Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier
Weeklikse nuusoorsig 28 November 2019 Donderdag | 28 November | 2019

1. Geseënde Christusfees.
Hierdie uitgawe is die laaste van die jaar, genoodsaak deur ooreising. Dit staan daarom in die gees van Kersfees. Ons wens dus al di lesesers ‘n baie Geseënde Kersfees toe, en ‘n nuwe jaar met die eenvol reënmeter op die ander.

2. ‘n Boer maak ‘n plan
Die jongste ProAgri skryf onder meer soos volg: “Lewendehawe veilings in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en Noordwes is tot verdere kennisgewing deur die Departement van Landbou opgeskort na die uitbreking van bek-en-klouseer in die Molemole-distrik van Limpopo. Dit gaan verdere druk op veeboere in die gebiede plaas.

“Dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die dieregesondheidsforum (DGF), het bevestig dat die verbod op veilings nog slegs in die noordelike provinsies is, MAAR, hy het veilingsorganiseerders ernstig gemaan teen veilings op enige plek in die land. Dr Pieter sê indien iemand nou ‘n veiling hou en die siekte word versprei, daardie persoon verantwoordelik gehou sal word daarvoor. Hy sê ook dat die veilingsorganiseerder siviel en strafregtelik aangekla kan word.”

Die verbod raak ook die uwe se gesin – vroulief se ondernemig druk onder meer diekatalogusse vir veeveilings iets wat met die droogte baie min geword het. Sy was net mooi halfpad met die drukwerk van een, toe sy gevra word om te halt, weens die verbod. Daar is net oral skade oral waaraan mens kan dink. Toe ‘n paar dae later kry sy opdrag om die bestelling te voltooi. Later verneem sy die veiling gaan voort, maar op ‘n ander manier. Van elke dier word ‘n dideol geneem, en dit word tydens die veiling vertoon. Ja, ‘n boer (en die afslaer) kan darem ‘n plan maak.

3. Maak beswaar teen grondonteiening sonder vergoeding, vra TLU SA

TLU SA het ‘n veldtog bekend gestel om Suid-Afrikaners aan te moedig om steeds kommentaar te lewer teen die wysiging van art. 25 van die grondwet rakende grondonteiening sonder vergoeding.

“President Ramaphosa se regering het eensydig besluit dat die grondwet gewysig moet word en nie ag geslaan op die insette wat die gevolge van so ‘n wysiging duidelik uitgespel het nie,” sê mnr. Louis Meintjes, die president van TLU SA. “Ons uitgangspunt is, en was nog altyd, dat grondonteiening sonder vergoeding ‘n bedreiging tot privaat besitreg en die vryemarkstelsel is.

“Die wysiging gaan Suid-Afrika se ekonomie vernietig en ‘n noodlottige effek op voedselsekerheid hê. Ons kan en sal nie deel wees van hierdie vernietiging nie. Grondonteiening is níé belangriker as kos op die tafel nie.”

Die publiek het nou tot Februarie die geleentheid om oor die bewoording van die wysigings kommentaar te lewer.

“Die konsepwetgewing oor hierdie wysiging word eenvoudig deur die parlement gestoomroller,” sê mnr. Meintjes. “Met hierdie veldtog doen ons ‘n dringende beroep op Pres. Ramaphosa en die voorsitter van die ad hoc-komitee getaak met die bewoording van die artikel, Dr Mathole Motshekga, om eerder te fokus op hoe die wysigings en bewoording daaruit behoort te sien om eiendomsreg te versterk en te verhoed dat onteiening sonder vergoeding kan plaasvind. Dit is in belang van elke inwoner van Suid-Afrika.”

Suid-Afrikaners kan die veldtog ondersteun deur die volgende skakel te volg: https://www.tlu.co.za/grondonteiening/

4. Kersfeesspyskaart van Bybelse kosse

Talle Suid-Afrikners is stellig al hul en hul

gaste se Kersete aan die beplan, maar wil dit

besonders maak deur ‘n regte Bybelse

spyskaart op te dis.

Volgens die spyskaart van ‘n kerk se Bybelse ete na die Nagmaal, bevat dit omtrent net bekende Boerekos. Op die spyskaart pryk dus gebakte aartappels, geglasuurde soetpatats, tamatieskywe, boontjies, mielierys en net vir die outentiekheid, Jerusalem-artisjokke. Vir kleur word gekerfde groen, geel en rooi soetrissies opgedis, en die pynappelstukke klink smaaklekker.

Die vleisgereg is natuurlik die tradisionele Kerskalkoen.

In die peperpotjies is vir afwiseling rooipeper geplaas.

En vir nagereg is daar aarbeie met room.

Laat die feesmaal begin!

Maar as ‘n mens punte vir suiwerheid moet uitdeel moet die sjefs ongelukkig ‘n ronde nul uit tien kry. Gewone artisjokke was aan die Bybelse mense bekend, maar die Jerusalem-artisjokke kom uit die Amerikas. Sommige soort boontjies was aan die Ou Wêreld bekend, maar ander, veral rankboontjies, kom ook van oorkant die groot waters.

Hoewel die aarbei in aan die Ou Wêreld bekend was, kom die variesie wat nou oor die wêreld verbou word van ‘n kruising van twee Amerikaanse subspesies. Alle variëteite wat vandag deur die mensdom geëet word stam hiervan af.

En natuurlik sal die kalkoen ook van die Amerikas af kom. Maar gelukkig was daar wel smullekker vleisies tot die Bybelse mense se beskikkingal was de varke so gelukkig soos swyne in Palestina. Die uwe, vir een sal darem nie so lekker aan die skaaptjoppie van ‘n skaap eet was so hondmak agter die herder aangeloop het nie, maar dit darem bo ‘nander alternatief, sprinkane, verkies.

Die Bybelse mense het wel ‘n groot verskeidenheid tot hul beskikking gehad. Brood was bekend, hoewel koring eintlik net vir die adel en die rykes bedoel was. Die weermag en armes was meestal op garsbroodjies aangewese. Ook sorgumbrood is geëet. Garsbrode is laag in cholesterol en glutien. Die broodjies wat saam met die vissies verdeel en aan die skare uitegedeel was, was ook garsbroodjies.

Koring het in die Bybel ook groot simboliese waarde, en wette is ingestel om armes te help versorg. Boere langs rweiroetes moes ten die pad ‘n strook koring aan reigers afstaan wat dit as padkos kon nuttig, en are wat tydens die oes op die grond geval het, moes vir die armes, veral weduwees gelaat word om op te tel. Rut was ‘n bekende voorbeeld uit die Bybel wat so kos kon bekom.

Volgens die Bybel het die mense in die Midde-Ooste ook, vir ons, ongewone kosse te ete gekry. Manna is hiervan seker die bekendste, terwyl daar nog ‘n element van raaiwerk is oor presies wat manna eintlik was. Ook die eet van sprinkane word dikwels genoem, en die Isrealiete het juis drie soorte gehad wat mekaar in vernietigende vlae opgevolg het en die land al kaler gevreet het. Die drie soorte word in sommige Bybelvertalings by die naam genoem.

As u dus ‘n werklike suiwer Bybelse ete beplan, en u is nie seker oor ‘n spesifieke gereg op die tafel hoort nie, gaan soek dit op in die elektroniese Bybelargief op die Bybelgenootskap se webwerf, http://www.bybel.co.za/home/

Die soekfunksie is regs op die bladsy. U kan kies of u die 1953 of die 1983 vertaling, of die Bybel vir almal wil gebruik. U kan ook al drie gebruik, want soms is dit nie dieselfde nie. Daar is wel deeglik ‘n groot verskeidenheid, van speserye en kruie, tot vis – varswatervis uit die See van Galiliea en seevisse uit die Middellandse See wat in die Bybel vermeld word. Dadels en olywe is ook daar, en selfs iets wat lank-lank gelede vermoedelik uit Suid-Afrika gekom het, naamlik waatlemoene. Waatlemoen behoort tot dieselfds inheemse spesie, die makataan, en is verwant aan die karkoer. Die “verhuising” van die waatlemoen moes baie lank gelede gebeur het, want dit was al drieduisend jaar gelede in China bekend.

Jammer, rys kon nie daarin voor nie, en dus ook nie geelrys nie. Dawid het egter saam met brode vir sy broesr op die front ook gebakte koring geneem. Dalk sou dit deug in die plek van rys, melierys, of aartappels. Die Bybel verwys nie na rysmiere of termiete as moontlike plaasvervanger vir rys nie – of selfs hoegenaamd as kos nie.

Druiwe was al baie lank aan die gebied bekend. Die spioene wat die Beloofde Land moes gaan verken het juis oor die reuse druiwetrosse terug gerapporteer. Hul beskrywing oor hoe twee man so ‘n tros moes dra, was die inspirasie vir die logo van die Berg Karmel se landgoed.

5. Kalkoene in die nuus

Kalkoene is in die nuus, en deesdae nie net weens die miljoene kalkoene wat met Kersfees en die Amerikaanse Danksegging verorber gaan word nie, maar hoofsaaklik vir die talle verbeterings wat moderne telers sedert die 70’s teweeg gebring het. ’n Gemiddelde kalkoen is nou ongeveer die ekwivalent van ’n baie groot en vet hoender swaarder as sy oupagrootjie, maar vreet nog net dieselfde hoeveelheid kos.

Die gedomestiseerde kaloen is geteel uit een van twee spesies wilde kalkoen, die Meleagris gallopavo, met die mak kalkoen wat uit een van ses subspesies daarvan geteel is. Van die ander subspesies is besonder groot, terwyl die mak kalkoene hul grootte danksy selektiewe teling bereik het. Die swaarste kalkoen wat geweeg is voor hy oond toe is, het op ‘n stertveer en ‘n aks na 40 kg geweeg. Hierteenoor het die swaartste wilde kalkoen wat ooit geskiet is, sowat 15 kg geweeg. Beide die mak kalkoen en een van die subspesies, Meleagris gallopavo silvestris, kan sowat 1,2 meter hoog in hul spore staan. Daar is waarskynlik nie veel huishoudelike oonde wat so ‘n bielie van ‘n dierasie heel kan “inneem” nie.
Die kalkoen is meer as 2 000 jaar gelede gedomestiseer. Die voorouer van dié kalkoen word die Asteekse kalkoen genoem, maar die krediet vir die eerste mak kalkoene moet eintlik aan ‘n ander volk, die Mayas gaan, en meer bepaald in Guatamala. Die Asteekse kalkoen is blykbaar ’n nageslag van die Suidwestelike Meksikaanse wilde kalkoen. Bronne verskil oor die skaarsheid van dié kalkoen vandag, en selfs of dit nie reeds uitgesterf het nie. Sy gene leef egter na berig word vandag in die mak kalkoen voort. (Lees gerus die volledige artikel by https://maroelamedia.co.za/resepte/kalkoentjies-trap-al-so-al-so-al-so/

6. Boekbekendstelling

Na Verre Hawens (Die boek is reeds by boekwinkels beskikbaar en is gewaarborg om heerlike leesstof te boed wanneer u die Kersvakansie bietjie voetjies gaan laat hang).

‘n Klompie van ons is in Hennie van Deventer se kantoor saamgetrek. Hennie, destyds, in 1981, was redakteur van Volksblad, en gaan ons toespreek oor ‘n belangrike verandering aan die koerant – die wegdoen met die loodgietstelsel na litografie. In plaas van die ou bekende bloutjies, ‘n deurslag waarmee die wit papiertjies op ou tikmsjiene gemoker is, gaan rekenaars die ding doen.

Hennie agter ‘n rekenaar? Henie agter sy tikmasjien daar in sy kantoor, met sy vingers wat oor die toetse vlieg, was immers ‘n baie bekende gesig. So vinnig het sy vigers die toetse bygedam, ek is tot vandag nie seker of hy al tien vingers ingespan het, of soos ek die twee wysvingers die “praatwerk” laat doen het nie.

“Hier gaan ek my redakteurskap inspan om rang te trek,” vertel Hennie in ‘n ligte luim. “Ek gaan steeds my tikmasjien en die bloutjies gebruik. Iemand anders sal dit in die rekenaarstelsel moet intik.”

Ek is weg by Volksbld nog voor die rekenaars gekom het, en weet nie of Hennie inderdaad sy verhouding met die tikmasjien voortgesit het nie. Al wat ek weet is dat die timasjien waarmee ek moes tik, skade opgedoenhet toe dit van die ark afgelaai is. Elke keer wat ek hom reggemaak het, is hy “omgeruil” en is ek met ‘n ander, stukkende masjien opgesaal gelaat. Nie ‘n probleem nie –ek het dit gou “opgefieks.” Behalwe een. Hom moes jy heel links op die lessernaar sit, en dan “loop” hy self oor die lessenaar tot mens hom moet “vang” voor hy regs afval. Ek was nog besig om die probleem uit te puis, toe is die gort gaar. Die skukldige, wat sy krank tikkerasie met myne omgeruil het, is gesoek, al het ek nie gekla nie.

Die punt wat ek wou maak, is dat dit heel duidelik is dat Hennie, ten spyte van sy gehegtheid aan die tikmasjiene, tog rekenaars onder die knie gekry het. Altesaam 16 boeke nie uit nie, vertel die verhaal. En as ‘n mens sy leestof onder oë neem, was humor nooiit ver weg nie.

Hennie se uitsonderlike geheue het ons jongklomp verstom, veral as ‘n mens as groentjie ‘n storie by ‘n voorganger “erf.” Hy kon daardie kennisleemte in die skerpste besonderhede toelig – besonderhede wat dikwels ‘n gans ander lig op die saak kon werp. En ja, dit was ‘n openbaring hoe dikwels mense hul self as toegerus beskou om ‘n redakteur te gaan dreig. En soos ‘n afgetrede regter wat soms self die paadjie geloop het by geleentheid vir my gesê het, ‘n mens dreig nie iemand wat sy ink by die konka koop nie. (In alle billikheid, die regter het na ‘n latere redakteur verwys). Iemand wat met ‘n dreigement wegval eerder as om mooi te kom praat, kon maar verwag dat die berigegwing nie baie sagkens sou wees nie.

Verskeie bekende oud-Volksblad-mense het na hul aftrede ‘n behoorlike nuwe lewensteug geneem en ‘n tweede lewe aangepak. Die bekende Herman le Roux het sy liefde vir sportverslaggewing behou, maar sit duidelik nie stil nie soos hy en sy uitgebreide familie vakansie hou of kuier, en nog graag tennis speel ook. Piet Theron het die nuus gehaal soos hy sy gestremde seun in sy handewerk ondersteun het, maar diep by munisipale sake betrokke geraak het en ook op ‘n wykskomitee dien. Sarel Venter self skryf oor gemeenskapsake, en geniet dit om by familie te kuier. Maar dis net of Hennie net nog meer uit sy goue jare kan haal.

Dat Hennie so ‘n besondere humorsin het, het ek kort voor ek weg is eers ontdek. Dit was na die redaksielid wat vir die rubriek, Korrelkop, verantwoordelik was, ‘n ander pos opgeneem het. Korrelkop was destyds ingestel om met ‘n “kritiese oog” na die nuwigheid, TV, te kyk. Die SAUK TV was nuut en taamlik baie flaters is begaan. En flaters het skreeusnaaks onder die vingers van Korrelkop geword. Ek is binne hoorafstand toe ek hoor hoe iemand vir Korrelkop vra wie nou Korrelkop gaan wees. “Die baas gaan dit blykbaar self doen?”antwoord Korrelkop.

“Wat Hennie?”reageer die verslaggewer verbaas. “Jong, Hennie het ‘n skerp humorsin.”

En so was dit.

En dis of humor ‘n belangrike anker van nie net Hennie se skryfwerk geword het nie, maar sy lewe. Boek na boek, van sy alledaagse by die huis oorkant die baai van Tafelberg af wees, tot sy winer-uitspanplek (en ander tye vandie jaar ook) naby die Krugerwildtuin. Sy kleinkinders is hul oupa se oogappels en trots, ook op die sportveld. Selfs die kerk word nie van “blootstelling” gespaar nie.

Dat die tyd aanstap kan kwalik uit die goue letters agtergekom word, behalwe wanneer die Byl in die woud kap. Groot gees op groot gees word weggeneem, maar Hennie word gespaar om vir die volk steeds kuberpennevreug te verskaf –ligjare (of dit voel dit moet tegnologies so wees) verwyder na daai tikmasjien in die hoek van die redakteurskantoor waar bloutjie op bloutjie uitgespoeg is.

So tussenin is verskeie skeepsreise aangepak. En skeepsreise so saam met gesinslede of vriende, lewer baie onderwerpe vir verhale wat in “vingertaal” opgediep kon word. En as daar nie genoeg vriende aan boord was nie…geen probleem nie. Vriende word gou-gou gemaak en deel van opgetekende aan boord avontuur op avontuur.

Met Na Verre Hawens kan u deel word van die opgetekende verhale van ‘n meestervetreller wat besonder bedrewe is om soos ‘n goeie verslaggewer te kan waarneem, en dan met goue letters met die vingers te kan praat. Na Vere Hawens word

Na Verre Hawens word op Donderdag 9 April 2020 om 12:00 heel gepas tydens die Oppiwaterfees bekend gestel. Die fees is van 5 April tot 10 April aan boord van die MSC Orchestra en vaar vaar uit Kaapstad na Walvisbaai en Luderitz.

Die boek is te koop by sekere winkels en aanlyn by www.Naledi.online. Die skakelpersoon daar is swart@naledi.online.

7. Ruimtenuus

Bewys herwinning van maantuig-onderdele nie bemande reise na maan nie?

Dit is vanjaar die 50ste herdenking van die eerste bemande ruimtereise na die maan. Oor die jare moes wetenskaplikes met sorg vele argumente oor hoekom die bemande reise na die maan nie werklik sou plaasgevind het nie, weerlê.

Maar wat dan van Apollo Twaaf se reis, waartydens die besoekers op die maanoppervlak, onderdele van ’n vroeëre tuig wat op die maan geland het, na die aarde teruggebring het?

Apollo 12 het op 19 Novenber 1969, vyftig jaar gelede, op die maan geland, binne loopafstand van waar Surveyor 3 twee en ’n half jaar tevore geland het. Die landing het as presisie-landing bekend gestaan om seker te maak dit sou binne loopafstand van die vroeëre tuig af wees.

Die twee bemanningslede, Charles “Pete” Conrad en Alan Bean se taak was soortgelyk as dié van argeoloë. Hulle het altesaam 9 kilogram se dele van die tuig, waaronder die kamera, saamgeneem aarde toe. Die kamera het geblyk steeds in ’n werkende toestand te wees na dit so lank aan ruite-elemente blootgestel was.

Die dele wat saamegkom het aarde toe is taamlik wyd versprei, maar die ideaal is om alles uiteindelik by mekaar te kry en saam te bewaar.

https://www.space.com/apollo-12-surveyor-3-parts-50-years.html

Water vir eerste keer op Jupiter se maan Europa bevestig

Wetenskaplikes kon vir die eerste keer met volkome sekerheid bepaal dat Jupiter se maan, Europa, water bevat en so ’n kandidaat geword om moontlik lewe te kan onderhou. Dit blyk dat waterdamp gereeld van die maan se oppervlak die ruimte ingespuit word.

Europa is een van agt mane in ons sonnestelsel wat oor ’n uiters dun atmosfeer beskik. Die aarde se maan is nog een. Nog twee mane, Io van Jupiter en Triton van Neptunus het effens dikker atmosfere, terwyl Titaan van Saturnus ’n volwaardige atmosfeer het, wat boonop 50 persent digter as dié van die aarde is.

https://futurism.com/the-atmospheres-on-our-moons

https://newatlas.com/space/water-vapor-jupiter-moon-europa-confirmed/

8. Oom Herrie se kerrie: Die Fmpie

(Hierdie is ‘n baie ou episode, maar word weer opgedis weens die inleiding wat oor weervoorspellings handel –iets wat nou baie sterk van toepassing is).

Vanslewe het Vrystaatse ’n boer ‘n plaaswerker gehad wat so ’n voorslag met die weervoorspelling was. Soggens vroeg al wou die boer by die werker weet wat die weer gaan doen. Die werker het dan so gaan staan dat hy die hemelruim mooi kan sien, die blou lug ingetuur, sy vinger natgelek en in die lug gesteek, dan goed gedink en gepeins voor hy sy orakel spreek.

Byna soos klokslag in die kol.

Eendag vra die boer weer, maar die plaaswerker is nukkerig, en sê net hy weet nie.

En so karring die boer met die plaaswerker tot dié huilend sê sy FM het gebreek. Nou weet hy mos nie.

Met die chemoterapie is daar tye wat oom Herrie te veel in die bed rondrol. Dis ’n voete vryf, die kuite salf teen krampe insmeer, kort—kort badkamer toe suiker, kombuis toe minstens twee keer die nag vir ’n kos-plundertog en die honde wat dan om hom kom sit en wag vir hul aandeel in die buit.

Dis wanneer hierdie simptome op die ergste is wat oom Herrie spaarkamer toe trek sodat vroulief kan goed slaap. Sy trek swaar met dié dat die oom nou so dikwels ’n vyfde wiel aan die wa is.

En dis hier waar die FMpie oom Herrie se geselskap word. So geleidelik begin oom Herrie ’n ekspert word – weet wanneer om van RSG na Radio Rosestad aan te draai, en weer terug. Daar is omroepers wat omtrent nie iets onaardigs kan speel nie – van Master Jack, Distant Drums, Jerusalem tot klassiek. Te mooi. Ander gooi weer dowwe kolle tussenin, soos hierdie “musiek” wat oom Herrie verstaan as “nuwe Afrikaanse klank” bekend staan. Musiek van waar af? Wolf maak veel meer harmonieuse geluide wanneer hy vroulief laat verstaan hy is nou so honger soos, wel, ’n wolf.

Dan is daar die sadiste wat die een onluisterbare stuk op die ander speel. ’n Paar keer het oom Herrie onder Praat saam se heruitsending aan die slaap geraak, en word dan wakker “gespeel” deur van hierdie geluide wat oorlog teen ‘n mens se oortromme verklaar het. Kyk, dan is oom Herrie ongelukkig, want dan begin die voete vryf, die salfies op die krampe insmeer (en glo maar vir oor Herrie, dan is daar in minstens een van die kuite ’n woeste kramp), kombuis toe gaan van voor af.

Dit sou heel gepas wees as die ou treffer, Clap your hands, Stamp your feet, dan gespeel het.

In die program vir groot vragmotorbestuurders sê hulle mos as die manne gaan slaap, gaan hulle lappe trap. Oom Herrie weer, trap en rol, rol weer anderkant toe, beding met Nala vir bietjie meer ruimte, trap lappe … Die manne van die lang pad wens mekaar ook “om mooi te maak.” Die radio se musieksadiste maak egter darem nie mooi nie.

Natuurlik, so in die donkerte gebeur dit dat ‘n mens stasie verwissel en die “bestemming” juis in ’n lugstilte verbygaan en dan, o kragtie, by ,n ander stasie uitkom waar luisterbare musiek ’n rariteit is, en gangbare Afrikaans ’n nog groter skaarste. Dan weer soek na een van die “veiligste” stasies al is dit ’n geval van die beste van euwels in daardie stadium.

Soms kan dit nie anders nie, en word die FMpie stilgemaak. Soms is daar mooi naggeluide en word ingedommel. Soms is dit weer opstaan en kombuis toe slinger. Roosterbrood met heerlike gouestroop, en ‘n sterkerige Boeretroos, en so in die rustige verorbering daarvan en korsies aan Nala en Wolf uitdeel, daag Klaas Vakie ook op. Dan net gou gaan tande borsel, en kom inkruip. Klaas Vakie is dan weer skoonveld. Dan weer die FMpie se stasies opsoek…

Nou ja, oom Herrie wonder wie se skuld dit is dat daar so baie swak musiek gespeel word. In die gees van vandag, seker pure apartheid se skuld. Soos die Oos-Kaapse raadslid wat die skuld vir die leë damme op apartheid gepak het. Die “apartheidsregime” het te groot damme gebou en nou sukkel dié om vol te word. Die nuwe bewindhebbers het die oplossing – hulle gaan kleiner damme bou wat sommer gou vol word.

Vanoggend sien oom Herrie weer ‘n opskrif dat apartheid die huidige droogte se skuld is. Gelukkig is daar nie ‘n wet wat mens verplig om die berigte by sulke kaf te lees nie.

9. Die vyand

“Wanneer jy ‘n verdwaalde bees of donkie van jou vyand raakloop, moet jy dit beslis na hom toe terugbring. (Eks 23:4).

Die Bybel leer ons nie net van liefde vir ons naaste nie, maar ook vir ons vyande, asook dat ons die vreemdeling in ons poorte moet behandel soos ons self behandel wil word. Maar wie van ons kan hierdie opdragte uitgevoer kry?

Presies ‘n jaar gelede was dit “ons beurt.” Twee huisrowers het ons oorval. Vroulief was gou winkels toe, ek was besig om ‘n nuuskommentaar vir Pretoria FM te skryf, en ons jongste, wat outisties is en oor min spraak beskik slaap nog. Mitah het in die portaal skoongemaak en die uwe was nie bewus daarvan dat sy die veiligheidshek voor die voordeur oopgesluit het om die paadjie te vee nie. Skielik was dit “ons beurt.” Mitah is oorval en gil. Ek was in daardie stadium so verswak van die kanker dat ek gereeld nie eens ‘n sleutel in ‘n sleutelgat kon draai nie. Ek strompel uit die rolstoel, waarin ek gesit en werk het op, en gooi die een aanvaller wat juis toe my met ‘n lang tuisgemaake mes bestorm. Al wat ek kon doen was die man met ‘n erdepot te gooi, maar dit breek net teen hom. Ek word met die mes in die rug gekap, maar gelukkig mis die lem my en sit daar net ‘n rooi kol. Word toe onder die eetkamertafel vasgebind, met my een voet so beseer dat ek drie weke lank nie eintlik daarop kon trap nie.

Ek is bekommerd oor ons jongste, nadat ek ‘n week of so tevore gelees het van ‘n jong outistiese seun wat herhaaldelik met ‘n mes gesteek is omdat die aanvaller nie geweet het hy kan nie mooi verstaan en praat nie, al wou hy, en dus nie kon sê waar die sleutel se kluis is nie.

Skielik was Mitah stil, en skielik wil dit voorkom of die boewe vort moet wees. Ons jongste maak sy opwagting en sny my los. Hinkepink, op pad telefoon toe, kry ek Mitah in ons sitkamer lê, en skynbaar in ‘n diep slaap. Sy haal diep en rustig asem. Later blyk dit sy was sewe keer met ‘n mes gesteek, en toe dit haar nie stilkry nie, is haar kop teen die muur gestamp en haar voorste breinlob verbrysel. Dit was die Vrydagoggend, en sy sterf die Sondagoggend in die hospitaal.

Veral Afrikaanssprkendes reageer op die talle mediaberigte, en prys Mitah dat sy so haar lewe op die spel geplaas het om haar siek werkgewer en sy gestremde kind te probeer beskerm. Sy was ‘n diep Christen, wat baie hard gewerk het en dikwels van een plek na die ander gedraf het. ‘n Vorige werkgewer se kinders (nou al groot en uit die huis uit, het haar as ‘n “ma” vir hulle as kleingoed beskryf. Een meen hy weet dat die hemel nou silwerkoon sal wees noudat Mitah daar is.

‘n Aand of wat later is ek weer vir chemo in die hospitaal. E-TV se Afrikaanse nuusdiens kom doen ‘n TV-opname met my plat in my bed. Die herinneringe aan Mitha se goeie eienskappe laat my vrede predik, eerder as haat. Ja, ek wil steeds graag dat die twee manne gevang word. Ja, heimlik wil ek elkeen ‘n hou met die voorhamer op die voet gee dat hulle kan voel hoe my voet gevoel het.

Ja, my familie boer omtrent almal, en my skoonma en my skoonpa se broer is almal in plaasaanvalle oorval. Ons oudste, ‘n plaasbestuurder, beleef verskeie plaasaanvalle en opvolgopperasies in sy omgewing, eers by Bothaville en toe by die Paarl. Volgens Google het al al 13 300 trefslae oor plaasaanvalle en byna 7 000 vir plaasmoorde. Dit sluit uiteraard nie die wat ek in nuusverklarings namens politici geskryf het, in nie.

Soms is dit bitter moeilik om by die Bybelse opdragte te bly, veral vrywillig.

NS. Geukkig is ek nou, ‘n jaar later, baie sterker en kon ek selfs ‘n stukkie noodsaaklike pikwerk doen.