persoonlike prestasie nie. Dit is die vermoë van ’n samelewing om ’n omgewing te skep waarin mense kan werk, kan produseer, kan besit, kan bou en kan floreer.

Vir Suid-Afrika is die keuse uiteindelik eenvoudig: Gaan ons voort om die gevolge van mislukte beleid te bestuur, of gaan ons die moed hê om die beginsels te herstel wat ekonomiese sukses moontlik maak?

Ons kan nie ’n beter ekonomiese toekoms verwag terwyl ons aanhou om die aspekte wat ekonomiese sukses vernietig, te verdedig nie.

Hierdie bydrae het oorspronklik in Pretoria FM se Nuusweek-uitgawe op 16 Oktober 2026 verskyn.

Kategorie:

Deel dit:

Wat is sukses?