Hoe lank sal die Suid-Afrikaanse ekonomie die impak van die ANC se beleidsomgewing kan weerstaan? In die lig van gedeelde bekommernisse en toewyding aan die belange van Suid-Afrikaanse werkers en werkgewers, dring TLU SA, die South African Parastatal and Tertiary Institutions Union (Saptu), die Nasionale Werkgewersorganisasie (NEASA) en die Suid-Afrikaanse Agri Initiatief (Saai) daarop aan dat die Departement van Arbeid in konstruktiewe gesprek moet tree en die bestaande minimumloonbeleid moet heroorweeg.
Die vier organisasies het deurgaans beswaar gemaak teen die konsep van ‘n gereguleerde nasionale minimumloon, en beweer dat Suid-Afrika se werkloosheidskrisis ‘n ander benadering vereis.
TLU SA en Saptu se voorlegging stipuleer verskeie minimumvereistes vir toekomstige loonregulasies, insluitend minimum onderwysstandaarde, voorkeur aan produktiwiteit bo blote teenwoordigheid, aanspreek van infrastruktuuruitdagings, herstel van eiendomsreg, en afskaffing van rasgedrewe beleide.
NEASA en Saai stem met hierdie siening saam en het deurgaans beswaar gemaak teen die konsep van ‘n gereguleerde nasionale minimumloon. Hulle stel voor dat werkloosheid aangespreek word deur op onderwys te fokus, werknemers se vaardighede te verbeter en ekonomiese groei te stimuleer en sodoende lone organies binne ‘n mededingende vrye mark te verhoog.
Teen ‘n agtergrond van rekord vlakke werkloosheid, armoede en honger, gepaardgaande met 28 miljoen mense wat vir ‘n lewensbestaan van staatstoelae afhanklik is, moet die minimum loon eintlik heeltemal geskrap word. Geen wetgewing, regulasie of aankondiging kan entrepreneurs dwing om werk te skep nie, en Suid Afrika is ‘n pynlike getuie dat dwase populistiese minimum lone miljoene werkgeleenthede vernietig.
Ervaring van die regering se versoeke vir openbare kommentaar op hul verhoging van die minimum loon het egter geleer dat ekonomiese werklikhede geen gewig dra nie, en werkgewers se belange bloot geïgnoreer word. Die weghol werkloosheidstatistiek is deur-en-deur ‘n produk van die ANC-regering se blindelingse ideologie, en die beoogde verhogings in 2024 sal net tot verdere rasionalisasie van arbeid lei.
Terwyl TLU SA en Saptu die potensiële voordele van ‘n minimumloon erken, is hulle van mening dat dit slegs in ‘n omgewing van suksesvolle besighede en werkgeleenthede gerealiseer kan word – iets wat die huidige beleidsomgewing nie kon bereik nie. Markgedrewe vergoeding sal die Suid-Afrikaanse ekonomie weer stabiliseer. Die beste langtermynoplossing vir loonbepaling is om markkragte toe te laat om werkers te vergoed op grond van verdienste, met inagneming van produktiwiteit en opvoedingsvlakke.
Verskeie organisasies en individue het al kommer oor die huidige regering se mislukking om ‘n gunstige omgewing vir ekonomiese groei te skep, uitgespreek. Dit sluit ook toepaslike regulering van minimumlone, wat tot nadelige gevolge vir werkers en werkgewers gelei het, in. TLU SA, as ‘n lank bestaande voorstander van die boeregemeenskap, beklemtoon die uitdagings, soos natuurrampe, wat Suid-Afrikaanse boere in die gesig staar. Die organisasie glo dat gesonde markbeginsels, soos markgedrewe vergoeding, voedselsekerheid te verseker.
Twee prominente vakbonde, Solidariteit en die Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika (NUMSA), beveel ook die afskaffing van die nasionale minimumloon aan. Tog het die Kongres van Suid-Afrikaanse Handelsunies (COSATU) voorgestel om die verbruikersprysindeks (VPI) met 3% in 2024 te verhoog, wat ideologiese verskille binne arbeidsorganisasies beklemtoon.
Die voorleggings wat deur TLU SA, Saptu, NEASA en Saai gemaak is, spreek die fundamentele kwessie van die ANC se ideologiese standpunt en die impak daarvan op ekonomiese beleid aan. Terwyl die regering “werk vir almal” predik, het hul optrede in ‘n ander rigting gelei en die skep van ‘n lewende ekonomie in Suid-Afrika belemmer.
UITGEREIK DEUR TLU SA, Saptu, NEASA en Saai
Foto: micheile henderson | Unsplash