Ons kan op geen wyse redeneer dat dinge nou weer as normaal beskou kan word nie. In groot dele van die land gaan boere steeds gebuk onder ‘n ernstige droogte en ook die gevolge daarvan.
Privaat inisiatiewe gee ‘n mate van morele ondersteuning en dit kan eintlik gesien word as ‘n gebaar om te wys dat daar iewers iemand is wat werklik omgee. Dit is inderdaad so dat baie mense omgee, werklik omgee. Om egter jaar in en jaar uit met privaat inisiatiewe die impak van die droogte volhoubaar te kan oorbrug, is net nie moontlik nie.
Die staat se opheffing van die verklaarde rampgebiede kan op geen logiese wyse verklaar word nie.
Onseker omstandighede rondom ons veiligheid op die plase is soos ‘n kanker wat daagliks aan elke boer se gemoed vreet. Die onsekerheid wat deurlopend in die beleidsomgewing geskep word met veral iets soos onteiening sonder vergoeding, is gewis nie die grootste stimulus vir beleggersvertroue nie.
Elke plaas is ‘n besigheidsentiteit in eie reg en sal hierdie bedreigings en ook ander verskillend ervaar en hanteer. Wanneer al hierdie aspekte inspeel op die winsgewendheid van ons boere, het dit gewis ‘n groot impak op hulle gemoedstoestand. Dit is vir geen persoon maklik om die feit dat die toue nie meer bymekaar uitkom nie, te kan verwerk nie.
Die belangrikheid dat gemeenskappe in stand gehou moet word kan nie genoeg beklemtoon word nie. Daar is gewis sekere dinge waaroor boere en hulle organisasies onderling verskil. Oor droogtehulp en veiligheid behoort daar soliede samewerking oor organisasiegrense heen te wees. Elkeen kan self besef wat is die impak op jou eie boerdery indien die buurplaas ophou funksioneer en in ‘n plakkerskamp verval.
Dit is noodsaaklik dat ons alles in ons vermoë moet doen om seker te maak dat ons mede-boere se ingesteldheid, ongeag die omstandighede, positief moet bly. Mense hanteer druk op verskillende maniere.
Die omstandighede in die land met die inperkingmaatreëls, het veroorsaak dat die ondersteuningsmeganismes waaraan ons voorheen gewoond was, nie meer vir ons beskore is nie. Plekke soos die kerk, sportklubs, kultuurverenigings en doodnormale kuier by mekaar, was ons nie beskore nie, wat veroorsaak het dat boere en hul gesinne (wat saam onder druk verkeer) op mekaar aangewese moes wees.
Dit is belangrik dat ons in dié dae na mekaar moet uitreik. Boereverenigings behoort toe te sien dat daar steunkringe geskep word wat al die boere van die distrik insluit. Gee vir mekaar die nodige morele ondersteuning en hou aan om met mekaar te praat. Aktiveer al die meganismes by die onderskeie kerke soos huisbesoek, bidure, diens van barmhartigheid, eredienste, ens.
Kom ons span ons heel sterkste wapen – die krag van gebed – sterk in. Dit lê op die weg van elkeen om mekaar in gebed te dra. Wysheid vir besluitneming in dié dae is absoluut van kardinale belang. Soos Salomo in die Bybel, moet ons dit afbid.
Boere behoort ook opnuut hulle besighede te herevalueer om te kan aanpas by die veranderde omstandighede. Ontleed watter bydrae elke sektor van die boerdery tot die boerdery se winsgewendheid maak, kry die nodige kundigheid in om te help ontleed indien die behoefte daar is en neem verantwoordelike besluite.
Kom ons fokus ongeag eie beperkings en omstandighede in hoe ‘n mate ons gesamentlik kan kyk hoe ons elke kommersiële boer, veilig en volhoubaar op hulle grond hou.