Soos die sosio-maatskaplike toestande in die land versleg, word daar al hoe meer veediefstal ervaar.
Wat egter waargeneem word, is dat dit nie net potslagtings is wat plaasvind nie, maar dit is duidelik dat goed georganiseerde misdaad sindikate, wat op groot skaal funksioneer, al hoe meer op veekuddes toeslaan. TLU SA is deel van die nasionale veediefstalforum waar Gawie Lötter ons verteenwoordig.
Ten einde meer effektief in TLU SA verband seker te maak dat hierdie saak aangespreek word, het die Uitvoerende Komitee besluit dat as deel van die Veiligheidskomitee elke streek ook ’n veediefstal-verteenwoordiger moet aanwys wat onder Celia Beukes se voorsitterskap sal funksioneer om seker te maak dat alles moontlik gedoen word om veediefstal teë te werk. Sy verteenwoordig reeds die NWKV op die Veediefstalforum wat in praktyk beteken dat TLU SA goeie inspraak daar het.
Celia en Gawie kan gesamentlik die problematiek aanspreek, maar dan net indien hulle al die benodigde inligting het soos bv. saaknommers.