Vir ’n paar maande het dit nog gewerk om die departement van landbou en sy SOE’s se kragtige ideologiese stappe, wat nie strook met die DA se eie beleid en voorverkiesings-standpunte nie, as “spiergeheue” toe te skryf. Boere sien dit nou as ’n verskoning, soortgelyk aan die ANC se gewoonte om apartheid te blameer vir die ineenstorting van openbare dienste en verstokte korrupsie.
Geen van die belanghebbendes wat saam met die DA in 2022 die Landbou- en Agroverwerkingsmeesterplan (AAMP) gekritiseer het, is na die AAMP se Uitvoerende Oorsigvergadering op 7 Oktober in Stellenbosch uitgenooi nie.
TLU SA is wel weer uitgenooi nadat hulle by die 2022-ondertekeningsgeleentheid uitgesit is omdat hulle verduideliking gevra het oor die term “transformasie”, wat 92 keer in die Meesterplan voorkom.
Ses organisasies wat die AAMP verwerp het, naamlik SAAI, TLU SA, WRSA, die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika (NEASA), die LWO Werkgewersorganisasie en verbruikersorganisasies, het drie keer met die departement en SOE’s, asook met AAMP-ondertekenaars, vergader. Hulle het nege formele besware op tafel gesit. Nie een is aangespreek nie.
Dié organisasies glo hulle is doelbewus uitgesluit omdat hulle ANC-beleid kritiseer wat gegrond is op sosialistiese ideologie, die vals “gesteelde grond”- en “plaasarbeider-uitbuiting”-narratiewe, en onbereikbare sosiale-ingenieursdoelwitte soos die nuwe maatreëls in die Wet op Gelyke Indiensneming, die wetsontwerp oor onteiening sonder vergoeding, en nuwe regulasies oor sogenaamde “nepvleis” en plant- of inseksgebaseerde proteïenalternatiewe.
Niks het van die beloftes gekom om die wildbedryf in te sluit, of ten minste hulle insette in die AAMP te soek nie.
Getrou aan die ANC se ideologie en tradisie is vakbonde intiem betrokke by die ontwerp van die AAMP en word hulle spesifiek in die teks erken, maar geen werkgewersorganisasies is uitgenooi nie.
Die beswaarorganisasies hou vol dat standpunte wat onder ’n ANC-minister fundamenteel verkeerd was, nie skielik aanvaarbaar raak omdat die huidige minister uit die DA kom nie. Hulle bevraagteken ook die mandaat van die AAMP-ondertekenaars wat beweer hulle verteenwoordig boere.
“Dit is ’n landbou-meesterplan sonder boere,” sê dr. Theo de Jager van SAAI en Bennie van Zyl van TLU SA. “Daar is niks in daardie plan wat primêre produsente opgewonde maak nie.”
Hulle grootste beswaar is dat winsgewendheid, volhoubaarheid en doeltreffendheid in die waardekettings nie sinvol in die AAMP-teks aangespreek word nie.
“Transformasie kan nooit belangriker wees as winsgewendheid of volhoubaarheid nie. As transformasie bo volhoubaarheid verhef word, kry jy Eskom se beurtkrag-era of die huidige toestand van openbare gesondheidsorg. As dit bo winsgewendheid gestel word, eindig jy waar die SAUK en Denel vandag is,” voeg hulle by.
Die DA het hierdie standpunt in 2022 gesteun ná die gejaagde, voortydige ondertekening van die AAMP in die Parlement. Die ondergetekendes verwag dat minister John Steenhuisen by die DA se voorverkiesingsbeleid sal hou.



