Ons het nou reeds geleer dat die ANC se beleidsomgewing op geen wyse ekonomiese groei kan teweegbring nie. Buitelandse kapitaal is besig om die land te verlaat a.g.v. al die onsekerhede wat deurentyd geskep word. Die ANC se 8 Januarie verklaring wat die rigting aandui wat die ANC gaan inslaan het die lig gesien. Dit is belangrik dat ons almal kennis neem van die inhoud daarvan en veral dit wat landbou direk raak.
Die afgelope jaar was die sogenaamde Landbouplan (AAMP) baie in die nuus. TLU SA was die eerste wat die gevaar van steeds ’n inbinding daarbinne met die ANC se ideologiese beleidsrigting van transformasie wat ons almal die resultate kan sien in al die instellings waarby die ANC betrokke was sedert hul begin regeer het – naamlik alles stort in duie.
Die volgende aanhaling in die 8 Januarie verklaring moet ernstig kennis van geneem word: We applaud the signing of the Agriculture and agribusiness Masterplan as a positive social compact at sectoral level to ensure that partners in the agricultural sector work together for the transformation and inclusive participation of all in the agricultural sector.
Deurentyd het TLU SA die gevaar daarbinne uitgewys wat ongelukkig steeds deur die ander betrokke organisasies afgeteken is. Die argument was altyd gevoer dat daar goeie pilare in die AAMP vervat is, wat inderdaad so is. Die groot probleem is egter dat “goeie pilare” onderhewig gemaak is aan transformasie en dit is waarop die ANC nou fokus. Tot op hede kon landbou a.g.v. sy inherente krag die ANC se ideologiese aanslag grootliks die hoof bied. Dit is uiters belangrik om vanjaar steeds beginselvas koers te hou en op geen wyse die beleid van transformasie soos wat hulle dit toepas ,te ondersteun nie. Dit is baie jammer dat vele landbou-organisasies die plan wel afgeteken het.
Boere sal moet opstaan vir wat reg is om landbou te laat lewe en nie om verstrengel te raak in prosesse waar organisasies in onkunde hul lede erg gekompromitteer het nie. Oor baie ander redes ook, maar veral oor hierdie punt behoort kommersiële boere hulle gewig agter TLU SA se beginsels in te gooi. Ons moet ons onbetrokke of oningeligte mede-boere vra of hulle tevrede is met die ANC se transformasie agenda se uitkoms naamlik elke instelling is verwoes. Gaan ons verlief neem dat die verwoestingswerk ook met landbou moet gebeur.
Die voorstelle wat TLU SA nog deurentyd gemaak het bevat die beginsels wat vir elke persoon wat betrokke is in landbou en ook vir nuwe toetreders ’n billike geleentheid gee om te kan boer – dit natuurlik mits hul die verantwoordelikheid wat dit verg om te boer, aanvaar. Ons moet volhard op ons koers ten einde sodoende die verantwoordelikheid vir die toekoms te aanvaar om seker te maak ons nageslag gaan steeds ’n funksionerende landbou-omgewing ontvang.
Foto: rawpixel.com | Freepik