Pampoene op dakke, op bakkies, op sleepwaens, op rakke, en selfs in die nuus. Die groot vraag wat oral gevra word, bly egter: gaan ons vanjaar die gesogte 1 ton-pampoen sien? Die kwekers bly stil, maar die afwagting en opgewondenheid is groot.
Indien ’n pampoen wel die indrukwekkende 1 ton-merk haal, is daar ’n kontantprys van R35 000 op die spel, geborg deur Laeveld Agrochem. Daarbenewens is daar pryse vir die eerste tien swaarste pampoene, junior kwekers onder 16 jaar, asook vir die mooiste en selfs die “lelikste” pampoen. Die gewilde pampoenpitspoeg- en pampoenresies-kompetisies sorg verder vir pret en gesinsvermaak.
Die jaarlikse Goliat van Gat se Pampoenfees aangebied deur Cullinan Boere-unie vind plaas op Saterdag, 14 Maart 2026, by die Lavender Kontrei Mark, Onderstepoort, Pretoria, vanaf 09:00 tot 15:00.
Intussen het die feestelikhede reeds afgeskop met ’n gewig-raai-kompetisie by Fruit Stop in 10de Laan, Gezina, Pretoria. Die publiek word uitgenooi om daar ’n draai te maak, iets te koop, in te skryf en ’n kans te staan om ’n koopbewys te wen.
Voorbereidings vir die groot kompetisiedag is reeds volstoom aan die gang. Feesgangers kan uitsien na lewendige vermaak deur die bekende sanger Pieter Koen, talle stalletjies, genoeg eet- en drinkgoed, asook ’n kindervriendelike vermaakarea. Daar sal voldoende sit- en kuierplek wees vir die hele gesin.
Toegang beloop R20 per persoon, terwyl pensioenarisse en kinders onder 12 jaar gratis toegang geniet.
Daar word ook ’n pampoengereg-kompetisie aangebied. Bring jou gunsteling pampoengereg, skryf in, en staan ’n kans om ’n kookles by Steyn’s Kookskool in Hatfield, Pretoria, te wen.
Hierdie fees word moontlik gemaak deur die getroue ondersteuning van ons borge en vennote, naamlik: Laeveld Agrochem, Uitkyk Vleismark, Capital Scales, Yara, Rolfes Agri, Obaro, Steyn’s Culinary School en Fruit Stop.
Daar is steeds geleentheid vir uitstallers (let wel: geen kos- of drank stalletjies nie, aangesien gevestigde verskaffers reeds by die mark teenwoordig is). Navrae oor die dag en beskikbare staanplekke kan gerig word aan Henri Combrink by culliboer@gmail.com of 082 552 9428.
Ons nooi die publiek hartlik uit om deel te wees van hierdie unieke landboufees!



