Is regsproses nog geloofwaardig?
Gedurende 2021 het verskeie gevalle reeds voorgekom waar die wenkbroue gelig is oor die wyse hoe sekere arrestasies uitgevoer is, hoe die borg proses verloop het en selfs waar daar baie dinamies opgetree was teen sekere persone, maar in ander gevalle het ons ’n afwesige regstelsel.
In baie van hierdie gevalle blyk dit of daar moontlik rasse vooroordeel betrokke kan wees. TLU SA het skrywes in die verband aan die Minister van SAPD sowel as Justisie gerig. Daar is onder andere groot kommer oor die toepassing van die beginsel van die redelike man wanneer daar geoordeel moet word oor gevalle van selfverdediging.
Die skrywes is na die Vervolgingsgesag verwys wat ons wel geantwoord het en toeligting versoek het. Daar is op 3 Maart aan dié gesag ’n antwoord gestuur en ons is in afwagting vir die antwoord. Intussen is ons dankbaar dat die klagte teen Piet Kleynhans wat die honde geskiet het wat onwettig op sy plaas gejag het, waarna daar in die skrywe verwys word, wel teruggetrek is. Die onbillike toepassing van ’n regsproses breek gewis die nodige vertroue af vir gemeenskappe om ongekwalifiseerd met regsdienaars in belang van ’n veilige en stabiele samelewing te wil saamwerk.
Dit bly belangrik om alle misdaad te gaan rapporteer en klagtes te gaan lê, ongeag of dit blyk dat daar moontlik niks van gaan kom nie.





