TLU SA is steeds bekommerd oor die aanvalle en moorde op boere, hoewel dit in die 2018/19 finansiële jaar wel ‘n afname getoon het. Die jaarlikse misdaadstatistiek is vanoggend deur die Minister van Polisie, Genl. Bheki Cele in die parlement bekendgestel.

Volgens Cele is daar 47 plaasmoorde in 41 voorvalle aangemeld. TLU SA se Insidente Register wat sedert 1990 bygehou word, toon 48 moorde in 357 voorvalle in die 2018/19 finansiële jaar.

“Die moordsyfer stem min of meer ooreen met die polisie se statistiek, maar ons aanvalsyfers verskil heelwat,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die Adjunk-president van TLU SA en Voorsitter van die Veiligheidskomitee. “Dit is egter vir ons ook kommerwekkend dat die plaasmoordsyfer vir vanjaar teen einde Augustus reeds op 40 gestaan het.

“Die dalende moordsyfer op plase kan toegeskryf word aan die hoogs suksesvolle veiligheidstrukture wat TLU SA en andere op die been gekry en toe verder in plaasgemeenskappe uitgebrei het. Hierdie strukture dra ook by dat meer plaasaanvalle gefnuik word omdat die netwerk so paraat is en vinnig optree.”

Volgens die polisie se statistiek is die grootste teikengroep in plaasmoorde mans tussen 50 en 71 en hulle word in die oorgrote meerderheid van gevalle met vuurwapens aangeval. In Augustus het Cele in die parlement erken dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens oor die afgelope ses finansiële jare meer as 9,5 miljoen rondtes ammunisie en 4 357 wapens ‘verloor’ het.

“Dié erkenning is vir ons problematies,” sê mnr. Geldenhuys. “Dit is teenproduktief om plaasmoorde en -aanvalle te verminder, maar dan word die ammunisie en vuurwapens weer in misdaadkringe versprei.

“Ons is ook besorg oor die toename in veediefstalle (2,9%) wat die afgelope drie jaar nog net toegeneem het. Dit is verder kommerwekkend dat daar ten spyte van die styging ook ‘n onderrapportering van veediefstal is, soos bevind deur Willie Clack van Unisa en berig deur die Nasionale Veediefstal Prioriteitskomitee,” sê hy. “Ons sal genl. Cele hou by sy woord om veediefstalle baie ernstig op te neem.”

Onder ander misdade het veral geweldsmisdade in die 2018/19 finansiële jaar gestyg. Kontak-misdade het met 2,6% toegeneem. Dit sluit seksuele oortredings (4,6%), moord, poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer (2,2%), gewone aanranding (3,7%), roof (2%) en roof met verswarende omstandighede (1,2%) in.

Moord het met 3,4% toegeneem tot 21 022 – die sewende agtereenvolgende toename – terwyl poging tot moord met 4,1% tot 18 980 gestyg het. Bykans 58 mense word per dag in Suid-Afrika vermoor.

“Hoewel misdade op plase afneem is ons baie bekommerd oor die toename van veral ernstige en geweldsmisdade in die land,” sê mnr. Geldenhuys. “Dit is die regering se grondwetlike verantwoordelikheid om na die veiligheid van die landsburgers om te sien, maar as gevolg van swak regeringsbeleide en ‘n blote afwesigheid om hierdie plig na te kom, brand Suid-Afrika nou.

“Dit is dalk nou tyd dat die res van die land ook begin om self planne te maak om misdaad te bekamp soos wat die landbougemeenskap gemaak het.”

Uitgereik deur: TLU SA

Datum: 12 September 2019

Navrae: Mnr Henry Geldenhuys, Adjunk-president TLU SA,
Sel.: 083 560 1273

Genl-maj. Chris van Zyl, Adjunk-hoofbestuurder: TLU SA,
Sel.: 072 716 9299