TLU SA kondig met dankbaarheid aan dat prof Andries Raath, emeritus professor in Publieke Reg by die TLU SA-span aansluit as bestuurder van die Vrystaatstreek. Prof. Raath se ondervinding in die regswêreld word hoog aangeskryf en gerespekteer. Hy het in sy loopbaan verskeie publikasies die lig laat sien, maar ook in breër verband sy stempel afgedruk. TLU SA en samewerkende landbou- en ander organisasies gaan gewis baie baat uit prof. Raath se kundigheid as senior professor in administrasie-en konstitusionele reg met betrekking tot wetgewing van toepassing op polisiëring, onteiening en die impak van wetgewing op die verskillende terreine van landbou in Suid-Afrika.
Prof. Raath sal buiten die verantwoordelikhede van streekbestuurder sy kennis en ondervinding breër in die onderskeie komitees aanwend om TLU SA se beleid en standpunte te help belyn met die praktyk ten einde die landbou-omgewing op ‘n gesonder grondslag te vestig.
Prof. Raath verbind homself onbeskaamd aan TLU SA se etos en karakter. Die fokus wat TLU SA na die praktyk toe bring gebaseer op ons geloof in God Drie-enig soos geopenbaar in Sy Woord, die Bybel is juis dit wat prof. Raath laat aansoek doen het vir die pos. “Indien ‘n instansie nie sy toekoms op hierdie grondslag bou nie is alle pogings nutteloos en van geen waarde vir die toekoms nie. Landbou is te belangrik dat daar woer-woer gespeel kan word met nie-werkbare beleidsrigtings en daarom is dit noodsaaklik dat daardie aspekte wat Suid-Afrika oor dertig jaar heen disfunksioneel gemaak het, reggestel moet word.”
TLU SA se Uitvoerende komitee wens prof. Raath ‘n geseënde tydperk toe wat hy tot diens van TLU SA se boere en by implikasie ook al die ander kommersiële boere in Suid-Afrika sal wees. Die werkswyse waar die TLU SA-span kollektief die beskikbare kundigheid belyn met die praktyk rondom suiwer ekonomiese beginsels het die laaste tyd al hoe meer uitgewys dat dit die enigste weg is om die landbou-omgewing te rig. Kommersiële boere regoor die land word opnuut uitgenooi om hulle gewig te kom ingooi by die landbou-organisasie wat suiwer begrond en gefokus telkens opstaan vir daardie beginsels wat landbou sal laat lewe.
Prof. Raath sal op 27 Mei 2024 sy werksaamhede by TLU SA begin.