James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Mediumtermyn-begrotingsrede lees soos fiksie-draaiboek

Die 2022 mediumtermyn-begrotingsrede was omtrent soos ’n eenman-toneelstuk wat tussen oomblikke van verveling, skok, komedie en afgryse gespring het.

Die nuus van 15 000 nuwe polisielede oor die volgende drie jaar was een van die aspekte wat verskeie reaksies uitgelok het.

“Aan die een kant is dit beslis goeie nuus, want veiligheid is ’n reuse-uitdaging in die land wat grootskaalse impak op die ekonomie ook het. Dit is egter ook realiteit dat 15 000 polisielede oor drie jaar nie alleen die antwoord is nie en dat soveel meer nodig is om die land se misdaad aan te spreek. Ek sal graag wou sien dat meer spesialiseenhede tot stand kom,” sê mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder.

Minister van finansies Enoch Godongwana se mediumtermyn-begrotingsrede het ook die nuus gebring van die regering wat ’n groot deel van Eskom se hengse skuld gaan oorneem, die R350-toelae is nou tot Maart 2024 en die staatsamptenare gaan nie meer as 3% verhoging kry nie. Reaksie op bogenoemde gaan uiteenlopend wees en optrede – soos stakings – kan moontlik die voorland wees.

“Daar is ’n gaping tussen aankondigings en die realiteit van uitvoering. Solank die regering volhard op sy pad van kaderontplooiing en SEB en nie kundigheid alleen as kriteria sal toepas in die aanstelling van poste nie, is die begroting nie noodwendig tot voordeel van Suid-Afrika se mense nie. Dis asof Godongwana sy hoop en wense uitgespreek het, maar van die realiteit vergeet het. Dalk moes hy ook gegewe die geskiedenis van die resultate van kaderontplooiing en gepaardgaande korrupsie ook net sê wie gaan al hierdie dinge doen!”

Kategorie:

Deel dit:

Mediumtermyn-begrotingsrede lees soos fiksie-draaiboek