James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Alle plaasmoorde en -aanvalle moet gelyk geag word, sê TLU SA

Vanjaar was daar – volgens TLU SA se Insidente Register oor plaasaanvalle en -moorde*– reeds 153 aanvalle op plase wat tot die dood van 25 mense gelei het. Maar die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling me. Thoko Didiza het oor bitter min van hierdie voorvalle iets te sê gehad.

Vandeesweek het sy egter te velde getrek teen die moord van ‘n swart gesin op ‘n Vrystaatse plaas buite Harrismith. Verlede week het die polisiehoof van Mpumalanga, lt.genl. Semakaleng Manamela gesê hulle sal nie rus voordat die verdagtes waarin ‘n swart veiligheidswag op ‘n plaas naby Brondal buite Mbombela doodgeskiet is, agter tralies is nie.

“Dit is baie moeilik om nié die afleiding te maak dat die minister en haar kollegas sekere mense se moord meer belangrik as ander ag nie,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Het rassebevoordeling nou ook al ‘n plek gevind in die veroordeling van misdaad?

“Elke plaasaanval of -moord is ontstellend, onnodig en onaanvaarbaar. Minister Didiza moet elke aanval in die openbaar veroordeel en geen steen onaangeraak laat om enige van die aanvallers aan te keer nie. Die minister en haar kollegas moet alle Suid-Afrikaners gelyk behandel. Soos wat die Grondwet bepaal.”

Die ware kwessie hier is dat daar nie genoeg gedoen word om die veiligheid van Suid-Afrikaners van enige ras te beskerm nie. TLU SA wil dit beklemtoon.

Volgens die polisie se eie erkenning het 11 703 lede die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die afgelope vier jaar verlaat. Dit beteken dat elke polisielid verantwoordelik is vir 200 mense. Die polisiëringbegroting is tydens die medium-termyn uitgawe raamwerk besnoei en dit wat oorbly word wanbestee deur moedswilligheid en gierigheid. Dit beteken dat elke polisielid verantwoordelik is vir 200 mense.

“Dit is duidelik dat die beveiliging van Suid-Afrikaners nie vir die regering ‘n prioriteit is nie,” sê mnr. Geldenhuys. “Die onlangse kabinetskommeling sou die ideale geleentheid gewees het om die onderpresteerders en onbekwame lede van die uitvoerende gesag te verwyder, maar dit blyk dat die skommeling meer van ‘n politieke posisionering as enigiets anders was.”

TLU SA doen steeds ‘n beroep op Pres. Ramaphosa om die Polisiedepartement van bo af skoon te maak sodat bekwame persone aangestel kan word. Die publiek kan TLU SA se veldtog: Tsamaea Cele, steeds by hierdie skakel steun: https://www.tlu.co.za/tsamaea-cele/

 

*Die TLU SA Insidente Register word sedert 1990 bygehou.

Kategorie:

Deel dit:

Alle plaasmoorde en -aanvalle moet gelyk geag word, sê TLU SA