Hoewel daar in munisipale kringe gegons word oor begrotings en ontwikkelingsplanne, is daar op landbouvlak nooit sprake van ontwikkeling nie. Jou eiendom is te ver buite die bedieningsarea van die munisipaliteit, maar nie te ver vir hoër eiendomsbelastingtariewe nie. Om te voorsien vir die behoeftige werklose massa. Dit, terwyl die landbougrondeienaar werk verskaf aan die wat geen ander heenkome kan vind nie.
Dan word daar behuising gebied aan werknemers, met krag en water. Riolering, vervoer, onderhoud van begraafplase, buitemuurse aktiwiteite soos sokkervelde, vars kos uit die grond, werkloosheidsversekering en beroepsgesondheidsversekering, ook. Daarby word die grondeienaar verplig om onbekostigbare minimum lone te betaal terwyl diefstal seëvier. Die aanslag op landbou is so groot dat dit slegs ‘n wonder is dat die boer nog staande bly.
In 1994 het ons almal in lang rye gestaan om ons stem uit te bring. Dertig jaar later kyk ons terug en alles is vervalle, verbreek, besteel, verbrand, en, korrupsie word openlik gepleeg terwyl die regering alles toesmeer, onder wanuitsprake van die tafel vee, ignoreer, en deur rassisme regverdig.
Ons moet onsself vra – hoe verder? Wie plaas hierdie korrupte, wanadministratiewe, uitbuitende persone in diens om die land te plunder en te besteel? Die stemgeregtigdes wat opdaag by die stembusse, ‘n kruisie trek agter die geel, groen en swart vlag en uitstap met ‘n t-hemp, hoed, kos en beloftes wat net weer nie nagekom word nie.
Ons as landbouers het ‘n verpligting teenoor ons voorgeslagte maar ook ons nageslagte. Ons moet inspraak lewer. Ons moet ons stem ook laat hoor en ons moet ons kruisie gaan trek. In jou gebied, die vakuum waar jy moet oorleef moet jy jouself in ‘n posisie stel om raadslede te bemagtig om vir jou op te tree.
Hierdie is nie politiek waarmee ons onsself besig hou nie, maar oorlewing. Maak seker jy is geregistreer vir die verkiesing in 2024.