TLU SA het vandag sy jaarlikse kongres suksesvol by die WNNR Internasionale Konferensiesentrum in Pretoria aangebied onder die tema “Plaaslike Krag = Globale Geleentheid.” Lede van regoor die land, asook verteenwoordigers van ander landbou-organisasies en die regering, het saamgespan om die uitdagings en geleenthede in die huidige landboubedeling te bespreek.
Tydens die kongres is Henry Geldenhuys onbestrede herverkies as President van TLU SA. Wannie Scribante is tot Adjunk-president herverkies. In sy presidentsrede het Geldenhuys beklemtoon dat eiendomsreg die hoeksteen van stabiliteit en voedselsekerheid is.
Die kongres het ook ’n reeks belangrike kongresbesluite aanvaar oor eiendomsreg, veiligheid, plaaslike regering, arbeid, ekonomiese volhoubaarheid, onderwys en kultuur, en omgewingsake met ’n fokus op waterbestuur. Hierdie besluite sal as rigtingwysers dien vir TLU SA se beleidswerk en betrokkenheid in die komende jaar.
Verskeie gassprekers en vennote het waardevolle insette gelewer. Dr. Wouter Basson was die hoofspreker, terwyl ander landbou-organisasies en kongresborge boodskappe gebring het. ’n Boodskap namens landbouminister John Steenhuisen is deur adjunk-direkteur-generaal Dipepeneneng Serage gelewer. Paneelbesprekings het die aandag gevestig op noodsaaklike kwessies soos plaasveiligheid, arbeid en ekonomiese volhoubaarheid.
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het in sy jaarverslag die harde werk van lede en strukture uitgelig: “Ons boere wys daagliks hul veerkragtigheid te midde van moeilike omstandighede. Ons strukture op grondvlak is die ruggraat van TLU SA en maak dit moontlik om die stem van die boer helder en duidelik te laat hoor. Ons gaan voort om oplossings te soek, druk uit te oefen waar nodig en geleenthede te benut wat die boer en die land kan dien,” het Van Zyl gesê.
Hy het opnuut beklemtoon dat TLU SA nie net op probleemoplossing fokus nie, maar ook op langtermyn volhoubaarheid: “Ons wil hê dat boere moet kan werk, wins maak en met sekerheid beplan. Daarom sal ons nooit ophou om die belange van die boer te beskerm en ’n pad na vooruitgang oop te hou nie.”
Die kongres het afgesluit met die oorhandiging van toekennings aan lede wat uitstaande diens gelewer het. ’n Sterk oproep tot eenheid en samewerking onder boere het die dag gekenmerk, met die boodskap dat plaaslike krag werklik kan uitkring na globale geleenthede indien boere, gemeenskappe en vennote saamwerk.



