Die onlangse aankondiging van die Amerikaanse regering om ’n invoertarief van 30% op sekere Suid-Afrikaanse produkte te hef, het weereens die skerp lig gewerp op die gevolge van dekades lange wanbestuur, beleidsonsekerheid en politieke arrogansie. In sy bekendmaking het president Trump uitdruklik na Suid-Afrika verwys en gesê: “South Africa, they got some bad things going on…” — nie een keer nie, maar twee keer.
Vir 31 jaar word die inwoners van Suid-Afrika en die land se ekonomie geknel deur ‘n beleidsomgewing wat almal benadeel, behalwe diegene in magsposisies. Misdaad, infrastruktuurverval, krisisse in dienslewering en korrupsie het ’n situasie geskep waar buitelandse lande hul rug begin draai – nie weens ‘n gebrek aan wil om te handel nie, maar weens ‘n verlies aan vertroue.
TLU SA spreek nie namens ander sektore nie, maar binne die landbou is die impak van hierdie soort optrede tasbaar en ingrypend. Suid-Afrikaanse produsente sien hoe ander lande met groter respek en simpatie hanteer word, terwyl ons voortdurend boet vir die nalatigheid van ’n regering wat eerder ander blameer as om selfverantwoordelikheid te aanvaar
Selfs in die lig van hierdie strawwe tariewe, het ANC-verteenwoordigers nie gehuiwer om die VSA in openbare forums aan te vat en te beskuldig nie — ’n houding wat nie net onverantwoordelik is nie, maar ook onwys, veral as die gevolge hiervan gewone burgers en werkers in die landbousektor direk raak.
TLU SA het reeds met die Amerikaanse ambassade in gesprek getree om die implikasies van hierdie 30%-tarief op die landbou-omgewing te bespreek. Ons het gevra dat die landbousektor, waar moontlik, sagter hanteer word, aangesien die impak op werksekerheid, winsgewendheid en volhoubaarheid in landelike gebiede enorm kan wees.
Die boodskap wat ons ontvang, is duidelik: Indien Suid-Afrika nie self bereid is om toegewings te maak nie, veral ten opsigte van tariefbeleid op invoere vanuit Amerika, sal daar geen verwagting wees dat die VSA dieselfde sal doen nie. Dit is dus tyd dat die Suid-Afrikaanse regering met volwassenheid en verantwoordelikheid na die ekonomiese werklikhede kyk, en besef dat populistiese uitsprake en ideologiese kop-in-die-sand-beleide die land in ’n toenemend moeiliker posisie plaas.
Ons dring daarop aan dat die regering dringend sy tariefbeleid en internasionale houding herevalueer — nie net ten opsigte van die VSA nie, maar in belang van elke werker, boer en burger wat hul brood in hierdie land verdien.



