Weeklikse nuusoorsig, 14 – 21 November Woensdag | 13 November | 2019

1. Landbouverwante nuus

Nuuskommentaar: Boere stel visiere in op grondgryp sonder vergoeding.

Opsomming

Die regering en vennote bly die “reset”-knoppie druk om reeds bewese leuens af te stof en as die waarheid op te dis – die boere word steeds as kwaadwillig voorgehou en ’n narratief gevoed wat van die land se landbouers die varke in die verhaal maak. In skerp teenstelling van elke krieseltjie van die rugby-euforie tot die been te benut, stuur die proses om die grondwet te wysig wat grondgryp sonder vergoeding sal wettig, af op ’n presedent van polarisasie sonder gelyke.

Die duidelikste boodskap kom van die TLU SA wat met ’n fonds begin het om die kwessie hof toe te sleep. Dit, en gemeenskapsdruk, is al wat die ANC nog tot ander insigte kan dwing, aldus die president van die TLU SA, mnr. Louis Meintjies.

“TLU SA maak gereed om grondeienaars by te staan in sake rakende onteiening sonder vergoeding. Dit volg na vandag se samesprekings met die ad hoc-komitee wat deur die parlement aangestel is om voorstelle in te dien oor hoe Art. 25 van die grondwet – wat handel oor onteiening sonder vergoeding – aangepas moet word.

“Dit is duidelik dat die komitee se fokus uitsluitlik is hóé die wet gewysig moet word, en nie wat die gevolge van die wysigings sal wees nie. Enige insette van belanghebbende rolspelers wat landbouers verteenwoordig is telkens eenvoudig afgemaak as irrelevant.”

Agri SA het self met die vuiste van realiteite ingespring. Die bekende Annelize Crosby het dit duidelik gemaak dat Agri SA se enigste mandaat was om die wysiging van artikel 25 van die grondwet te verwerp.

Beide die TLU SA en Agri SA het na onder meer die rol van korrupsie verwys as grondoorsaak van hoekom grondhervorming tot dusver misluk het. Crosby het dit so gestel: “Die mislukking van grondhervorming het te make met mislukte implementering, korrupsie, ’n gebrek aan politieke wil en onvoldoende befondsing.”

Meintjies het dit op sy beurt so bewoord: “ Die enigste saak van belang is dat grond onteien moet word ten spyte van meervuldige voorbeelde van hoe dit as gevolg van korrupsie, onkunde en gierigheid misluk het. Dit is nie tot die voordeel van Suid-Afrika nie.”

Lees meer by https://maroelamedia.co.za/nuus/nuuskommentaar/nuuskommentaar-boere-stel-visiere-in-op-grondgryp-sonder-vergoeding/

Nuuskommentaar: Hoeveel tyd nog vir meningsverskille oor klimaat, ideologie en die geskiedenis?

Opsomming

Daar is groeiende ongeduld by lande wat die meeste blootgestel is aan die gevolge van klimaatsverandering met lande en hul leiers wat traag is om die nodige aanpassings en bydraes te maak om die impak van klimaatsverandering teen te werk. Kritiek van lande wie se eie sake allesbehalwe in orde is, met die vorige president van SA wat selfs meer as twintig kinders die lewenslig laat aanskou het, en nuwe steenkoolkragstasies bou. Maar soms is daar lesse uit die verre verlede en kan daar selfs wins gemaak word uit oeroue, omgewingsvriendelike projekte.

Die VN verwag dat die planeet teen 2050 byna 10 miljard mense moet kan huisves, versorg  en voed. Teen daardie tyd sal daar moontlik reeds mense op die maan en Mars woon – hetsy tydelik of permanent daar hervestig het – maar dit sal lank neem voor genoeg mense van die aarde af sou verkas het om enige noemenswaardige verskil te maak aan die bevolkingsdruk op moeder aarde.

Dit is nie net oor klimaatsverandering wat ongeduld intree nie. In België is daar groeiende ongeduld omdat dié landjie al weer spook om binne ’n redelike tyd ’n nuwe koalisieregering saam te stel, en daar reeds aanduidings is dat die land die bestaande rekord vir ’n regeringlose land gaan verbeter. Die Christen-fundamentalisme is vanjaar ’n eeu oud, en spanning tussen die fundamentaliste en ander Christene neem toe.

Daar is vele gemene delers, met die twiste oor klimaatsverandering wat vele fasette inbind, en daarom word op hierdie aspek gefokus om die groeiende ongeduld te verwoord.

Die bestudering van ou VOC-dokumente wat in verskeie wêrelddele geberg word, toon dat periodes van El Nino destyds al ervaar is. Argeologiese en paleontologiese studies dui daarop dat veranderde klimaatstoestande volke en wêreldryke beïnvloed het, en selfs tot die ondergang van die Romeinse beskawing gelei het. Indiaanse stamme het op hul beskawingshoogtepunt verdwyn, en dit blyk dat sommige hiervan ook deur klimaatsverandering gedryf is.

Trouens, die eerste Europese vesting van Europeërs in Noord-Amerika het ook betreklik kort na die jaar 1 000 nC ten einde geloop toe die Vikings hul Amerikaanse (Vinland) en Groenlandse kolonies moes ontruim.

Geleidelik neem die ongeduld toe met regeringslui en veral wêreldleiers wat stram is om die noodsaak van die aanspreek van die menslike invloed met die nodige erns aan te pak. Terselfdertyd soek navorsers na antwoorde in die verlede oor hoekom sommige gemeenskappe die klimaatsverandering oorleef het, en ander dit nie gemaak het nie.

Een so ’n studie is pas bekend gestel, naamlik dié van dr. Roland Ebel van die Montana State University. Ebel, wat 11 jaar lank navorsing in Latyns-Amerika gedoen het, meen die oplossing vir voedseltekorte is as plekke wat hulle daartoe leen, ’n landboumetode van die Asteke, bekend as die chinampas, as ’n oplossing vir die kosbehoeftes van megastede kan dien.

Die stelsel behels in wese die skep van kunsmatige verhewe eilande, met kanale tussenin. Tot sewe oeste per jaar kan van dieselfde stuk grond afgehaal word, mits die regte gewasse mekaar afwissel. Dit word nou reeds in verskeie lande, waaronder Bangladesj toegepas, met drywende eilande ’n variasie. Ou plastiese bottels word gebruik om die eilande te laat dryf.  Sommige nuwe projekte kan as mislukkings beskryf word omdat onvrugbare grond wat gebagger word, gebruik word om die verhewe eilande mee te bou.

Snelgroeiende megastede sluk dikwels hierdie eilande ook in. Meksiko-stad, met 22 miljoen inwoners, is juis gebou waar die Asteke se indrukwekkende hoofstad, Tenotichtlan eens gestaan het. Die stad het juis grootliks uit mensgemaakte eilande op ’n meer bestaan en ’n bevolking gehad wat volgens ramings uit tussen 20 000 tot 300 000 mense bestaan het.

Intussen werk navorsers kliphard daaraan om meer geharde gewasse wat groter opbrengste lewer te kweek, asook meer geharde vee te teel.

Lees volledige artikel  https://maroelamedia.co.za/nuus/nuuskommentaar/nuuskommentaar-hoeveel-tyd-nog-vir-meningsverskille-oor-klimaat-ideologie-en-die-geskiedenis/#comments

2. Trump se staat van beskuldiging – van môre af tuit die ore

Opsomming

Oor minder as ’n jaar sal die wêreld weet wie die VSA se nuutverkose president sal wees. Môre begin die openbare verhore wat pres. Donald Trump se staat van beskuldiging kan bepaal, en dus ook gaan bepaal of Trump weer die Republikeine se presidentskandidaat sal wees.

Pogings om pres. Donald Trump kort nadat hy aan bewind gekom het in ’n staat van beskudiging te plaas en so sy presidentskap voortydig in die stof te laat byt, begin môre met openbare verhore. Trump se reaksie hierop was: “’They shouldn’t be having public hearings. This is a hoax.’ Trump told reporters Friday on the White House lawn.”

Trump glo die proses is polities gemotiveer. Sy ondersteuners in die Kongres gaan hul teenstrategie inspan wat enersyds gaan probeer toon dat die proses wél polities van aard is, maar ook om Trump se rol in die Oekraïnse skandaal te probeer minimaliseer. Dit is juis hierdie skandaal wat die finale hupstoot was om die proses in werking te stel.

Dit sou heeltemal voortydig wees om te probeer aandui of Trump gaan bly of gly, en om eerder te fokus op omringende sake. So wil dit voorkom of, wat Europa betref, die media saamspan om ’n paar sente los te slaan uit berigte wat oor hierdie saak handel. Maak nie saak watter gewoonlik betroubare koerant se kuberweergawe nou vir nuus en kommentare genader word om behoorlik toegerus te wees om kommentaar oor te lewer nie, ’n mens het skaars begin lees of die letters begin vervaag en verdwyn – die leser moet eers ’n betaling maak voor hy verder kan lees. Geen vryskut-joernalis soos die uwe kan dit bekostig nie. En ter wille van fanatiese Trump-ondersteuners, die New York Times en CNN is soos gewoonlik, nié as bronne ingespan nie.

Omgewingsbewustes is juis nou op ’n skynbare piek in hul pogings om die gevare van die mens se rol in klimaatsveranderings sentraal in die wêreldnuus te stook – proses wat Trump steeds as een van die wêreld se “skurke” uit te beeld, verdiend of onverdiend.

Volgens Rasmussen se daagikse meningspeiling van 6 November het kiesers se tevredenheid met Trump se werksverrigtinge vir Oktober tot 46% gedaal.  In September was dit nog 48%, en het die president vir die grootste deel van die jaar goed gevaar nadat sy staatsrede goed afgegaan, en sy tevredenheidsyfer met 5 punte gestyg het. Volgens die jongste daaglikse peiling het Trump se gewildheid tot 47% herstel, maar as diegene wat baie tevrede met Trump is (33%) met dié wat erg ontevrede is (45%) vergelyk word, lyk sake minder gunstig vir Trump.

Nog ’n interessante peiling is die peiling van Rasmussen waarin bevind is veel minder kiesers meen Trump het regverdig aan bewind gekom: “A new Rasmussen Reports national telephone and online survey finds that 48% of Likely U.S. Voters still believe President Trump won the 2016 presidential election fairly, but that’s down from 55% in April 2017 shortly after the new president took office. Forty percent (40%) say he did not win fairly, up from 33%. Twelve percent (12%) are undecided.”

(Rasmussen word nie oral as die beste moontlike peilingsagentskap beskou nie, en word beskuldig van pro-Republikeins te wees. Rasmussen ontken dit, en publiseer periodiek syfers wat sy aanspraak op akkuraatheid skynbaar ondersteun. Rasmussen is een van die min, indien nie die enigste nie, wat steeds die daaglikse peiling doen om kiesers se tevredenheid met die president se optrede te meet.)

Elke kant stoot hul swaargewigte in die voorste linies van die proses in. Veral die Republikeine het verskeie belangrike verskuiwings gemaak om te verseker dat Trump se beste en vurigste ondersteuners van die Wit Huis na die Kongres verskuif word. Lees gerus Politico hier.

Die interessantheid is dat Nancy Pelosi wat as die Demokrate se vernaamste wapen teen Trump ingespan is, se naam nou selde of ooit opduik noudat die wiele begin rol het.

Nog ’n interessante waarneming is dat die Amerikaanse media nou minder maak van die komende staat van beskuldiging-verhore as wat die Europese koerante daarvan maak. Die jongste beskikbare uitgawe van The Conversation, dié van 11 November, hanteer die onderwerp glad nie, maar fokus eerder op die herdenking van (militêre) veteranedag.  (Trump word gereeld gekritiseer omdat hy nooit militêre diens tydens die Viëtnam-oorlog verrig het nie. Hy is vyf keer vrygestel, ’n algemene praktyk onder seuns uit invloedryke families.)

Ook die Rasmussen-verslag vir vandag fokus eerder op Veteranedag. ’n Artikel deur Ted Rall wat in vandag se verslag ingesluit is, fokus die progressiewes in die Demokratiese Party eerder daarop om die party oor te neem, as om Trump te verslaan. Lees hier.

Ook die jongste daaglikse nuusbrief van die Los Angeles Times verwys net opsigtelik terloops na die staat van beskuldiging-verhore, hoewel geskryf word dat die saak nuus uit Washington dié week oorheers: “More Politics — As the impeachment inquiry moves into a public phase, leading Democrats — joined by at least one GOP lawmaker, Rep. Will Hurd of Texas — rejected Republican demands for public testimony by the whistleblower, whose complaint set the process in motion.
— With many Democrats growing anxious that an uncompromising progressive at the top of the ticket could push swing states into Trump’s hands, Pete Buttigieg is fast threatening former Vice President Joe Biden’s dominance of the Democratic primary’s pragmatic lane.”
Die vraag bestaan egter ook of Trump se toekoms nie elders bepaal kan word nie. Na ’n hofbevel tot dien effekte gaan sy belastingsake ondersoek word, en is hy reeds beboet oor sy Stigting se geld ten bate van Trump se persoonlike sake aangewend is.

3. Min groot aardbewings so ver vanjaar

Volgens die jongste data van die Amerikaanse geologiese opname-instelling, USGS, stuur die wêreld vanjaar op die tweede stilste jaar vir groot aardbewings in ‘n lang tyd af. Tot dusver was daar vanjaar net 9 aardbewings van M7 of sterker. Die sterkste was een van M8, wat op 26 Mei vanjaar in Peru voorgekom het. Aardbewings van 7 of strerker word as norm vir sterk aardbewings gebruik omdat tsoenami’s selde weens swakker aardbewings ontstaan. Die sterkte is egter nie al wat tsoenami’s veroorsaak nie. Die bodemformasie speel byvoorbeeld ook ‘n belangrike rol.

Vanjaar het wel, volgens sommige waarnemenrs, die lank “uitstaande” groot aardbewing in die suide van Kalifornië, dws in die omgewing van Los Angeles opgelewer. Op 6 Julie is ‘n aardbewing 7,1 aangeteken, maar verbasend min skade is aangerig.

Al die groot aardbewings het op die sg Ring van Vuur voorgekom, twee in Indonesië, twee in die naasliggende Papua Nieu-Guinee, een aan die Amerikaanse weskus, twee in Peru, een in Ecuador  en een by die L Esperance Rock noord van Nieu-Seeland.

Hoewel daar minder as twee maande voor die einde van die jaar oor is, bly dit voortydig om te voorspel dat die aarde ‘n besonder stil sterk aardbewingsjaar sal beleef. Aardbewings neig om in “vlae” voor te kom. In Februarie en Maart was daar ‘n klein “sarsie”, terwyl die meeste van die sterk aardbewings sterk aardbewings, 9, van Mei tot Julie plaasgevind het.

Voorverlede jaar was juis ‘n besonder stil sterk aardbewingjaaar met net 7 wat voorgekom het. Vanjaar is dus reeds hierdie merk verby. Die meeste die afgelope dekade was in 2010, met 22 sterk aardbewings. Die tweede meeste was die volgende jaar met 20, en daarna in 2015 met 19. Behalwe vir voorverlede jaar het geen jaar minder as 12 ogelewer nie (2014).  Die res was almal 16 of meer.

Terwyl dit waaghalsig sal wees om af te lei dat aardbewings aan die toeneem of afneem is, veral as alle sterkte aardbewings in berekening  word, is dit duidelik uit die afgelope dekade se syfers dat die voorkoms nie op die eindtye dui nie.

Altesaam 23 mense is vanjaar reeds in aardbewings dood. Sterfgevalle kan geweldig verskil, soos as die aardbewing ‘n tsunami veroorsaak het, die diepte waar die aardbewing ontstaan het, die gehalte van die bouwerk en die bodemformasie, doeltreffendheid van tsoenamie-waarskuwingstel (aardbewings self se voorspellings is nog in die kinderskoene), die gehalte nooddienste, afgeleëntheid en vele meer.

 4. Oom Herrie se kerrie: Is daar “something like booboothi” in die hemel?

Oom Herrie se lekkerste jaar was toe hy as sewejarige kind saam met sy gesin ’n bykans sorgelose jaar in die VSA deurgebring het. Minder as twintig jaar later het hy probeer uitpluis wat de ongeluk hy destyds in Amerika moes aangevang het dat die VSA hom ]n visum geweier het om vir sy ma, wat toe met die uitgeweke Suid-Afrikaner en Afrikaanse digter, Barend J. Toerien getroud was, op hul plasie buite Kerhonksen 100 myl noord van New York, te gaan kuier. Na ’n groot gedoente is hy darem met ’n verkorte visum VSA toe.

…………………………..

Oudste het gisteraand uit die Kaap gebel, sy stem bewe liggies. “Weet pa dalk of Jon Nichols oorlede is?” Pa weet nie, maar pa sal probeer seker maak. Ja, Jon Nichols is inderdaad oorlede. Sy Facebookblad laat geen onduidelikheid daaroor nie.

Ouboet het Jon eerste van ons almal leer ken. Kort voor oudste sy landbougraad verwerf het, is sy destydse lewensdroom onder sy voete uitgeruk toe hy agterkom sy droom-werksaanbod bestaan nie meer nie.  Sy klasmaats weet almal waar hulle gaan werk, meestal by hul ouers op die plaas. Ek het nie ‘n plaas nie, en my hande is taamlik afgekap. Al genade, na ’n stroom werksaansoeke niks opgelewer het nie, is om ’n honneurs te doen.

Maar oudste se hart is uit hom uitgeruk. Dis toe dat ek hom vra of hy nie sou belangstel om navorsing te doen oor die moontlikheid om die beefalo in Suid-Afrika te vestig nie? Eers wil hy weet wafferse soort ding ’n beefalo nou is. “Dis ’n kruising tussen ’n bees en ’n Amerikaanse buffel, of te wel, die bison. Pa het jare gelede in die Landbouweekblad daarvan gelees.”

Oudste stel geweldig in beeste belang, en hy pak die onderwerp met ’n passie. Hy e-pos die VSA vol, en so verskyn Jon Nichols, ’n beefalo-man van Washingtonstaat, naby Oregon op die toneel. Hoed op die kop tussen die beefalo’s lyk hy nes ’n lang skraal cowboy. Amper op ’n haar na soos oud-pres, CR Swart wat in sy jong dae in ’n Amerikaanse rolprent ’n cowboyrol losgeslaan het.

Ek het my verstom oor dié man wat so vriendelik en hulpvaardig na die jong Suid-Afriakner uitgereik het. Jon, ’n paar jaar my senior, het bykans niks ontsien om die jong man se aanfdag vasgevang te hou nie, en mettertyd het sy trauma die wyk geneem. Ek het gehelp waar ek kon, en nie lank nie, toe is ek en Jon goeie vriende. Onder die vele dinge wat ons gemeen gehad het, is dat hy ook ’n draai in Kerhonksen gemaak het. Hy was daar by ’n radiostasie betrokke, terwyl die uwe self by wyle Radio Hoogland en Radio Rosestad betrokke was.

Mettertyd begin die foto’s van sy gesin, en veral sy kleinkinders, opdaag. Die een kleindogter, River, se ouers woon naby en is gereeld as haar oupa se oogappel op die plaas.   

Hy ken heelwat oud-Suid-Afrikaners wat in die VSA gaan aanpas het, en ’n paar huisvriende het onder hulle getel. Na een laat glip het van die Krugerrande wat hy saam VSA toe geneem het, skynbaar gesmokkel, het hy skynbaar geglo elke Suid-Afrikaner in die VSA het toegang tot ’n aansienlike neseier van Krugerrande.

Op ’n dag het hy ’n versoek. ’n Klompie jare tevore het hy en vroulief Suzanne by Afrikaanse vriende geëet, en daar was ’n besonder lekker Suid-Afrikaanse gereg. “Do you perhaps have a recipe in Englih for something that sounds something like booboothi?” Die vriende het sedertdien verhuis, resep en al, en hulle het kontak verloor.

Ek is nie ’n reseptemens nie, maar op Google is daar resepte in Engels te kies en te keur. Van heel matig, tot sterker tot iets wat niks anders as ’n vlammende hel kan wees nie. Ja, dit blyk dat na Columbus Amerika herontdek het, het die Indonesiërs nie gras onder hul voete laat groei om hul boboties met rissies uit Suid-Amerika nog vuriger te maak nie. Daar is verskillende spesies rooi rissies, en die sterkstes onder hulle is ’n belangrike bestanddeel in die ding wat die misdaadgeteisterde Suid-Afrikaners as “pepersproei” ken. Eintlik is die regte Afrikaans daarvoor sjoe-sjoe Rooirissie bl*&^mse sproei. Ek het dit self jare lank verkoop. Van die make is so flou dis eitlik maar miggiepiepie. Moenie iets koop wat swakker is as tien persent capsicum nie, en as dit kan, 16 persent. As die persentasie nie op die kannetjie staan nie, donder tog die verkoopsman want hy stel jou lewe in gevaar.

Kort hierna is ek met twee kankers gediagnoseer, en toe ek vir Jon inlig, kom hy met die sak patas uit dat hy self al ’n ruk vir een van my kankers, prostaatkanker, behandeling kry. Nogal dieselfde soort behandeling.

Hy plaas my dadelik op die gebedsgroep waarvan hy lid is se gebedslys. Kort-kort herinner my dat daar is ’n klompie Indiane lid van die groep is, en dit blyk later hulle het tradisionele gebruike wat vir hom aan die vreemde kant is. So vergelyk ons vordering. Later is hy gesond – ek nog ’n ent agter, en boonop looi ’n ander kanker my ook van die kant af. Die booboothi raak vergete.

Toe dit tot my deurdring dat Jon regtig heengegaan het, skiet herinneringe my in – die lang, skraal cowboy met die besondere humorsin, wat hom met sy enrome kennis oor ‘n jong boertjie in Suid-Afrika ontferm het, en van die jong man een van die groot beefalo-kenners in die wêreld gemaak het, die VSA ingesluit.

En as die eerste reggeteelde beefalo-kuddes wat tegelykertyd hitte- en kouebestand is, alles vreet en vet word daarvan, wat ’n klein kalfie het maar gou-goue die gewone beeste in- en verbygroei, wie se vleis jaar vir jaar die Amerikaanse beefbraai-kompetisies wen, eers in Suid-Afrika posgevat het, dan wei ‘n monument soos min vir Jon Nichols op die Suid-Afrikaanse plase.

Foto: Bold Venture, een van Jon se suksesvolste beefalo-bulle.