Die publiek het tot 13 Augustus 2021 geleentheid om kommentaar te lewer op die nuwe wysigings rakende art. 25 van die Grondwet te make met onteiening sonder vergoeding. TLU SA doen ‘n ernstige beroep op Suid-Afrikaners wat besorg is oor die toekoms van grond in die land om hierdie geleentheid aan te gryp.
“Dit is uiters belangrik dat alle Suid-Afrikaners en nie net boere nie besef hoe belangrik dit is dat hierdie wysigings nie deurgevoer word nie,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “As die Grondwet toelaat dat grond sonder enige vergoeding onteien kan word verloor alle grond in die land onmiddellik alle waarde. Dit sal ‘n ernstige impak hê op die verskaffing van voedsel, buitelandse belegging en die ekonomie.”
Volgens Dr. Corné Mulder van die Vryheidsfront Plus en lid van die ad hoc-komitee wat met hierdie wysigings gemoeid is, is die ANC se nuwe voorstelle op die konsepwetgewing wat verlede jaar gepubliseer is, redelik ingrypend. Dit behels dat grondonteiening met die oog op grondhervorming teen nulvergoeding kan plaasvind. Verdere voorstelle handel oor die regering as kurator van sekere grond en ‘n nasionale wet om die voorwaardes te bepaal vir wanneer grondonteiening sonder vergoeding kan plaasvind.
Die ANC kon hierdie wysigings vir kommentaar deurvoer omdat hulle in die komitee die meerderheid lede het. Maar, om dit heeltemal deurgevoer te kry moet tweederdes van die parlement die konsepwet aanvaar. Sedert die vorige verkiesing het die ANC nie meer ‘n tweederde-meerderheid nie. Aangesien die EFF aandring op selfs meer radikale wysigings waartoe die ANC nie wil instem nie, sal die EFF dan ook nie hierdie wysiging ondersteun nie.
“Ons is dankbaar dat die publiek tot dusver aan die proses deelgeneem het en so verhoed het dat die Grondwet maklik gewysig kon word,” sê mnr. Geldenhuys. “Die proses staan na ‘n einde se kant toe en as die EFF volhou om die ANC teen te staan lyk dit of dit die gewenste uitwerking sal hê. Maar, dit is politiek en niks is seker tot die finale uitslag nie. Dit is daarom baie belangrik dat mense weer kommentaar lewer sodat ons teenstand gewig kan dra.”
Die publiek kan by die volgende skakel kommentaar lewer: https://www.tlu.co.za/onteieningswet/
Kyk ook gerus na hierdie Landbouspore-gesprek met Dr. Corné Mulder oor die proses.
Uitgereik deur: TLU SA
Datum: 23 Julie 2021
Navrae: Mnr Henry Geldenhuys, President TLU SA,
Sel.: 083 560 1273
Mnr Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA,
Sel.: 082 466 4470