Klimaats- en landbouvooruitsigte geskryf deur Johan van den Berg (Onafhanklike Landbouweerkundige, M.Sc Agric, Agricultural Meteorology)
Opsomming
Reën het in die tweede deel van Junie oor die sentrale, westelike en suidoostelike Somerreënval-gebied voorgekom. Die swaarste neerslae is gemeet in die Oos-Kaap waar tot 100mm voorgekom het in die opvanggebied van die amper leë Kouga- en Churchilldamme wat water voorsien aan die Nelson Mandelabaai-metropool. Dit is onseker hoeveel van hierdie water uiteindelik hierdie damme sal bereik omdat baie kleiner damme en stuwalle in die belangrike vrugteproduserende besproeiingsgebied van die Langkloof eers gevul moet word voordat dit by die groter opgaardamme uitkom. Daar het ook neerslae van meer as 30mm voorgekom in die Noord-Kaap en Wes-Vrystaat in distrikte soos Upington, Askham, Vanzylsrus, Kuruman, Kimberley, Vryburg, Bloemfontein en Fauresmith.
Hierdie reën in laat Junie in die hoofsaaklik weidingsgebiede van die Noord-Kaap, Noordwes, Oos-Kaap en die Vrystaat word verwelkom deur veeboere. Dit kan help om gras en ander plante langer groen te hou naby aan die grondoppervlakte en sal ook help dat weiding vinnig kan produseer na die winter wanneer temperature weer gunstig gaan wees. Verder kan dit die aanvanklike brandrisiko verlaag as gevolg van meer vogtige toestande en gedeeltelike groen vegetasie.
Die oesproses van somergrane is in volle swang en alhoewel daar gedeeltes is waar begaanbaarheid vir masjinerie nog moeilik is, is opbrengste oor die algemeen gemiddeld tot bogemiddeld behalwe in gebiede waar baie versuiptoestande voorgekom het. Volgens die Oesskattingskomitee is die mielie-oes vanjaar ongeveer 10% kleiner as die vorige seisoen.
Swaar reën in die Winterreënvalgebied het vanaf 13 tot 15 Junie plek-plek vloedtoestande veroorsaak met plekke soos Grabouw wat 149mm gekry het, Bellville 115mm, Paarl 100mm, Ceres 86mm, Malmesbury 61mm en Villiersdorp met 58mm. Hierdie reën is baie betekenisvol om grondwater aan te vul vir gebruik in komende maande. Dit het ook die vlakke van opgaardamme aangevul, veral kleiner damme waar waterverbruik baie hoog was in die droë somer.
Damvlakke in die Somerreënvalgebied was steeds op baie hoë vlakke teen die einde van Junie met die Vaaldam op 105.5%, Bloemhofdam op 102.7%, Vanderkloofdam op 99.2% en die Gariepdam op 98.8%. Wes-Kaapse damvlakke het gestyg met meer as 5% as gevolg van die swaar reën in die middel van Junie en was teen die einde van die derde week van Junie op gemiddeld 59.1% teenoor die 55.9% dieselfde tyd in 2021. Die Kougadam in die Oos-Kaap se watervlak het effens gestyg tot 14.2%, die Impofudam tot 10.4% en die Churchilldam (Kromrivierdam) ook tot 14.2% maar daar is nog invloei besig om plaas te vind.
Die watervlak van die Karibadam is op 33.4% teenoor 53.2% verlede jaar dieselfde tyd terwyl die Katsedam in Lesotho op 95.1% is en die Mohaledam op 97.6%. Die Hardapdam in Namibië was op 20 Junie 2022 op 67% en die grootste dam, die Neckartaldam op 98.3%.
2.1 ENSO (El Nino Suidelike Ossilasie)
La Nina-toestande duur voort alhoewel dit begin om ‘n verswakkende tendens te toon. In die belangrike Nino-3.4-gebied het see-oppervlaktemperature vanaf die einde van Mei van ongeveer 1.2°C koeler as normaal verswak tot ongeveer 0.6°C koeler as normaal teen einde Junie (0.5°C koeler as normaal is die afsnypunt tussen La Nina en neutraal). Al die Nino-gebiede is besig om te verswak weg van La Nina maar ’n effense herlewing kan plaasvind vanaf Augustus tot Desember. Huidige voorspellings toon dat La Nina weer gaan verswak vanaf ongeveer Januarie 2023 om die einde van die huidige drie jaarlange La Nina-toestande aan te dui.
Dit sal slegs die derde keer sedert ten minste 1950 wees dat daar ’n drie jaar aaneenlopende La Nina- periode gaan voorkom: 1973-1976; 1998-2001; 2020-2023. Daar was ook ’n periode van byna drie jaar vanaf 1954 tot einde van 1956.
Langertermyn tendense toon dat 2023/24 hoofsaaklik in ’n neutrale fase gaan wees met die begin van ’n periode van El Nino- of neutrale toestande maar El Nino-neigend vanaf 2024/25 tot 2027/28 of selfs langer.
Die Indiese Oseaan gaan die komende seisoen ‘n baie belangrike rol speel om reënvaltoestande te bepaal in Oos- en Suidelike Afrika. Alhoewel die Indiese Oseaan Dipool (IOD) tans nog in ’n neutrale fase is, toon voorspellings dat dit na ’n negatiewe fase gaan beweeg vanaf omtrent Julie tot Desember 2022. (’n Negatiewe IOD is kenmerkend van koeler water nader aan die Afrika-kuslyn maar warmer ooswaarts na Australië, net soos in 2021). Kyk hieronder na die moontlike impak op reënval (3.1 Somerreënvalgebied).
3.1 Somerreënvalgebied
Met positiewe reënvalseine van beide die voortgesette La Nina sowel as die IOD, is die volgende die mees moontlike uitkomste:
3.1.1 Limpopo, noordelike dele van Gauteng en die Laeveld
3.1.2 Suidelike dele van Gauteng, Hoëveld van Mpumalanga asook noordoostelike dele van die Vrystaat
3.1.3 Noord-Kaap (noord van die Oranjerivier), Noordwes Provinsie en sentrale tot westelike dele van die Vrystaat
3.1.4 Oos-Vrystaat, suidelike dele van KZN asook noordelike/noordoostelike dele van die Oos-Kaap
3.1.5 Suidelike dele van die Noord-Kaap en aangrensende dele van die Oos-Kaap
3.1.6 Oos-Kaapse kusgebiede en res van Tuinroete
3.1.7 KZN-binneland en noordelike kusgebiede
Die outeur of Santam of enige ander partye in die dokument genoem of aangehaal, waarborg geensins die akkuraatheid, volledigheid of betroubaarheid van die inligting in die dokument nie. Enige aksies of besluite wat geneem word op grond van die inligting in hierdie dokument word op eie risiko geneem en sal die outeur, Santam of enige ander partye genoem in die dokument geensins verantwoordelik wees vir enige verliese of skades in verband met die gebruik van die inligting soos wat dit voorkom in hierdie dokument nie.
Epos: wjvandenberg1959@gmail.com
Cell: 082 3744692