“Dit is asof Cosatu elke dan en wan besef hulle het iets nodig om blootstelling te kry en politieke munt te slaan en dan besluit om opruiende stellings te maak oor iets wat hulle weet hulle ondersteuners gaan ondersteun, soos dat boere moordenaars, rassiste en verkragters is, sonder om te dink aan die werklike nagevolge wat dit vir boere inhou,” sê Bennie van Zyl hoofbestuurder van TLU SA.
TLU SA het daarom besluit om ‘n streep te trek teen ongegronde en benadelende stellings teen boere en het vandag ‘n klag van haatspraak teen Cosatu by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) ingedien.
Cosatu het op Menseregtedag ‘n nasionale verklaring uitgereik waarin die vakbondfederasie beweer dat plaaswerkers regoor die land uitgebuit en mishandel word. Die verklaring lui verder dat boere hulle werkers aanrand, verkrag en vermoor.
“Hierdie stelling is ‘n gruwelike veralgemening wat in elk geval geen gronde bevat net om politieke munt te slaan ten koste van die goeie verhouding tussen boere en hulle werkers,” sê Van Zyl. “TLU SA se standpunt is deurentyd dat indien daar enige oortreding van ‘n wet is, die regsproses sy gang moet gaan. Daar waar ‘n oortreding plaasvind moet ‘n saaknommer verskaf word as bewys.”
Dit is totaal onaanvaarbaar dat enige instansie sodanige veralgemening kan uiter sonder enige substansie. TLU SA eis dat Cosatu onvoorwaardelik verskoning moet aanbied teenoor elke boer in die land en verder skadevergoeding van R5 miljoen te betaal aan slagoffers van plaasaanvalle.