Aan die begin van die COVID-pandemie is ons ingeperk, moes maskers begin dra, kon nie rondry nie, moes saniteer en ons moes werkers uitrus met beskermende drag en hulle oplei oor hande was. Maar die nuutjie het algaande verbygegaan en teen die tweede vlaag het dit nie meer so erg gevoel nie.
En ons was so bietjie soos die spreekwoordelike padda in die pot met water wat warmer word. Aanvanklik het ons gedink dit is nie ernstig nie. Maar nou is ons in die derde vlaag.
Ons sien soveel lede, kennisse, vriende en familielede wat hierdeur geraak word en die hospitale en mediese werkers wat onder druk is, dat ek nie anders kan as om ‘n beroep te doen dat ons almal versigtig moet wees rondom die hele aangeleentheid nie. Dit is dringend dat ons die situasie ernstig opneem.
Tree voorkomend op. Soos wat ons ons skape moet doseer, moet ons lede ook eerder medikasie gebruik om hulleself en ander te beskerm.
Die gemors is dat jy mense aansteek in die eerste vyf dae dat jy die koronavirus onder lede het, al voel jy self nog nie siek nie. Eers daarna gaan jy oor na fase een en as jy by fase twee en drie kom is daar moeilikheid, veral as jy onderliggende siektes het. Dan is daar nie omdraaikans nie.
Ons landbouers is mos maar geneig om altyd te dink dit is nie so ernstig nie. Ons werk heeldag saam met ‘n klomp werkers in dieselfde ruimte en vat aan die toerusting waaraan hulle vat en mettertyd het ons almal ons waaksaamheid verslap. Dis belangrik dat ons, en ons werkers versigtig optree om mekaar nie aan te steek nie.
Handhaaf ‘n gesonde afstand van mekaar, was maar die hande bietjie meer en dra maskers in die openbaar en tussen ander mense. Wees verantwoordelik.
Dit is baie hartseer om familielede en mense na aan ons te verloor. Ek weet.
Wees paraat.
Groete,
Henry