TLU SA is tans besig met ’n landswye toer om op grondvlak met boere en plaaslike landbou-unies te gesels, ’n poging om die organisasie se beleid van “deur die boer, vir die boer” werklikheid te maak. Volgens Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, is hierdie interaksies van kardinale belang in ’n tyd waar die landbou-omgewing “nie gesond is nie en boere onder verkeerde soort druk verkeer.”
“Een van die grootste probleme is die gevolge van ’n beleidsonsekere omgewing. Daar is min of geen ondersteuning nie, en dit bring onsekerheid vir boere se beleggings. Dit raak alles, van kragvoorsiening tot veiligheid en infrastruktuur,” sê Van Zyl. Hy wys daarop dat die staat se vermoë om bates sonder vergoeding te onteien, steeds ’n groot bron van kommer is.
Die doel van die toer is nie net om terugvoer van die hoofkantoor aan die grondvlak te gee nie, maar ook om boere se uitdagings, behoeftes en geleenthede eerstehands aan te hoor. “Ons probeer elke algemene raadslid insluit by die toer en besoek verskeie boere-unies en distrik-unies. Dis in die persoonlike een-tot-een gesprekke waar ons die diepste insigte kry,” sê Van Zyl. “Dit help ons om beter te verstaan wat die pad vorentoe vir TLU SA moet wees.”
Die toer het afgeskop in die Oos-Kaap net voor ’n sneeustorm, en beweeg nou deur die Wes-Kaap, Noord-Kaap en weer terug. Tydens die besoeke is daar ook streeksvergaderings gehou wat goed bygewoon is en waarin produktiewe gesprekke plaasgevind het.
“TLU se doel bly om die boer op sy plaas veilig en volhoubaar te hou. Ons word verryk deur die insette van ons lede en dit stel ons in staat om met meer gesag die beleidsomgewing aan te spreek, wat ons kernmandaat is,” sluit Van Zyl af.