Die aankondiging dat Eswatini (Swaziland) die derde buurland is om vleisinvoere van Suid-Afrika te verbied, te midde van ‘n nuwe geval van bek-en-klouseer wat in die Molemole-distrik in Limpopo uitgebreek het, voorspel weer baie slegte nuus vir die landbou-uitvoerbedryf.

Botswana en Zimbabwe het ook reeds ‘n verbod op vleisinvoere van Suid-Afrika geplaas.

Die bedryf probeer steeds herstel na die vorige uitbreking van die siekte in die Vhembe-distrik in Februarie vanjaar, toe die uitvoerverbod dele van die wild- en vleisbedryf lamgelêen die wolprys skerp laat daal het. Hoewel die regering in Mei aangekondig het dat daardie uitbreking onder beheer is, kon Suid-Afrika die Wêreld Dieregesondheidsorganisasie nie oortuig om die land as bek-en-klouseervry te verklaar nie.

Volgens TLU SA se inligting is die onlangse geval in ‘n voerkraal opgetel nadat die betrokke bees by ‘n veiling aangekoop is. Die departement is nog besig met toetse om die oorsprong te bevestig.

“Dit is duidelik dat die maatreëls wat ingestel is om bek- en klouseer te voorkom, nie voldoende is of afgedwing word nie,” sê Mnr Louis Meintjies, die president van TLU SA. “Die verantwoordelikheid daarvoor lê by die staat, wat dus ooglopend die soveelste keer nie sy
werk doen nie, met die gevolg dat produsente en die ekonomie daaronder ly.

“Ons doen ook ‘n ernstige beroep op afslaers van vee om seker te maak waar die diere vandaan kom en dat hulle gesond is,” sê Mnr Meintjies. “Nalatigheid of verslapping van waaksaamheid kan tot groot katastrofes lei.”

TLU SA wil graag van produsente wat as gevolg van bek-en-klouseer verliese ly, hoor. Stuur inligting na admin@tlu.co.za.

Uitgereik deur: TLU SA
Datum: 13 November 2019
Navrae: Mnr Louis Meintjes, President TLU SA,
Sel.: 082 461 7262

Mnr Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA,

Sel.: 082 466 4470