TLU SA het kennis geneem van adjunk-president Paul Mashatile se voorneme om die waterkrisis in die land aan te spreek deur die landbousektor, Afriforum en Solidariteit te betrek. Die feit dat daar dringend aan toekomstige watervoorsiening aandag gegee moet word, is reeds aan die begin van sy termyn aan oud-president Jacob Zuma genoem. Dit het nie net oor die toestand van infrastruktuur vir waterverspreiding gegaan nie, maar ook oor die beskikbaarheid en kwaliteit daarvan.
Dit blyk dat die benadering wat toegepas is eerder kaderontplooiing was en ons land se inwoners betaal vandag die duur prys daarvoor. Intussen is waterheffings klaarblyklik geensins aangewend vir die behoorlike bestuur en beheer van waterbronne nie.
Kundiges is laat gaan en vervang met persone wat nie noodwendig in staat is om die kompleksiteite van waterbestuur na behore te kan nakom nie.
TLU SA sal uiteraard meedoen aan gesprekke om te verseker dat die nodige kundigheid vir effektiewe waterbestuur ingespan word om die tydbom wat oor tyd heen geskep is, te ontlont en watervoorsiening weer op ‘n stabiele koers te plaas.
Alvorens enige tyd en energie egter hieraan spandeer word, sal daar eers oor die basis waarvan gewerk sal word, ooreengekom moet word. Betrokke partye sal onbevange moet kan funksioneer en politieke inmenging wat kundigheid neutraliseer, sal ter syde gestel moet word.
“Dit gaan oor veel meer as net die bestuur van water en die intrek van kundigheid. Solank die regering van die dag nie toesien dat die grense van die land behoorlik bewaak word nie en derduisende vreemdelinge onbeheers oor die poreuse grense stroom, sal daar steeds druk op skaars waterbronne wees. Enige oplossings sal dus deurentyd verydel word,” sê Henk van de Graaf, TLU SA se voorsitter van die Noordstreek.
ʼn Langtermyn, 360 grade watervisie is lewensbelangrik. Bennie van Zyl, TLU SA hoofbestuurder voeg by dat “indien kundiges nie toegelaat word om die nodige aanpassings te maak nie, sal hierdie poging van die ANC ook gesien moet word as ‘n stukkie politieke spel voor die verkiesing.”
Die ANC moet hulself verbind daartoe om kaderontplooiing ter syde te stel, dat die beste kundiges op ‘n spesifieke terrein, ongeag hul ras of geslag, aangestel sal word. Indien dieselfde mense wat die probleme veroorsaak het steeds in die posisies is waarvoor daar nou oplossings verkry moet word, sal almal se insette net ‘n vermorsing van kosbare kapasiteit wees.