Die gebruik van TLU SA om al om die tweede jaar met die Susterskerke in gesprek te tree het weens die inperkingmaatreëls rondom Covid-19 bietjie skipbreuk gely. Op 14 Junie 2022 is daar weer voortgegaan daarmee en is daar met ’n afvaardiging van die Gereformeerde Kerk ’n baie konstruktiewe gesprek gevoer. Die gesprek het gewentel rondom eiendomsreg, veiligheid, droogte en die impak hiervan op die landbougemeenskap. Vir TLU SA wat onbeskaamd ons geloof in God Drie-enig bely, is hierdie gesprekke belangrik. Die kerk se rol word hoog geag en daar is groot waardering vir die geestelike onderskraging wat ons lede vanuit hul geloofstuistes ervaar.



