James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Bek- en klouseer: Wanneer regulasies boerdery én voedselsekerheid kniehalter

Die belangrikheid van effektiwiteit wanneer dit gaan oor die beskikbaarstelling van voedsel aan verbruikers, is ‘n kritiese faktor in die proses. Die boer, wat die bron van hierdie voedsel is, word deurlopend getoets vir hul effektiwiteit deur een meganisme; naamlik die markkragbeginsel wat inderdaad net kyk na winsgewendheid.

Bek- en klouseer het ’n skrikwekkende werklikheid vir Suid-Afrikaanse boere geword. Wat hierdie uitbrekings besonders ontstellend maak, is nie net die siekte self nie, maar die huidige regulatoriese omgewing waarbinne boere gedwing word om dit te hanteer. ’n Omgewing wat boere se hande bind, hul risiko verhoog en uiteindelik nie net die landbou-ekonomie nie, maar ook die verbruiker en nasionale voedselsekerheid bedreig.

Bek- en klouseer is ’n staatsbeheerde siekte. In teorie beteken dit dat die staat die verantwoordelikheid dra om die siekte te beheer en betyds op te tree om dit te bekamp. In praktyk ervaar boere egter ’n staat wat nie oor die institusionele kapasiteit, logistieke vermoë of operasionele spoed beskik om hierdie verantwoordelikheid na te kom nie. Die gevolg is ’n gevaarlike vakuum waarin die siekte versprei, terwyl boere wettig verhinder word om self daadwerklik op te tree. Dit terwyl die privaat sektor wel oor die antwoorde beskik om die siekte aan te spreek. Boere het self uiteraard ook die verantwoordelikheid om bio-sekuriteit so effektief soos moontlik toe te pas.

Dit is hartseer dat heelwat boere reeds by die lyn van volhoubaarheid verby gedwing is. Dat die kapasiteit in die departement ernstig met reg bevraagteken word, is ‘n gegewe. TLU SA waarsku reeds vir dekades lank dat die prys van kaderontplooiing net te duur vir Suid-Afrika is en nog verder gaan word.

Een van die grootste struikelblokke is die streng regulering rondom die hantering van die siekte. Tans mag boere nie entstowwe self toedien nie, selfs nie in hoërisiko-gebiede waar uitbrekings reeds bevestig is nie. Die LNR het soos verneem word ‘n baie goeie entstof ontwikkel met belastingbetalers se geld, wat eintlik die intellektuele eiendom daarvan die belastingbetalers sin behoort te wees. Die entstof se vervaardiging word egter soos goud beskerm en beskik die staatsmasjinerie egter nie oor die vermoë om voldoende entstowwe te vervaardig nie. Die vermoë bestaan wel in privaat laboratoriums.

Hierdie benadering ignoreer ’n basiese realiteit: boere het die grootste belang by biosekuriteit en die oplos van die siekte. Hulle dra die volle finansiële risiko van uitbrekings, van kwarantynmaatreëls en markverliese tot die moontlike verlies van hele kuddes. Wanneer markte sluit, droog kontantvloei op en finansiële instellings raak huiwerig om verdere krediet te verskaf. Vir baie boere, wat reeds onder druk verkeer weens hoë insetkoste, beurtkrag, infrastruktuurverval en misdaad, is bek-en klouseer die finale hou wat finansiële vernietiging beteken.

Die impak strek egter veel verder as die plaashek. Wanneer produksie ontwrig word, raak dit die hele waardeketting, van voerkrale en abattoirs tot verwerkers en kleinhandelaars. Uiteindelik betaal die verbruiker die prys deur hoër kospryse en ’n meer onstabiele voedselmark. In ’n land waar miljoene huishoudings reeds voedselonseker is, is dit ’n risiko wat Suid-Afrika eenvoudig nie kan bekostig nie.

Die kernvraag is dus nie óf bek- en klouseer beheer moet word nie, maar hóé. Die huidige sentralistiese, burokratiese benadering het bewys dat dit nie werk nie. Regulasies opgestel vir omstandighede waar bek- en klouseer beheer kon word met voldoende entstowwe om uitbrake langs die rooi gebied te kon beheer, is duidelik nie vir die situasie tans meer van toepassing nie. Oplossings lê in ’n meer realistiese model waar die staat, die privaat sektor en boere saamwerk. In die verband het minister John Steenhuisen uitgereik om die landbousektor deur middel van ‘n werkgroep die geleentheid te gee om voorstelle vir daadwerklike optrede, veral ten opsigte van die regulatoriese omgewing, te kan maak. Die werkgroep het sedert hul op 20 Januarie saam met die minister vergader het, reeds twee vergaderings gehou om insette te belyn.

Eerstens moet regulasies rondom die gebruik en verkryging van entstowwe hersien word. Onder streng, maar werkbare voorwaardes moet bevoegde boere en privaat veeartse toegelaat word om kwaliteit entstowwe betyds te verkry en toe te dien, veral in uitbrekingsgebiede. Spoed is van kardinale belang wanneer dit by siektebeheer kom.

Tweedens moet die privaat sektor se reeds erkende rol beter benut word. Suid-Afrika beskik oor kundigheid, infrastruktuur en logistieke vermoë buite die staat wat onmiddellik ingespan kan word. Die uitsluiting van hierdie kapasiteit is nie net onlogies nie, maar roekeloos. Geen boer sal enigiets doen wat hul eie voortbestaan negatief sal bedreig nie.

Derdens is deursigtigheid en aan-spreeklikheid noodsaaklik. Boere en die breër publiek verdien duidelike kommunikasie oor uitbrekings, beskikbare entstowwe en beheermaatreëls. Vertroue kan slegs herstel word as beleid konsekwent, rasioneel en in belang van voedselsekerheid toegepas word. Die beleid se gevolge moet nie die grootste hekkie in die oplossing wees nie.

Bek- en klouseer is nie net ’n veeartsenykundige probleem nie; dit het ’n ekonomiese en sosiale krisis geword. Wanneer regulasies belangriker word as resultate, word boere gestraf vir ’n stelsel se mislukkings. Indien Suid-Afrika ernstig is oor volhoubare landbou en bekostigbare kos van boer tot bord, is dit tyd dat beleid die werklikheid op die grond begin weerspieël, voordat nog boere, en uiteindelik verbruikers, die prys verder betaal.

Mag ons vertrou dat daar spoedig in die wysiging van die regulasies en optrede vir die pad vorentoe vinniger reaksies sal wees as wat die laaste tyd ervaar was.

Kategorie:

Deel dit:

Bek- en klouseer: Wanneer regulasies boerdery én voedselsekerheid kniehalter

Windscreen Masters

Enige lid/vriend wat deur Windscreen Master hul ruit laat vervang, kan dit op die plek van sy keuse laat doen. Windscreen Master hanteer ook die skakeling met die lid/vriend se makelaar/versekeraar asook die registrasie van die eis indien van toepassing.

Verco Energy

Verco Energy lewer goedkoper diesel aan TLU SA affiliasies/lede/vriende in sekere afleweringsgebiede.

Timac Agro

Spesiale aanbiedinge om kunsmis teen beter pryse aan te koop, slegs vir TLU SA-lede.

Relevante artikels

NBM

TLU SA se ooreenkoms met NBM bepbaal dat TLU SA affilliasies/lede/vriende afslag ontvang op verskeie versekeringsprodukte

Hendrik de Swardt

082 852 8039

Philippie de Beer

083 230 4583

Relevante artikels

LWO

Die LWO ondersteun boere as werkgewers in alle aspekte rakende arbeidsregwetgewing.

MarketVest

MarketVest maak gebruik van gevestigde, gekontrateerde groenkaart tegniese kontrakteurs regoor die land wat vinnig hulp kan verleen met aanbevelings en installasies. Vir elke suksesvolle afgehandelde installasie wat deur TLU SA na MarketVest verwys word, ontvang TLU SA ʼn verwysingfooi.

Firearms Guardian

Firearms Guardian is ’n unieke korttermynversekeringspakket vir vuurwapeneienaars. Dit bied dekking teen regskostes en aanspreeklikheidseise, wat spruit uit selfverdediging, skiet-ongelukke, strafregterlike vervolging, jagtogte wat skeefloop, sportskiet-ongelukke, en vele meer.

Finco Finance

Finco Finance ondersteun TLU SA-lede met finansiering by handelsbanke.

Pitkos

Die Pitkos is TLU SA se nuusbrief slegs vir lede. Hierin gee ons vir lede inligting oor die aksies waarby ons betrokke is, standpunte wat ons inneem, spesiale aanbiedinge wat vir lede beding is, opkomende geleenthede en waardevolle inligting soos aankondigings in die Staatskoerant wat op landbou betrekking het.