Die stelling “Ons jeug, ons toekoms” word gereeld gemaak, en met reg. Die toekoms is gewis in die jeug se hande.
Die vraag egter is hoe rus ons die jeug toe vir die toekoms? Baie jare gelede was daar ‘n driehoek tussen die kerk, skool en huisgesin waar die grondslag as Christelik-Nasionaal vasgelê is. Die vertikale as van hierdie begrip, Christelik, het inderdaad inhoud gegee aan die begrip Nasionaal. Daarom het die kulturele en volkseie sy ontwikkel as ‘n lewendige proses van geankerde rigtinggewende beginsels waarop die toekoms gebou is.
Die kultuuropdrag uit die Woord was die fondament en vertrekpunt om ons te rig op die lewenspad. Dit wat in Gen 1:28 en 2:15 staan het duidelik vir ons die verantwoordelikheid gegee waaruit ons volgens die Woord van God ons rentmeesterskap, om te bewaak en te bewerk volgens God se verordeninge, gekry het. Ons kulturele ontknoping het daar rondom ontwikkel.
Wat is vandag die rigsnoer vir ons jeug om ook aan ons kultuur te bou? Die regering het doelbewus ‘n kurrikulum in die skole daargestel wat by die jeug van ons volk ‘n gebrek aan kennis oor hul eie geskiedenis veroorsaak het. In ons geskiedenis kan ons met trots die verhale van o.a. Japie Greyling, Dirkie Uys en andere vertel – weet ons kinders dit nog?
Ouers kan dit selfs oorweeg om hul volgende vakansie in te kleur rondom ons geskiedenis en al ons geskiedkundige plekke te gaan besoek. Die Christelike geloof word afgewater as maar net nog ‘n geloof. God word gelyk gestel met afgode. Ons sal daadwerklik, indien ons nog vorentoe wil praat van ‘n trotse volk gebou rondom waardes uit die Woord van God, as ouers die verantwoordelikheid moet neem om ons kinders toe te rus met die regte ankers. Daar is privaatinstellings soos bv. die CVO-skole wat steeds toesien dat ons jeug ‘n trotse lid van ons volk sal wil wees. Die belangrikste is egter die vormingswerk wat by die moedersknie plaasvind.
Mag ons in hierdie dae met trots en dinamika ons doopbelofte onthou en ons kinders groot maak in die vrees van die Here.