James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Klimaats- en landbouvooruitsigte

deur Johan van den Berg, Onafhanklike Landbouweerkundige (M.Sc Agric, Agricultural Meteorology)

Opsomming

  • Beide die La Nina en die Indiese Oseaan Dipool (IOD) neig na neutrale vlakke.
  • Reënvalverwagtings word swakker as gevolg van die verswakkende La Nina, maar meer so as gevolg van die ontwikkeling van sterk laagdruksisteme in die gebied rondom Madagaskar.
  • Ekstreme hoë temperature met moontlike hittegolf toestande kom voor oor die sentrale, westelike en suidelike dele van die land en kan voortduur.
  • Daar is ’n groot bekommernis oor die damvlakke van die Wes-Kaap wat vinnig daal sowel as ’n negatiewe vooruitskouing vir winterreë

 

Huidige toestande

Swaar neerslae het voortgeduur gedurende Desember 2022 oor die sentrale, noordelike en oostelike dele van die Somer reënvalgebied. Meer as 300m is gedurende November en Desember 2022 gemeet in distrikte soos Pretoria, Johannesburg, Barberton, Mokopane, Potchefstroom, Greytown en Pietermaritzburg. Kleiner dele van bogenoemde distrikte sowel as distrikte soos Bethlehem en Kroonstad het selfs meer reën gekry tot 500mm of meer. Ver bogemiddelde reënval het ook in Desember in die Winterreënvalgebied voorgekom as gevolg van La Nina wat sterk laagdruksisteme laat ontstaan het oor die westelike binneland en wat reënval-totale van tussen 40mm en 100mm oor groot dele van die Winterreënvalgebied asook aangrensende dele van ander provinsies veroorsaak het.

 

Toestande bly egter steeds baie droog oor dele van die Noord-Kaap, veral die westelike Kalahari. Veldbrande kom gereeld voor as gevolg van weerlig en die groot hoeveelheid brandbare materiaal vanaf die vorige seisoen se baie gras en plantegroei.

 

Somer graanboere het in sekere dele baie nat toestande ervaar wat versuipskade tot gevolg gehad het en wat ’n baie onegalige groei en ontwikkeling laat plaasvind het. Die grootste deel van die somergrane is ook ten minste een tot twee weke buite die optimum plantvenster aangeplant, veral in die oostelike dele wat ’n redelike risiko inhou indien vroeë ryp sou voorkom. Tans is dit baie moeilik om die omvang van skade te bepaal, want dit wissel tussen baie swak toestande tot baie gunstige toestande. Aanplantings in Noordwes lyk tans die beste. Die maak-of-breek tyd vir somergraanproduksie sal in Februarie en Maart voorkom wanneer veral mielies in die belangrike blom- en pitvulstadiums sal wees. Die risiko vir hitte-golwe, baie droë toestande (veral in gronde wat nie ’n goeie waterhouvermoë het nie) asook vroeë ryp is tans die groot risiko vir veral baie laat aanplantings.

 

Opgaardamme in die Somerreënval gebied is tans op baie hoë vlakke vir hierdie tyd van die jaar met bykans al die groot opgaardamme in die Vrystaat op 100% of meer. Die gemiddelde damvlakke in die Wes-Kaap het gedaal tot benede 60% in die eerste week van Januarie in vergelyking met die ongeveer 80% verlede jaar dieselfde tyd. Die Theewaterskloofdam is huidig op 64% wat ongeveer 30% laer is as verlede jaar dieselfde tyd. Die Clanwilliamdam is op 56%, 36% laer as die 92% verlede jaar en is ’n groot bron van kommer omrede vlakke met meer as 4% per week daal en selfs meer met die huidige en verwagte baie warm toestande. Teen die huidige tempo kan die dam reeds byna leeg wees teen die einde van Maart met die reënseisoen wat eers in Junie/Julie begin. Die Oos-Kaap se damme is gemiddeld 78.6% vol teenoor die 62.5% verlede jaar dieselfde tyd. Die belangrike Kougadam is steeds baie leeg op ongeveer 15.9% in vergelyking met die 17.6% verlede jaar. Die Impofudam is op 7.25% teenoor 14.7% verlede jaar.

 

Die watervlak van die Karibadam het ’n laagtepunt van net 0.8% van die bruikbare water vir hidrokragopwekking bereik teen die einde van Desember in vergelyking met die 20% die vorige jaar. Met ’n bietjie reën in Januarie 2023 het dit effens gestyg tot 1.8% van bruikbare water. Die lae damvlak is rede tot groot kommer wat betref hidro-kragopwekking. Die Katsedam in Lesotho is op 101% en die Mohaledam op 103%.  Die Hardapdam in die suide van Namibië is op 51% en die grootste dam, die Neckartaldam, op 95%.

 

ENSO en Indiese Oseaan

 

ENSO (El Nino Suidelike Ossilasie)

Nadat daar ’n vinnige verswakking van La Nina gedurende November 2022 plaasgevind het, was daar weer ’n effense herlewing in Desember 2022. ’n Volgende fase van verswakking het begin voorkom sedert ongeveer Kersfees waar dit met ongeveer 20% tot 30% verswak het sedert die piek in Oktober.

 

Een van die beste indikators van die status van El Nino/La Nina is die Suidelike Ossillasie Indeks  (SOI). Op ’n skaal van +30 (sterk La Nina) tot -30 (sterk El Nino), was die 30-dae gemiddelde SOI op ’n hoë waarde van +21.5 op 9 Januarie 2023 nadat dit op +6 was teen die einde van November. Hierdie hoë waarde lyk na ’n teenstelling tussen die verswakkende fase van La Nina en styging in die SOI. Die antwoord is geleë in meer lokale weerpatrone rondom Australië. Tropiese sikloon Ellie het die Noordelike gebied rondom Darwin getref en was verantwoordelik vir baie lae barometriese lugdruk teen die einde van Desember en eerste deel van Januarie en nie ’n ware weerspieëling van die SOI nie. Onthou dat die lugdruk verskil tussen Darwin en Tahiti (in die sentrale Stille Oseaan) gebruik word om die SOI te bereken.

 

Die aanduidings tans is dat die SOI vinnig sal verswak in die volgende weke om neutrale vlakke te bereik in Februarie en behoort neutraal te bly vir die winter en lente. Dit is tans nog baie onseker of dit sal vorder tot El Nino-vlakke teen die lente/somer van 2023/24.

 

Indiese Oseaan 

Die Indiese Oseaan Dipool (IOD) indeks is tans neutraal met voorspellings wat dui dat neutrale vlakke gehandhaaf behoort te word tot ten minste die middel van winter, maar aan die positiewe IOD kant van neutraal wat beteken dat Indiese Oseaan oppervlaktemperature effens warmer nader aan die Afrika kuslyn gaan wees. ’n Positiewe IOD is ’n negatiewe sein vir reënval vir Suidelike Afrika.

 

Korttermynvoorspellings toon die ontwikkeling van redelike sterk laagdrukstelsels in die westelike Indiese Oseaan rondom Madagaskar vir Januarie en Februarie as gevolg van die warmer see-oppervlaktemperature in daardie gebied.

 

Reënval en klimaatsvooruitsigte

 

Somerreënvalgebied  

Die huidige stadiger as verwagte verswakking van La Nina sedert begin Desember is verantwoordelik vir groot onsekerheid in vooruitskouings. Dit lyk eerder asof sikloontipe ontwikkelings in die westelike Indiese Oseaan ’n groter rol gaan speel alhoewel die swakker wordende La Nina ook ’n bydrae kan lewer. Die algemene voorspelling is vir swakker reënvaltoestande in die komende maande.

 

Limpopo, noordelike dele van Gauteng en die Laeveld

  • Langtermyn: Ongeveer gemiddelde reënval vir die grootste deel van die gebied op mediumtermyn maar droër toestande in die tweede deel van die somer vanaf Februarie tot Mei. Swaar neerslae in kleiner gebiede is steeds moontlik maar groter gebiede met onder gemiddelde reë
  • Korttermyn: Tussen 30 en 50mm is moontlik in die volgende weke, veral vanaf 18 tot 25 Januarie en weer in die eerste twee weke van Februarie.

 

Suidelike dele van Gauteng, Hoëveld van Mpumalanga asook noordoostelike dele van die Vrystaat

  • Langtermyn: Gemiddeld vir die res van Januarie en eerste deel van Februarie maar droër vanaf tweede deel van Februarie tot Mei.
  • Korttermyn: Tussen 30 en 50mm is moontlik in die volgende weke, veral vanaf 18 tot 25 Januarie en weer in die eerste twee weke van Februarie.

 

Noord-Kaap (noord van die Oranjerivier), Noordwes en sentrale tot westelike dele van die Vrystaat

  • Langtermyn: Gemiddeld tot onder gemiddelde reë Met die teenwoordigheid van tropiese sikloonaktiwiteit is dit moontlik dat daar tog reën kan voorkom weswaarts oor Namibië en die Noord-Kaap op die perimeter van die hoogdrukstelsel wat geleë is oor die sentrale tot oostelike dele van die land. Andersins baie droog.
  • Korttermyn: Tussen 10mm en 40mm is moontlik vanaf 20 tot 29 Januarie. Ekstreme warm toestande tot ten minste die middel van Februarie.

 

Oos-Vrystaat, suidelike dele van KZN asook noordelike/noordoostelike dele van die Oos-Kaap

  • Langtermyn: Gemiddelde tot bogemiddelde reënval vir Januarie en eerste deel van Februarie, maar droog in die tweede deel van die seisoen.
  • Korttermyn: Meer as 40mm is moontlik vanaf ongeveer 20 Januarie tot 10 Februarie. Swaar neerslae is steeds moontlik.

 

Suidelike dele van die Noord-Kaap en aangrensende dele van die Oos-Kaap

  • Langtermyn: Gemiddelde tot onder gemiddelde reënval vir die volgende maande.
  • Korttermyn: Baie min reën met slegs ligte reën in die laaste 10 dae van Januarie. Baie warm toestande kan voortduur.

 

Suidelike dele van Oos-Kaapse kusgebiede en res van Tuinroete

  • Langtermyn: Daar is ’n redelike groot moontlikheid van gemiddelde tot onder gemiddelde reën vir die volgende maande.
  • Korttermyn: Slegs ligte neerslae van minder as 20mm kan verwag word in die volgende twee tot drie weke tot middel Februarie.

 

KZN binneland en noordelike kusgebiede

  • Langtermyn: Gemiddelde tot bogemiddelde reënval tot Maart. Daar is ’n moontlikheid van tropiese siklone wat swaar reën kan veroorsaak.
  • Korttermyn: Tot 50mm of meer is moontlik in die volgende weke met ’n moontlikheid van lokale vloede. Daar is ’n risiko oor veral die noordelike dele dat tropiese siklone swaar reën kan veroorsaak.

 

Winterreënvalgebied

  • Langtermyn: Onder gemiddelde reënval vir komende maande. Met die La Nina wat gaan oorbeweeg na neutrale toestande is dit ’n negatiewe sein vir reënval vir die tradisionele reënmaande in die winter.
  • Korttermyn: Baie min reën oor veral die sentrale tot westelike dele met slegs ligte neerslae van minder as 5mm tot 10mm moontlik. Temperature baie hoog, veral na die suidwestelike dele.

 

Namibië

  • Langtermyn: Ten minste gemiddelde reënval vir Januarie en eerste deel van Februarie maar onder gemiddeld vanaf ongeveer die tweede deel van Februarie.
  • Korttermyn: Swaar neerslae is steeds moontlik vanaf 20 tot 25 Januarie oor die noordelike binneland, ongeveer noord van Windhoek. Temperature gaan warm tot baie warm wees.

 

Vrywaring

 

Die outeur of enige ander partye in die dokument genoem of aangehaal,  waarborg geensins die akkuraatheid, volledigheid of betroubaarheid van die inligting in die dokument nie. Enige aksies of besluite wat geneem word op grond van die inligting in hierdie dokument word op eie risiko geneem en sal die outeur, Santam of enige ander partye genoem in die dokument geensins verantwoordelik wees vir enige verliese of skades in verband met die gebruik van die inligting soos wat dit voorkom in hierdie dokument nie.

 

Kategorie:

Deel dit:

Klimaats- en landbouvooruitsigte