Op 15 Junie 2022 is die stand van sake deur Netwerk24 deurgegee soos verslaggewing ontvang is van die Ouditeur-Generaal oor munisipaliteite se oudit vir die boekjaar tot einde Junie 2021.
Munisipaliteite het geensins verbeter in terme van deursigtigheid nie en slegs 16% het ongekwalifiseerde oudits sonder enige bevindings gekry. Dit beteken slegs 16% kon finansiële state van gehalte produseer waar daar nie foute is nie. Hulle is geloofwaardig en betroubaar. Daar is verder ook aan die nodige wetgewing voldoen. Wat kommerwekkend is, is dat hierdie 16% groter plaaslike owerhede en metropolitaanse owerhede is.
10% van die munisipaliteite het afwysende ouditmenings ontvang. Dit is die swakste stand waarin die munisipaliteit ten opsigte van ouditverslae kan verval. Daar kon feitlik geen bedrae of openbaarmakings van die finansiële state weergegee word nie. Hierdie aspek is ’n bron van kommer aangesien bedrog gepleeg kan word waar geen inligting of ongeloofwaardige inligting beskikbaar is. Hierdie munisipaliteite voldoen ook nie aan belangrike wetgewing nie.
Skaars meer as die helfte van die munisipaliteite kon geloofwaardige state publiseer. Dit is kommerwekkend dat plaaslike regering R1,26 miljard spandeer aan konsultante wat 11% van die totale koste van die finansiële verslagdoening is.
Volgens die ouditeur-generaal is daar nie veel verbetering in die stand van die munisipaliteite na afhandeling van die oudit nie. TLU SA beskou hierdie verslagdoening as ’n ernstige situasie aangesien munisipaliteite alreeds sukkel om die mas op te kom met die finansies tot hulle beskikking terwyl die staatskas moet opdok uit belastinggeld om hulle aan die lewe te hou. Die laaste bron sal die belastingbetaler wees om hierdie swak wyse van besigheidsbedryf te befonds.
Dit het tyd geword vir COGTA en Nasionale Tesourie om in te gryp en daadwerklik ’n plan van aksie daar te stel om die algehele verval van die munisipaliteite te keer. Wanneer daar in ag geneem word dat konsultante se dienste verkry word, is dit eweneens die opinie dat daar nie voldoende of ongekwalifiseerde personeel binne munisipaliteite is om behoorlik die werk te doen. Dit terwyl hulle markverwante salarisse betaal word en die
belastingbetaler sukkelend die mas moet opkom om te oorleef.
Genoeg is genoeg – die belastingbetaler moet nou meer as voorheen opstaan en verseker dat die munisipaliteite voldoen aan die beloftes wat daar aan die gemeenskappe gedoen is tydens die ontwikkelingsplan en begroting konsultasies. Verder moet daar ook verseker word dat daar aan die minimum belangrike wetsaspekte voldoen word om belasting te mag hef. Waar munisipaliteite nie hieraan voldoen nie, moet daar indringend stappe geneem word om die eiendomsbelasting se afdwinging te bevraagteken. Slegs waar daar aan die finansiële sak van die munisipaliteit gepluk word, sal daar ’n besef ontstaan dat die munisipale amptenaar sy kant moet bring en werk vir sy inkomste. Pligsgetroue betaling van eiendomsbelasting is ’n vereiste by munisipaliteite maar moet daar ook pligsgetroue kwaliteit dienste gelewer word wat tans ongelukkig afwesig is by baie munisipaliteite.
TLU SA doen ’n beroep op elke grondeienaar wat verantwoordelik is vir eiendomsbelasting om by ’n groepering in te skakel en kollektief die heffing van belasting aan te spreek ten einde billike, bekostigbare belasting daar te stel in ooreenkoms met die kwaliteit diens en ontwikkeling wat binne die munisipaliteit gelewer word.