Dit is inderdaad met hartseer wat daar oor die besoek in die Noord-Kaap verslag gedoen word. Die nypende droogte is tans besig om verskeie boere op hul knieë te dwing. TLU SA het binne ons Traumafonds se vermoë, gekyk hoe daar uitgereik kan word na gemeenskappe wat vir etlike jare reeds gebuk gaan onder ‘n knellende droogte. In opvol van die besoek was Kobus Oberholster alreeds weer terug in daardie wêreld om boere by Kenhardt uit die LSFD-maatskappy met hul boedel- en opvolgbeplanning by te staan. Daar het tydens die besoeke ongeveer 80 nuwe lede by TLU SA aangesluit. Ons wil graag al die nuwe lede verwelkom. Mag julle die TLU SA-strukture positief ervaar.