Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

“THE KILLING of farmers and farmworkers is deplorable and must be frowned upon at all times.” – Regter in die Noord-Kaapse Hooggeregshof

Die statistieke rakende plaasaanvalle in Suid-Afrika is skokkend. Baie min tot geen samewerking word ontvang vanaf die Regering en die SAPD om die misdade op plase te bekamp nie. Die meeste gemeenskappe het om hierdie rede begin om die veiligheid van ons boere in eie hande te neem.

Ten spyte van die nie-samewerkende Regering was daar in Mei 2020  twee baie welkome uitsprake in ons howe gelewer rakende plaasaanvalle:

  • Na ’n plaasaanval op Mnr. Loedie van der Westhuizen (sr.) het verskeie boere op die noodroep gereageer. Die aanvaller was deur ‘n groep boere aangekeer. Die aanvaller is in die hospitaal oorlede. Kapt. Henk Prinsloo en nog vyf ander mans is vier jaar na die gebeure op 8 Mei 2020,  deur regter Corné van Zyl in die Hoë Hof in Parys onskuldig bevind en ontslaan op beide die staat se klagtes van moord waarop hy en die ander vyf mans van Parys tereg gestaan het. Volgens Regter Van Zyl kan die mans slegs skuldig bevind word vir aanranding of aanranding met die opset om ernstig te beseer en nie vir moord nie.

 

  • In die Noord-Kaapse Hooggeregshof is nog ’n welkome uitspraak gelewer deur Regter Mpho Mamosebo. Regter Mamosebo het ’n aanvaller tot lewenslange tronkstraf gevonnis na die moord op sy werkgewer en boer mnr. Willem van der Westhuizen.

 

Regter Mamosebo het die volgende aanhaling gemaak:

 

“THE KILLING of farmers and farmworkers is deplorable and must be frowned upon at all times.”

TLU SA het ’n jaarlikse insidente register. Hierdie register is ’n opsomming van insidente wat ingevolge die definisie van ‘n plaasaanval aan TLU SA gerapporteer en in die register opgeneem is. Plaasaanval-statistieke word glad nie in hoofstroom media genoem nie. Dit is egter belangrik dat boere daarvan kennis neem en bewus raak van die situasie waarin hul hulself bevind.

Statistieke ontvang vanaf die TLU insidente register vir die jaar 2020 lyk soos volg:

Vanaf 1 Januarie 2020 tot en met 28 Mei 2020 was daar 92 plaasaanvalle in Suid-Afrika. Uit hierdie 92 plaasaanvalle was daar 19 plaasmoorde.

Die provinsie met die meeste plaasaanvalle was Gauteng Provinsie met 27 aanvalle, daarna was Limpopo met 12 aanvalle en die Vrystaat en Noordwes met beide 11 aanvalle.

Genl.-Maj. Chris Van Zyl, die adjunk-hoofbestuurder van TLU SA het in ’n TLU SA verklaring van 10 Februarie 2020 gereageer op die statistieke van die insidente register en gesê:  “In die lig hiervan doen TLU SA steeds ‘n beroep op die regering om meer aandag te skenk aan die voorkoms van aanvalle, asook ander misdade op plase.”

Nog ’n instansie wat plaasaanvalle monitor is die Oorgrens Veiligheid organisasie. Hierdie organisasie plaas ook maandeliks plaasaanval statistieke wat saamgestel word deur die “Rome Research Institute of SA”

Die volgende interessante statistieke was ontvang vanaf die “Rome Research Institute of SA” rakende plaasaanvalle vir die tydperk Januarie 2020 to Maart 2020:

Die hoeveelheid aanvallers teenwoordig by elke aanval was in die meeste gevalle tussen 3 en 5. Aanvalle was ook versprei oor alle dae van die week, maar die meeste aanvalle het plaasgevind op ’n Vrydag. As daar gekyk word na die tyd wanneer die aanvallers toeslaan, het 60% van die aanvalle plaasgevind tussen 22:00 – 05:56.

Die dorp met die meeste aanvalle oor hierdie tyd was Brits met 6 aanvalle en daarna Loslopersfontein met 5 aanvalle en Naboomspruit met 3 aanvalle.

Mnr. Karel Landman is die eienaar en koördineerder van die landwye 2-rigting radio veiligheid sisteem vir boere en ook een van die stigters van die Oorgrens Veiligheid organisasie. Mnr. Landman kom daagliks in kontak met plaasaanvalle d.m.v. sy veiligheid sisteem en beleef ook gereeld die traumatiese aanval tonele. Hy het in ’n onderhoud op 25 Mei 2020 die volgende boodskap aan boere gegee:

“Boere moet so lewe dat hy/sy ’n plaasaanval elke dag en elke minuut verwag, sodoende sal die aanval jou nie onverwags betrap nie en sal dit nie so groot skok op jou wees as dit plaasvind nie en jy sal ook weet hoe om op te tree in die situasie. Dra jou vuurwapen elke dag en weet hoe om jou vuurwapen te gebruik. Raak ook aktief betrokke by jou area se veiligheid. Dus, verwag ’n aanval, dra jou vuurwapen en raak betrokke, hierdie drie goed kan jou lewe red”

Die bogenoemde statistieke vanaf beide TLU SA en Oorgrens Veiligheid is skokkend.

Elke boer en elke boeregemeenskap moet dus die moeite doen om die nodige strukture in plek te kry om hul gesinne se veiligheid op te skerp.

Hier is ’n paar wenke hoe om jou veiligheid op die plaas op te skerp:

  • As jy iets verdags buite hoor, veral snags, moenie uitbeweeg nie. Kontak jou naaste bure of aktiveer jou buurtwag/veiligheid sisteem om jou by te staan.
  • Installeer, waar moontlik, die nodige veiligheid infrastruktuur. Bv. ’n Veiligheid sisteem met ’n paniek knoppie, alarms, elektriese heinings, diefwering en veiligheidshekke.
  • Raak betrokke by jou omgewing se veiligheid struktuur bv. patrollie en buurtwag
  • Dra ’n wapen en maak ook die lede van jou gesin bewus en gemaklik met die hantering van ’n wapen. Oefen gereeld hoe om jou wapen te hanteer.
  • Skep ’n aksie plan wat jy en jou gesin volg indien daar moeilikheid is en oefen hierdie plan.
  • Maak seker dat jy vinnige en maklike kontak met jou naaste bure het. Jou buurman is die persoon wat die vinnigste by jou kan uitkom
  • Pas streng sleutel beheer toe. Weet ten alle tye wie in besit is van sleutels vir die huis, store en waenhuis. Indien ’n sleutel verlore raak, vervang dadelik die slotte.
  • Wees bewus van jou omgewing. Kyk uit vir enige verandering. Bv. klippe, plastiek, bottels wat vreemd gepak/gehang is, gras wat plat gelê is deur iemand wat jou moontlik dophou, gebreekte heinings, hekke wat oopstaan, werf ligte wat nie werk nie ens.
  • Indien jy saans by die huis kom, maak eers seker dat alles in orde is voordat jy jou voertuig verlaat. Parkeer ook jou voertuig op so manier dat jy vinnig weer kan wegry en nie met sy neus teen ’n muur nie. Kyk ook uit vir die volgende, bv. tree jou honde normaal op, is alle hekke toe, geen gebreekte vensters ens. Indien jou opstal dit toelaat, ry eers rondom die huis en maak seker dat iemand jou nie inwag nie.
  • In die meeste plaasaanvalle kom dit aan die lig dat die aanvallers die slagoffer se roetine dopgehou het voordat hy aanval. Verander dus gereeld jou roetine, maar wees ook bewus dat roetine in ’n gemeenskap daartoe kan lei dat mense vir mekaar uitkyk. Indien jou buurman elke oggend verby jou ry is dit gerusstellend, maar indien jy hom een oggend nie sien nie skakel hom en hoor of alles in orde is.
  • Daar moet behoorlike beligting buite die huis wees. Los die buiteligte aan indien jy in die donker tuis gaan kom.
  • Sorg dat jou werf genoeg honde het. Hulle is jou oë en jou ore. Dit is ook raadsaam om ’n hond in die huis te laat slaap, sodoende kan die hond jou alarm wees en is ook buite bereik van vergiftiging.

Die bogenoemde is slegs ’n paar voorbeelde van hoe om jouself en jou omgewing te beveilig. Daar is egter baie ander maniere om dit te doen. Maak seker dat jy soveel as moontlik stappe neem vir jou en jou gesin se veiligheid. Die belangrikste is om gereed en waaksaam te wees.

’n Plaasaanval kan met enige iemand gebeur. Moet nie dink dit sal nie met jou gebeur nie. Berei jou en jou familie voor vir die dag wat dit moontlik kan gebeur.