Die Departement Watersake het op 5 Augustus 2022 in die Staatskoerant die hersiening van sy nasionale prysstrategie vir watergebruikers bekend gestel met ’n kommentaar periode van 90 dae. Hierdie uiters ontstellende dokument plaas groot druk op die besproeiingsboere. Die impak hiervan moet met erns aangespreek word.
Dié dokument verwys na publieke belang funksies in terme van waterhulpbron aktiwiteite wat deur die staatskas ondersteun sal word hoewel daar geen spesifikasies is oor wat dié funksies wel is nie. Voedselsekerheid is definitief in publieke belang. Die erns van hongersnood mag nie ligtelik opgeneem word nie. Dit terwyl die regering sy transformasiebeleid in so ’n mate toepas, dat kos op die tafel ’n luuksheid word. Dit terwyl die nasionale doelwit voedselsekerheid is.
Ondanks daarvan is daar die voorstel om ’n multi-jaar tarief in plek te stel om drie jaar se tariewe vooruit bekend te maak.
Die vooruitbepaalde tariewe slaag egter nie die toets van koste effektiwiteit en bekostigbaarheid nie, aangesien die vasgestelde tariewe nie alle ekonomiese aspekte in ag neem nie. Verder word daar na die waterkwaliteit-bestuursplan verwys, hoewel die departement reeds die inwoners gefaal het weens die besoedeling van riviere, damme en natuurlike hulpbronne wat nie behoorlik deur die departement aangespreek is nie.
In dié opsig is dit skokkend dat munisipaliteite die grootste sondebokke is.
Die dokument verwys na hulpbronne kwaliteit doelwitte. Daar is egter geen werklike inligting of aanduiding dat die departement nou uiteindelik die hulpbronne sal beskerm nie. Die departement onderneem om ondersoek in te stel na watermisdade, maar daar is reeds in Limpopo ’n ernstige situasie is waar die uiters sensitiewe Sandrivier deur hewige onwettige mynbedrywighede gestroop word van die sandbasis. Dít is reeds in November 2021 aan die departement gerapporteer. Al wat egter gebeur is ’n oor-en-weer skuif van verantwoordelikhede tussen die Departement Minerale Sake en die Departement Watersake. Die bedrywighede het intussen in erns toegeneem en daar is tot op hede geen werklike aksie van die departement om die misdaad teen die waterhulpbronne aan te spreek nie. Die watergebruiker sal nou verantwoordelik gehou word om die departement se oortredings in terme van die waterwet te finansier.
Die hulpbron behoeftige boer word vrygestel van enige van hierdie heffings vir ’n tydperk van 10 jaar sonder enige voorwaardes. Die Departement Watersake het in die opsig sy eie regulasie wat 31 Oktober 2007 in die staatskoerant gepubliseer is, geïgnoreer. Die dokument is uitsluitlik vir die doel van die hulpbron behoeftige boere opgestel en verwys spesifiek na die hulp wat in terme van water behoefte voorsien word en die voorwaardes wat daarmee gepaard gaan. In terme hiervan is hulp slegs aangebied in die opsig waar die opkomende boer nie oor die nodige fondse beskik nie. Die regering het tot onlangs nog toelae aan opkomende boere uitbetaal wat die belastingbetaler duur te staan kom. Die uitbetalings is in baie gevalle heelwat meer as die wins wat ’n gewone boer in ’n jaar sal genereer.
’n Ekonomiese reguleerder gaan geïmplementeer word hoewel die rol en doelwitte asook verantwoordelikhede van hierdie reguleerder geensins in die dokument gespesifiseer is nie. Die watergebruiker sal verantwoordelik wees om ook die reguleerder se bedryfskoste te finansier. Die dokument verwys na sisteme wat geïmplementeer word wat koste effektief moet wees en nie ’n onnodige finansiële las op die watergebruikers plaas nie. Ten spyte daarvan sal die besproeiingsektor verantwoordelik wees vir verskeie heffings wat insluit die waterhulpbron bestuur-, waterhulpbron infrastruktuur-, die afvalversagting, waternavorsing- en die ekonomiese reguleerder heffing wat geleidelik ingestel sal word.
Neem verder kennis dat indien daar planne is vir hernubare energie deur hidro-energie, die ontwikkelaar ’n verdere heffing sal moet opdok. Die prysstruktuur is gebaseer op c/kWh energie wat opgewek word ten spyte daarvan dat daar geen verbruik daaraan gekoppel is nie. Die heffing is van toepassing waar daar tussen 1 MW en 20 MW krag opgewek word. Hierdie tarief is op NERSA se riglyne gebaseer.
Die prysstrategie-riglyn wat gebruik is vir die verhoging in tariewe (veral ten opsigte van rou water) is gebaseer op die gemiddelde prys vir elektrisiteit soos deur Eskom-gebruik bereken.
Hierdie toepassing is geensins aanvaarbaar nie, aangesien Eskom se tariewe gebaseer is op swak onderhoud, die vergoeding en verhoging van kriminele werknemers wat vergoed word vir stakings en die befondsing van ’n korrupte sisteem binne Eskom. Die moontlikheid vir ’n billike en regverdige verhoging in tariewe is dus reeds van die tafel gevee.
Bogenoemde in ag geneem gaan water nie net die besproeiingsboer nie, maar ook die gebruiker duur te staan kom. Voedsel kan nie langer bekostigbaar aan die verbruiker beskikbaar gestel word as insetkoste deur die regering uitgebuit word om die reeds nie-funksionele korrupte departemente te befonds nie.



