Op Dinsdag 5 Desember 2023 het die minister van water en sanitasie, Senzo Mchunu, die “Blue Drop”, “Green Drop” en “No Drop” verslae bekend gemaak. Die Blue Drop-verslag is seker die verdoemendste inligting aangesien dit aangedui het dat bykans die helfte van die land se drinkwater van swak kwaliteit is. In 2014 het 44 watervoorsieningstelsels die Blue Drop status ontvang terwyl net 26 in 2023 daaraan kon voldoen. Dit is ‘n negatiewe koers van bykans 41% in ‘n tydperk van 9 jaar.
Nie-inkomste water is waar daar fisiese verlies is van die bron deur waterlekkasies in pype, swak funksionering of afwesigheid van watermeters, onwettige aansluitings en swak fakturering en inkomste-vordering. Die No-Drop verslag het aangedui dat hierdie nie-inkomste water vanaf 2014 verswak het waar dit 37% behaal het, teenoor 47% in 2023 . Die internasionale standaard is 30%. In SA word op ‘n nasionale basis 47% van munisipale kraanwater geklassifiseer as nie-inkomste water. In hierdie kategorie is KwaZulu-Natal die hoogste met 60,5%, die Vrystaat op hul hakke, gevolg deur Limpopo met bykans 58%. Suid-Afrika is ‘n waterskaars-land en ten spyte daarvan, blyk dit dat die regering geensins in ag neem dat elke druppel tel nie.
Die grootste bekommernis is egter die afvalwater behandelingswerke waar 64% tans in ‘n hoë of kritiese risiko is, wat in werklikheid beteken dat gedeeltelike behandelde afvalwater of geen behandelde afvalwater in ons riviere en omgewing beland. “Hierdie impak hou ‘n uiters hoë risiko vir watergebruikers in aangesien dit kan lei tot erge gevolge vir menslike gesondheid, veral die uitbreek van cholera en chroniese diarree. Die ekonomiese impak vir landbou is ‘n ernstige bron van kommer omdat boere nie hierdie water vir produksie sal kan benut vir vars produkte nie,” sê Erika Helm, TLU SA Voorsitter van Plaaslike Regering Komitees.
Wanneer ‘n munisipaliteit toetse uitvoer en daar bevind word dat die drinkwater ‘n wesenlike gevaar vir menslike gebruik inhou, moet alle inwoners volgens wetlike voorskrifte in kennis gestel word van die situasie. Die departement water en sanitasie het gedurende die jaar skrywes aan munisipaliteite wat swak presteer het in die Blue Drop verslag gestuur en hulle ingelig dat hulle die inwoners van die onderskeie gebiede van die toestand van hul drinkwater in kennis moet stel . Inwoners moet dus versoek word om seker te maak dat hulle in kennis gestel is deur die munisipaliteit aangaande die gehalte van hulle kraanwater. Die departement voorsien maandeliks data oor gehalte soos ontvang van munisipaliteite en dit kan verkry word by ws.dws.gov.za/iris/mywater.aspx. Drinkwater in die groter stede se gehalte is egter heelwat beter as die platteland en is blykbaar as “veilige drinkwater” verklaar, hoewel hierdie situasie ook besig is om drasties te verswak aangesien 46% van drinkwater in 2022 mikrobiologies onveilig was om te drink.
Die grootste probleem is nog steeds by munisipale watervoorsieningdienste waar krities dringende ingryping benodig word omdat dorpe en stede reeds beurtwater voorsiening ervaar. CoGTA, departement menslike nedersetting en nasionale tesourie, in samewerking met die departement water en sanitasie, sal die munisipaliteite wat die swakste presteer bystaan met meer as R20 biljoen per jaar vir tegniese en ingenieurondersteuning, opleiding en finansiële bestuur, voorligting en ondersteuning.
Waar lê die probleem dan werklik? Die nie-nakoming van standaard bedryfsprosedures vir drinkwater- en afvalwaterbehandeling, asook die tekort aan onderhoud aan die infrastruktuur blyk die grootste oorsaak te wees. Munisipaliteite het nie die nodige gekwalifiseerde werknemers nie en daar word nie voldoende voorsiening gemaak in die begroting nie. Swak invordering wat dui op swak administrasie by die munisipaliteit, asook swak leierskap en bestuur, is van die grootste probleme. Vandalisme en diefstal van infrastruktuur het ook sy merk gelaat en dis duidelik dat wetstoepassing teen oortreders nie voldoende is nie.
Daar is verskeie regstellende aksies van verskillende departemente wat nou die lig wil sien en dit kan onomwonde gevra word waar was hulle in die voorafgaande jare toe die agteruitgang sy ontstaan gehad het. Dit skep agterdog as daar skielik voor die verkiesing verslae ingehandig word, regstellende aksies geïmplementeer word en weereens beloftes aan die publiek gemaak word oor die verbetering van basiese behoeftes. Dit terwyl die amptenare, wat vir jare gemaklik kon wegkom met minimum aksies ten koste van die belastingbetaler, onaangeraak gelaat word en die vervanging van onbevoegde amptenare nog steeds in enige verklaring afwesig is.