Die toekenning van waterlisensies vir landbou volgens ras sal ‘n verreikende impak op die volhoubaarheid van landbou hê en dit is nou tyd vir alle Suid-Afrikaners om hulle kommer hieroor amptelik te laat hoor.
Die departement van waterwese en sanitasie (DWS) het op 19 Mei voorgestelde konsepregulasies vir die toekenning van waterlisensies in die Staatskoerant gepubliseer. Een van die vereistes is dat die lisensies vir landbou en bosbou toegeken moet word aan entiteite wat tussen 25% en 75% swart aandeelhouding het. (Sien die regulasies hier)
“Die regering se pogings om alles wat leef en beef volgens rassyfers te klassifiseer was nog altyd kortsigtig. Maar om nou te sê dat kleur belangriker as kos is, is werklik verregaande,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Kommersiële boere – wat TLU SA-lede insluit – voorsien kos aan ongeveer 70% van Suid-Afrika. Indien die regulasies deurgevoer word sal dit beteken dat baie van hierdie boere nie vir waterlisensies kwalifiseer nie. Sonder water is daar nie landbou nie en sonder landbou is daar nie kos nie. Dit is so eenvoudig.”
TLU SA het jare gelede, en herhaaldelik daarna, voorstelle aan die regering gemaak oor hoe om opkomende boere met voldoende leiding tot die landboubedryf in te lei sodat hulle volhoubaar kan boer. Die voorstelle is egter verwerp. Indien die voorstelle geïmplementeer was, sou dit nie nodig gewees het om nou wetgewing op te stel om raskwotas af te dwing nie.
TLU SA is besig om kommentaar teen die beoogde veranderings aan waterwetgewing saam te stel. Dit moet teen 18 Julie 2023 ingedien word. Intussen het TLU SA dit makliker gemaak vir enige Suid-Afrikaner om self kommentaar hieroor in te dien deur hierdie skakel te gebruik.









