Onrus en die pad vorentoe
Die omstandighede in die land bring mens amper by ‘n punt waar jy moet kies tussen twee totaal onaanvaarbare groeperinge. Aan die een kant vind mens die radikale ekonomiese transformasie-agente met Zuma en Magashule aan die spits – en moet Malema nie buite rekening laat nie – en aan die ander kant die huidige president van die land, Mnr. Ramaphosa en diegene wat hom volg wat hulle steeds binne die ANC bevind. Dit is egter nie nodig om enige van die faksies te kies nie, want gesamentlik het hierdie twee groeperinge die land gemaak wat dit vandag is. Dit is beter om te kies vir waardes en etiese normes wat gefundeer is vanuit die Woord van God wat as rigsnoer blywend antwoorde gee. Nie een van die botsende groeperinge in die ANC streef enige waardestelsel na waarmee ons enigsins wil assosieer nie.
Heelwat bespiegeling doen die rondte oor die werklike rede vir die geweld wat losgebars het. In hoe ‘n mate diegene wat hulself soos barbare lustig aan voorraad uit oopgebreekte winkels gehelp het, enigsins ‘n saak met Zuma in of uit die tronk het, is ‘n debat op sy eie. Oor tyd heen het die ANC-regering se beleidsomgewing veroorsaak dat daar net te veel onsekerheid in die land geskep is en het vaste beleggings daaronder gekwyn. Die omstandighede waarbinne byna die helfte van die land se inwoners nie ‘n werk het nie, en die gepaardgaande armoede is die teelaarde vir rewolusie. Iets waaroor TLU SA en verskeie ander rolspelers lankal reeds gewaarsku het. Die spanning binne die ANC met die onderskeie faksies wat op die spits gedryf is, was die vonk in die kruitvat. Dit het die ontevrede massas bitter maklik aangeskakel om tot anargie oor te gaan. Hoe daar ookal na die situasie gekyk word, die geweld wat losgebars het, is inderdaad die ANC se maaksel. Wat opmerklik was is dat die aanslag op die waardeketting is al sy fasette grootliks die fokus was.
Dit bly ‘n ope vraag wie vandag regtig in beheer is in Suid-Afrika. Indien die faksie agter Mnr. Ramaphosa nie daarin kon slaag om binne dae die land te stabiliseer nie, sou hy alle geloofwaardigheid heeltemal verloor het. Diegene wat agter die anargie sit en dit aanwakker en aanhits het ‘n bed opgemaak waarbinne niemand kan en wil slaap nie. Suid-Afrika se omstandighede is besig om vinnig te verander in ‘n totaal onaanvaarbare bestel waar almal net verloorders gaan wees.
Die staat sal diegene wat agter hierdie opstand gesit het met ferm hande moet hanteer. Die aanhitsers het inderdaad ‘n daad van sedisie gepleeg en behoort met die volle mag van die regstelsel tot verantwoording gebring te word.
Soos wat hierdie dinge ontsluit vra ons al hoe meer in hoe ‘n mate hierdie huidige bestel volhoubaar is. Selfs tradisionele leiers het TLU SA gekontak met dieselfde kwelling. Die ANC met sy beleid van kaderontplooiing, korrupsie, selfverryking en die fokus om eerder die party te red in plaas van om die land te regeer, se prys het te duur geword vir almal in die land.
Waar laat dit ons? Oor tyd heen het die veiligheidskomitee verskeie Bulletins uitgegee wat riglyne gee vir gemeenskappe om juis hierdie soort situasie te kan hanteer. Gemeenskappe in KwaZulu-Natal wat georganiseerd en gestruktureerd die aanslag die hoof gebied het, was diegene wat die minste skade gely het. Dit bly belangrik dat ons vanuit die lesse in KZN opnuut ons gebeurlikheidsplanne afskud en seker maak dat ons gerat is vir die ergste scenario. Hierdie beplanning moet met groot verantwoordelikheid gedoen word en deurentyd binne die wet.
Intussen moet ons ook suksesvol boer. Baie sterkte vir al die boere in die land wat in groot vraagteken omstandighede hul dagtaak moet verrig.