In die land van die blindes kraai Enoch koning

Die Medium-termyn begrotingstoespraak is op 30 Oktober vanjaar deur die minister van finansies,, Enoch Godongwana aan die parlement voorgelê. Hierdie toespraak het nie net die stand van sake rapporteer aan die land se inwoners nie, maar ook die begroting se beleidsraamwerk vir die volgende finansiële jaar aangekondig.

In sy toespraak haal die minister die president aan deur te verwys na die drie hoogste prioriteite van die regering van nasionale eenheid (RNE), naamlik:

  • Die bevordering van inklusiewe groei en werkskepping;
  • Die bestryding van armoede en hoë lewenskoste;
  • Om ‘n bevoegde en etiese ontwikkelende staat te skep.

Om hierdie drie doelwitte te bereik, is daar sekere voor die hand liggende stappe wat gevolg moet word. Indien die regering werkskepping teweeg wil bring, moet hulle die privaatsektor stimuleer met ‘n gunstige beleidsomgewing. Om ‘n gunstige beleidsomgewing te skep, moet sekere beleide soos die buitensporige minimumloon en onteiening sonder vergoeding, afgeskaf word. Deur hierdie twee beleidstandpunte te laat vaar, sal die regering vir beleggers wys dat hulle ernstig is oor ekonomiese groei, en sal die omgewing gunstig wees vir besighede om te floreer. Sodoende word werkloosheid en armoede beperk.

Om die lewenskoste te verlaag, kan die regering gerus ondersoek instel na ‘n model van landbou-subsidies om insetkostes te verlaag. Niemand kan voortdurend teen ‘n verlies boer nie, en hoe hoër die insetkostes word as gevolg van stygende brandstofpryse, elektrisiteitspryse en kunsmispryse, hoe hoër gaan die uiteindelike verwerkte voedselprodukte bly word. Almal in die voedselwaardeketting moet winsgewend wees, en met die regering wat aanhoudend pryse op broodnodige middele soos brandstof en elektrisiteit verhoog, is hulle juis die sondebokke wat die lewenskoste opjaag.

Om ‘n bevoegde en etiese, of dus betroubare staat te skep, behoort seker die eerste en hoogste prioriteit te wees. Daarbenewens sal vele ander kwessies opgelos kan word indien die staat bevoeg en betroubaar is. Om dit te bewerkstellig, is daar weereens nie ‘n moeilike oplossing nie. Staak kaderontplooiing op elke vlak van die regering en doen afstand van die rassistiese beleid van swart ekonomiese bemagtiging wat meer klem op ‘n persoon se ras plaas as op sy kwalifikasies en bevoegdheid om die werk te verrig waarvoor hy/sy aangestel word.

Dit sou die logiese oplossings wees om die drie prioriteite van die RNE op die lange duur te verwesenlik, maar ongelukkig is die strategie wat daarna aangekondig is meer kortsigtig soos wanneer ‘n mens met een oog afstand probeer skat.

Die RNE se strategie wat deur minister Enoch aangekondig is, steun op vier pilare, soos hy dit bestempel het. Die vier pilare lui as volg:

  • Om makro-ekonomiese stabiliteit te behou;
  • Om nuwe strukturele hervormings in plek te stel;
  • Om ondersteuning te gee aan infrastruktuur-ontwikkeling wat groei sal stimuleer
  • Om die staat se kapasiteit en bevoegdheid uit te brei.

Makro-ekonomiese stabiliteit
Myns insiens is die staat se belangrikste werk, en enigste prioriteit om ‘n makro ekonomiese klimaat te skep wat geskik is vir groei. Daarom kan ek met die minister ooreenstem met dele van die eerste punt. Ongelukkig moet daar net ‘n vraagteken geplaas word oor die deel van die eerste stelling dat makro-ekonomiese stabiliteit behou moet word. Dit kan nie behou word nie, want dit moet eers geskep word. Dit kan slegs geskep word wanneer daar ‘n beleidsraamwerk bestaan waarbinne die verskeie rolspelers in die ekonomie veilig gelaat word om voorspoedig voort te woeker sonder oormatige regulatoriese inmenging van die staat.

Strukturele hervorming aan Staatsbeheerde Ondernemings (SBO’s)
Die tweede pilaar, verduidelik die minister, gaan daaroor om strukturele hervorming te laat posvat en hy steun veral op Operation Vulendlela wat daarop gemik is om vier SBO’s te hervorm. Hierdie entiteite sluit Eskom, Rand Water Raad, kommunikasienetwerke soos Telkom en die vervoernetwerk (Transnet) in. Elkeen van hierdie ondernemings is onder sakeredding geplaas in die afgelope dertig jaar onder die ANC se administrasie, en elkeen van hierdie ondernemings was hoogs suksesvol voor die ANC-regering oorgeneem het. Die vyfde deel van Operation Vulendlela is gemoeid met die beleidsraamwerk rondom die verkryging van visas vir buitelanders, en die minister spog in sy toespraak daarmee dat daar nou 34 lande is wie se burgers sonder moeite visas vir Suid-Afrika kan bekom.

Visas
Ongelukkig het die minister nie uitgebrei op watter 34 lande dit is nie, en of dit lande is wat potensiële beleggers na Suid-Afrika kan lok, en of dit kommunistiese lande is of arm Afrika state is nie. Dit bly ʼn onbeantwoorde vraag.

Water
Onder die prestasies van Operation Vulendlela lig die minister die feit uit dat waterlisensie-aansoeke se wagperiode vir goedkeuring verkort is van byna ʼn jaar na slegs 90 dae. Weereens sal dit interessant wees om te sien of hierdie aansoeke die van boere wat wil besproei insluit, en of dit meestal aansoeke is van myne wat vriende op die regte komitees binne die departement het. Die minister gaan dan verder om te sê dat daar met alle erns ook na die waterleweringsdienste van Suid-Afrika gekyk gaan word en dat daar planne is vir die opgradering van die waterleweringsnetwerk.

Energie
Aldus minister Enoch sal die regering van nasionale eenheid daartoe streef om te verseker dat ʼn kompeterende mark vir elektrisiteitsvoorsiening geskep sal word om sodoende ook die druk op die stelsel te verlig. Dit is voorwaar verblydende nuus, mits die regering nie die vuisvoos verbruiker verder belas met heffings op elektrisiteit wat hy self opwek deur middel van watter alternatiewe opwekkingsmetode ook al nie.

Vervoer
Daar word beplan om die Suid Afrikaanse spoorweë oop te stel vir privaat-operateurs om alternatiewe metodes van vragvervoer na die binneland moontlik te maak. Weereens kan niemand fout vind met hierdie inisiatief nie. Die bepalende faktore van ʼn suksesvolle spoorvervoerstelsel is egter of die vrag van goedere, lewende hawe of passasiers veilig by die bestemming sal aankom, en of die treine doeltreffend en sonder onderbrekings sal kan funksioneer. As die persoon wat ʼn vrag wil vervoer weet dat sy vrag veilig en betyds by die volgende bestemming gaan opdaag, en dat dit teen ʼn kompeterende prys vervoer gaan word, sal dit beslis suksesvol wees. Die eerste stap sal egter wees om die spoorwegpolisie weer te aktiveer, en sodra die spoorlyne beveilig is, kan die nodige herstelwerk begin aan die dele wat vir skrootmetaal geplunder is. As die staat daardie verantwoordelikheid nagekom het, sal die privaatsektor met graagte deelneem.

Die minister noem aan die einde van die insetsel oor Operatioin Vulendlela dat hulle op die bogenoemde suksesse sal voortbou. Geagte Minister, daar is nie suksesse om op voort te bou nie. Alle SBO’s is diep in die rooi, en solank as wat daar kader-ontplooiing plaasvind en ras of politieke affiliasie bo bekwaamheid gestel word, sal daar ook nooit suksesse wees nie. Om van Operation Vulendlela en soortgelyke programme ʼn sukses te maak, is die antwoord eenvoudig: skep ʼn gunstige ekonomiese klimaat waarbinne maatskappye in die privaatsektor hierdie dienste kan oorneem.

Die ontwikkeling van infrastruktuur
Die minister se plan om die privaat sektor te betrek by die ontwikkeling van infrastruktuur om sodoende groei in die medium termyn te bevorder en armoede en werkloosheid op hok te slaan, is beslis ʼn werkbare plan. Daar is egter ʼn hele paar olifante in die vertrek wat eers aangespreek moet word alvorens hierdie plan in werking gestel kan word.

Geen belegger gaan geld bewillig indien hy/sy weet dat daar ʼn goeie kans is dat daardie kapitaal in die bodemlose putte van tenderpreneurs gaan beland wat gaan wegraak met die geld sonder om die werk te voltooi nie. Spreek eerstens die korrupsie binne die staat aan en word ʼn betroubare staat waarin die privaat sektor wil belê. Verder moet die diskriminerende wetgewing van swart ekonomiese bemagtiging en die voorgestelde wetsontwerp op onteiening sonder vergoeding laat vaar word. Die land is besig om sakelui en beleggings af te skrik juis as gevolg van die feit dat die regering homself die reg wil toe-eien om privaat eiendom te neem sonder om die wettige eienaar(s) daarvoor te vergoed. Of hulle dit gaan implementeer of nie is nie eens ter sprake nie. Die blote feit dat die regering daardie mag wil hê is genoeg om die ekonomie te knie-halter. Daar is legio voorbeelde van state in Afrika wat presies hierdie wetgewing toegepas het, en hoe hulle ekonomieë in duie gestort het.

Die uitbreiding van staatskapasiteit en bevoegdheid
Bevoegdheid kan sonder moeite bewerkstellig word. Stel bloot net die persone aan wat die beste kwalifikasies en bewese ondervinding het vir die taak wat verrig moet word, sonder dat ras of sosio-ekonomiese klas ʼn rol speel.

Verder behoort die staat se kapasiteit nie uitgebrei te word nie, dit behoort net op nuut aangewend te word om beter doeltreffendheid te verseker. Die staat het twee take, naamlik om die burgers van die staat veilig te hou, en om ʼn beleidsraamwerk te skep waarbinne ekonomiese groei kan gedy.
Die markkrag beginsels van winsgewendheid vereis dus dat daar afgesien moet word van diskriminerende wetgewing wat ongelykheid en rassediskriminasie verder bevorder.

Die antwoord vir ekonomiese groei, Minister Enoch, is dus die volgende:

  • Beveilig die burgers van Suid-Afrika met ʼn doeltreffende, goed opgeleide en toegeruste, betroubare polisiemag wat sorg dat kriminele elemente nie ekonomiese aktiwiteite verhinder nie.
  • Vermy inmengende regulatoriese wetgewing soos die wet op die minimumloon wat werksverskaffers verhoed om meer mense aan te stel en eerder te meganiseer en te outomatiseer. Laat die kwessies van werkloosheid en armoede oor aan die markkragte vir langtermynoplossings.
  • Laat vaar die oormatige heffings wat op voedselbronne en landbou-insette geplaas word om sodoende die lewenskostes te verlaag.
  • Bou vertroue in die regering deur korrupsie te beveg en nie privaateiendomsreg te bedreig met kommunistiese en sosialistiese wetgewing nie. Vertroue sal beleggings lok wat ekonomiese groei sal laat plaasvind.

Ten slotte is hierdie bogenoemde voorstelle nie die van ʼn ekonoom nie. Dit is nie die van ʼn kundige in die finansiële bedrywe van bankwese of rekeningkunde nie. Dit is bloot die logiese gevolgtrekkings van ʼn gewone burger van Suid-Afrika met ʼn belang by die sukses van ons pragtige land.

Jaco Cilliers

Kategorie:

Deel dit:

In die land van die blindes kraai Enoch koning

Windscreen Masters

Enige lid/vriend wat deur Windscreen Master hul ruit laat vervang, kan dit op die plek van sy keuse laat doen. Windscreen Master hanteer ook die skakeling met die lid/vriend se makelaar/versekeraar asook die registrasie van die eis indien van toepassing.

Verco Energy

Verco Energy lewer goedkoper diesel aan TLU SA affiliasies/lede/vriende in sekere afleweringsgebiede.

Timac Agro

Spesiale aanbiedinge om kunsmis teen beter pryse aan te koop, slegs vir TLU SA-lede.

Relevante artikels

NBM

TLU SA se ooreenkoms met NBM bepbaal dat TLU SA affilliasies/lede/vriende afslag ontvang op verskeie versekeringsprodukte

Hendrik de Swardt

082 852 8039

Philippie de Beer

083 230 4583

Relevante artikels

LWO

Die LWO ondersteun boere as werkgewers in alle aspekte rakende arbeidsregwetgewing.

MarketVest

MarketVest maak gebruik van gevestigde, gekontrateerde groenkaart tegniese kontrakteurs regoor die land wat vinnig hulp kan verleen met aanbevelings en installasies. Vir elke suksesvolle afgehandelde installasie wat deur TLU SA na MarketVest verwys word, ontvang TLU SA ʼn verwysingfooi.

Firearms Guardian

Firearms Guardian is ’n unieke korttermynversekeringspakket vir vuurwapeneienaars. Dit bied dekking teen regskostes en aanspreeklikheidseise, wat spruit uit selfverdediging, skiet-ongelukke, strafregterlike vervolging, jagtogte wat skeefloop, sportskiet-ongelukke, en vele meer.

Finco Finance

Finco Finance ondersteun TLU SA-lede met finansiering by handelsbanke.

Pitkos

Die Pitkos is TLU SA se nuusbrief slegs vir lede. Hierin gee ons vir lede inligting oor die aksies waarby ons betrokke is, standpunte wat ons inneem, spesiale aanbiedinge wat vir lede beding is, opkomende geleenthede en waardevolle inligting soos aankondigings in die Staatskoerant wat op landbou betrekking het.