Ons gaan voort met die reeks oor ons Manifes:
Artikel 9: Ek sal as landbouer my beywer vir die ontwikkeling van kommersiële landbou en sodoende bydra tot die erkenning van die sektor as ’n selfstandige entiteit met ’n regmatige plek as belangrike komponent in die groter ekonomie.
Wanneer ons na die bydrae kyk wat landbou tot die BBP maak kan daar amper geredeneer word dat dit weglaatbaar klein is. Neem egter daardie paar persentasiepunte se bydrae weg en daar sal onmiddellik ervaar word hoe die res van die ekonomie tot stilstand knars. Landbou is die hartkamer van die ekonomie.
Artikel 10: Ek sal my deur TLU SA beywer om nie slegs in die landbougemeenskap ’n positiewe bydrae te lewer nie, maar ook om die landbougemeenskap te stabiliseer.
Die aanslae teen landbouers is omvangryk en boere besef al hoe meer dat hulle nie op hul eie hierdie aanslag die hoof kan bied nie. Deur georganiseerd op te tree, bring meer kapasiteit na vore om enige aanslag die hoof te bied. Elke lid se rol in die kollektiewe spanpoging is van kardinale belang om mee te help dat ons ’n gestabiliseerde landbou gemeenskap sal hê. Dit is belangrik dat my buurman net so kerngesond in sy boerdery sal wees as ekself en die res van die distrik.



