Danie Bester van Balfour in Mpumalanga is die wenner van TLU SA se Jongboerkompetisie 2020 in ondersteuning met Manitou, Santam en CMH Ford Hatfield. Hy is vandag as die nuwe TLU SA Jongboer van die Jaar aangewys.
“Ons was baie beïndruk met Danie se gebruik van tegnologie en veral die internasionale skakeling en navorsing oor sojaboontjies,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Hy is voorwaar ‘n boer wat nie net aanpas by die hulpbronne tot sy beskikking nie, maar ook die hulpbronne uitbrei en verbeter. Dit is presies die tipe vindingrykheid waarna ons soek onder ons jong boere. Hy het ‘n blink toekoms voor hom.”
Danie (35) het na skool op die Potchefstroomse Landbou Kollege studeer. Soos die meeste kinders wat op ‘n plaas grootgeword het, boer Danie al vandat hy ‘n klein seuntjie was. Hy het toe ook amptelik na skool begin boer, en is die afgelope 12 jaar op Rietbult by Balfour in Mpumalanga. Hy hanteer die graangewasse wat bestaan uit mielies en soja’s terwyl sy pa, wat saam met hom boer, die beesboerdery hanteer.
Hy is getroud met Janet en hulle het twee kinders, Dawie en Janike.
Afgesien van die spogtitel – Jongboer van die Jaar – ontvang Danie die volgende van ons borge:
- ‘n Oorsese reis na die Manitou fabriek in Frankryk;
- R25 000 kontant van Santam; en
- R10 000 kontant van CMH Ford Hatfield.
CT van der Merwe (35) van Dendron in Limpopo is as die naaswenner aangewys. Hy boer die afgelope 13 jaar op Al3 Boerdery met aartappels, botterskorsies, uie, beeste en het onlangs ook dragon fruit by hulle produkte gevoeg. CT ontvang R15 000 van Santam.
Janis Terblanche (32) van Marble Hall in Limpopo ontvang met sy derde plek R10 000 van Santam. Janis boer al vir tien jaar. Hy het die Janis Terblanche Boerdery ses jaar gelede gekoop en boer voltyds met druiwe.
“Ons wens elkeen van hierdie jong boere geluk met hulle vernuf,” sê mnr. Geldenhuys. “Ons is tevrede dat die toekoms van landbou in bekwame hande lê.
“Ons wil ook ons borge Manitou, Santam en CMH Ford Hatfield bedank vir die belangrike rol wat hulle in hierdie kompetisie het. Julle skep hoop deur die belegging in ons jong boere.”