Johan Kapp
Landbou-ekonoom
Die moderne boer in Suid-Afrika bevind hom in ’n uitdagende omgewing wat buitengewone eise aan hom stel. Hierdie stelling mag ’n geykte een wees met vele herhaling, maar bly ’n voldonge feit. Ons ken almal hierdie uitdagings en dit is nie die doel van my artikel om dit te herhaal nie.
Die sukses gedrewe boer sal egter gedryf word deur die soeke na uitnemendheid in sy onderneming. Hy kan nie anders nie, dit word van hom vereis indien hy finansiële sukses wil behaal. Vanuit hierdie perspektief wil ek graag my kennis en ervaring met boere deel op die gebied van finansiële prestasie van boerdery ondernemings in praktyk.
Wat is dan belangrik vir ’n boer om te weet of sy onderneming finansieel presteer? Hoe meet hy dit?
Eerstens moet die boer weet of sy onderneming wins maak, al dan nie. Maar hoe weet hy dit? Maak hy genoeg wins? Hoeveel is genoeg? Is hy tevrede indien hy belasting moet betaal dat sy onderneming wel finansieel presteer? Of is dit vir hom ’n skrale troos?
’n Goeie finansiële bestuursinlingting-stelsel wat vir hom die regte inligting op tyd kan voorsien is van uiterste belang wat aan die volgende moet voldoen:
- ’n Goed gefundeerde rekeningkundige stelsel wat aan rekeningkundige standaarde voldoen
- Die stelsel moet op enige tydstip vir die boer sy finansiële prestasie kan weergee oor enige periode. Boerderye se prestasie is gewoonlik seisoen gebonde en dit stem nie noodwendig saam met die finansiële of belastingjaar nie. Hier word gestreef om die “parings” beginsel na te streef om die uitgawes en inkomste van die belangrikste boerdery vertakkings te akkommodeer binne ’n 12 maande produksie periode.
- Boerdery inkomste berekening moet voorsiening maak vir die beweging in vee getalle en vee waardes teen eienaars waardasie en belasting waardes.
- Die eerste wins syfer moet dan uitgedruk word in Netto Boerdery Inkomste (NBI) wat die prestasie van die boerdery kan meet voor rente koste en huur betaal. Hierdie berekening is die heel belangrikste, om die prestasie van die boerdery te bepaal en kan vergelyk word met ’n bedryfswins in ander ondernemings.
- ’n Verdere vereiste aan so ’n stelsel is die vermoë om afdelings of vertakkings in die boerderye te kan meet.
- Die laaste vereiste is ’n veelvuldige begrotings fasiliteit wat ’n inkomste en uitgawe begroting kan integreer met ’n volledige finansieringsbeplanning, ingesluit kontantvloei, koöperasie-oeslenings en inset verskaffers wat die boer help om sy oeste te finansier.
Tweedens moet die boer sy kontantvloei kan meet en bestuur. Sekerlik een van die grootste uitdagings in ’n boerdery se finansiële bestuur! Hoe kan hy dit meet en homself posisioneer veral in ag geneem die vele risiko’s waaraan hy bloot gestel is? Die bekende vraag wat die boer sy rekenmeester kan vra nadat hy meegedeel is dat hy belasting moet betaal: “Hoe is dit moontlik dat ek ’n wins gemaak het? Wat het dan van die geld geword? Ek kan nie belasting betaal nie!”
In die volgende reeks van artikels gaan ek probeer om boere ’n kykie te gee in die wêreld van finansiële bestuur in praktyk.