Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier
Privaatbesitreg en welvaart Donderdag | 04 Junie | 2020

Deur: Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA

 

Armoede en werkloosheid teenoor welvaart en geleenthede is deesdae dikwels die onderwerp van gesprekke onder Suid-Afrikaners.

Die drie-party alliansie poog om ‘n nuwe samelewingsorde ten opsigte van grondbesit te skep deur die land se geskiedenisfeite te manipuleer. Volgens die regering se geskiedenis het witmense die grond van swartmense gesteel toe hulle in Suid-Afrika kom vestig het. Swartmense – ook tweede generasie inwoners van die land – kan egter nie bewys van wie hulle die grond oorspronklik gekoop het nie.

Tradisioneel het privaat besitreg onder swartmense nie bestaan nie. Die koning het alle grond besit. Onderdane was ondergeskik aan die koning se goedgunstigheid op elke vlak van lewe. Welvaartskepping vir die individu was ‘n vreemde konsep.

Die wêreld het deur die eeue heen verskillende regeringsvorme met wisselende ekonomiese stelsels ervaar. Dit is nie moontlik om aan te voer dat enige van hierdie stelsels volmaak en sonder probleme is nie. Wat wel uitstaan, is dat die lande wat privaat besitreg en vryemark beginsels nagestreef het, meer welvaart in vergelyking met lande wat onder die koning se guns of dwingelandy bestaan het, ervaar het.

Welvaart word natuurlik net geskep wanneer iemand die verantwoordelikheid vir hul eie omstandighede en die toekoms aanvaar en nie wag dat ‘n beter lewe deur iemand anders vir hul geskep word nie.

Privaat besitreg is waarskynlik een van die grootste drywers vir om wel in eie eiendom te belê. Die grondeienaar ploeg deurlopend terug in die eiendom met die wete dat die eiendom in waarde groei en dus op verskeie maniere groter welvaart skep.

Hierdie vorm van welvaart kan net geskep word indien die staat verseker dat eiendom beskerm is van misdaad. Daarbenewens moet ‘n beleidsomgewing bestaan waarbinne beleggers en entrepreneurs graag ekonomies aktief sal wil raak. Die belegging is veilig en verdere welvaart kan geskep word.

Die eienaar bestuur die produksiefaktore om te voorsien in die vraag na lewensmiddele en ‘n wins te skep. Die uitkoms hiervan is suksesvolle besighede wat in die vorm van belasting ‘n  bydrae maak tot die staatskas.

Wat is Suid-Afrika se werklikheid egter?

Die ANC se vasberadenheid om ‘n gesentraliseerde sosialistiese bestel te vestig laat kapitaal uit die land vloei. Beleggers is bekommerd oor faktore soos onsekerheid rondom eiendomsreg en ongunstige arbeidswetgewing. Onbeheerste misdaad en die regering se afwesigheid in die hantering daarvan, gooi nog meer petrol op die vuur van onsekerheid.

Suid-Afrika is nie as gevolg van COVID-19 na rommelstatus afgegradeer nie. Die afgradering is die gevolg van die beleidsomgewing wat Suid-Afrika se vertrouensposisie vernietig het. Die voortgesette inperking om die land tyd te gee om vir COVID-19 voor te berei terwyl alles daarop dui dat tot 80% van Suid-Afrikaners die virus in elk geval sal opdoen, is irrasioneel. Hoe lank het die staat nog nodig om voor te berei?

Die mag om belaglike regulasies in die hande van onbevoegde SAPD-lede sonder gesonde onderskeidingsvermoë te laat, is ‘n resep vir chaos.

Die vernietiging van die ekonomie deur die inperking skep grootskaalse armoede en werkloosheid. Die maatskappye en individue wat besigheid sou kon doen om belasting te betaal, sal onbepaald nie hulle kant kan bring om die staatskas te finansier nie.

Die sinnelose regulasies wat geensins bydra om die verspreiding van die koronavirus te beperk nie, het stewig bygedra om die ekonomie te vernietig. Dit het die onvermoë van die regering om gebalanseerde insig te toon, grootliks bevestig.

Die regering het met die hantering van COVID-19 bewys dat hulle goed verstaan hoe goedere verbruik word, maar ongelukkig geen insig het oor die produksie daarvan nie.

Welvaart is nie iets wat net bestaan nie, dit moet deur middel van produksie geskep word. Dis nie iets wat onder almal verdeel moet word nie, maar iets waarvoor daar gewerk moet word.

Korrupsie het nou al endemies deel van die ANC se DNS geword en die hantering van COVID-19 het dit (weereens) onder die vergrootglas geplaas. Dit is hartseer dat rolspelers wat daarvoor verantwoordelik is om in nood te help, die geleentheid misbruik vir selfverryking.

Die ANC se rassistiese onderrok hang ver uit. Dit is ironies dat dit juis witmense is wat grootliks bydra om die fondse te verskaf om hulpverlening te gee. Dis ook hierdie groep wat op rasgronde uitgesluit word wanneer hulp uitgedeel word. Die ANC het die reënboognasie vermoor.

Kan Suid-Afrika die ANC se beleid nog verder bekostig?

Hulle volhard op ‘n ideologiese pad wat gaan lei tot verdere grootskaalse armoede en werkloosheid. Nêrens in die wêreld kon hierdie sosialistiese benadering al enigsins welvaart skep nie. Dit het kredietgraderingsagentskappe vir ons bevestig.

Dit is ‘n ope vraag hoe lank die virus nog met ons gaan wees. Maar intussen moet mense eet en leef. Dit beteken die ekonomie moet glad funksioneer om die vraag en aanbod van middele te reguleer.

Die ANC-beleid is die oorsaak van die situasie waarin Suid-Afrika verkeer. Enige regdenkende mens sal hieruit besef dat om voort te gaan met die bestaande beleid ‘n glybaan na ekonomiese mislukking sal wees.

In hoe ‘n mate die ANC kan losbreek van die bestaande DNS en besef wat presies nodig is om die ekonomie te laat groei, is ‘n ope vraag. Persoonlik het ek ernstige bedenkinge oor of dit wel moontlik is.

ANC: Bevestig privaat besitreg as die vertrekpunt van welvaartskepping. Besef dat diegene wat die verantwoordelikheid om suksesvol te wees, aanvaar, noodwendig die positiewe resultate sal bereik.

 

Gepubliseer op Maroela Media: https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/die-anc-het-die-reenboognasie-uitgemoor/